ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Vind sielslafenis in tee

First published in Die Burger, October 2013

PrinsAlbert2

‘n Geurige koppie troos as jy sat voel en lus is vir niks meer as om geselsies te maak met ‘n teekoppie in jou hand nie. En ‘n soetkoekie om daarin te doop.

Die sigeuner van tee

Eers in ‘n turkoois sigeunerkaravaan, nou in die hartjie van Woodstock.

‘n Marokkaanse teepot met mentteeglasies wink jou na binne. By Lady Bonin’s Tea Parlour gaan sit jy kruisbeen op grofgeweefde sitkussings om ‘n beskilderde, lae houttafeltjie. Teen die muur hang verweerde tasse waarop fyn teekoppies uitgestal is.

By Lady Bonin word tee in 'n kommetjie uit 'n glasteepotjie bedien

Jessic Bonin raak liries oor tee, wat sy ‘n elikser noem. Sy het by haar ouma geleer om tee te waardeer, om ‘n geurige koppie tee te maak en allerhande ander geheimpies van tee.

In haar tee-boudoir maak sy haar eie unieke teevermengings.

Die eerste tee wat in ons Kommetjie geskink word, is Dragon Well-groentee. Dit is subtiel op die tong. Niks herinnner jou aan drake of putte nie, al is daar talle legendes oor hoe hierdie tee sy naam gekry het.

Die tweede tee is die sjampanje van tee, hoor ons. Dit het ‘n musikale naam wat van jou tong afrol: Darjeeling. Laastens volg ‘n vrugtige vermenging: hibiskus, framboos, gedroogde appel en narsing. Die bestanddele gee jou immuniteit ‘n hupstoot, maar ons drink dit sommer vir die lekker.

 

Lady Bonin bedien net rou kos (deesdae ‘n tendens). ‘n Skyf rou pizza is verbasend lekker: Die basis is lynsaad en ‘n hawermengsel, bo-op is avokadopeer, tamatie en pesto. Die Florentynse koekies is gegeur met vye en rooswater. Die kaaskooek het ‘n neutonderlaag en is met pynappel gegeur.

Dalk word Lady Bonin se sigeunerwoonwa hierdie somer weer êrens getrek. As jy ‘n borrelgomblou karavaan bespeur met vlaggies wat langs die kant wapper, gaan maak kennis.

Binne word nie teeblare gelees of in kristalballe gestaar nie, maar dis waar jy meer van tee leer as wat jy ooit kon droom.

  • Lees meer by ladybonin.com of besoek Lady Bonin by die Woodstock-nywerheidsentrum, Albertstraat 66, Woodstock.

Teeserviese in Tulbagh

Loer gou by Het Land van Waveren Tuisnywerheid knap agter Things I Love in voor jy gaan tee drink

As jy nie by jou ouma(-grootjie) ‘n teeservies geërf het nie, kan jy by Things I Love ‘n teestel van doerie tyd kies. Van hoek tot kant teen die hele agtermuur begroet koppies en pierings, koekbordjies en tuitteepotte uit hul These Foolish Things-versameling jou.

Daar is Art Deco-melkbekertjies, deftige Victoriaanse teestelle, teekoppies met fyn blommetjies of dun strepies, eens geliefde koppies met windbarsies en trousseau-suikerpotjies wat vir die mooi uitgestal word.

Teekoppies is nie net vir tee nie

Sousbekertjies, koffiebekers van Harrods, porselein-groenteskottels en muurhorlosies staan tussen silwerteepotte. Dekadente gevulde pannekoeke met gekaramelliseerde vrugte, kaaskoek, suurlemoenskuimtert, Belgiese sjokolademoussekoek en appelkrummeltert word saam met verskeie soorte  tee bedien.

Maak ‘n draai by die deli-yskaste. Paddagang se sjerrie, hul gefortifiseerde rooiwyn genaamd Brulpadda en hul boetiekbrandewyn, Paddapoleon, staan ook op die rak.

  • Besoek Things I Love by Van Der Stelstraat 61, Tulbagh.

Leave a comment

Information

This entry was posted on August 9, 2017 by in Afrikaans foodies and tagged .