ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

KINDERS MOENIE IN DIE WATER MORS NIE

First published in Die Burger, February 2015

20181204_110707

By Fish Eagle River Lodge net buite Hermon is daar kampplek nét vir grootmense. So word dit ook onbeskaamd geadverteer.

Nie almal hou mos van jillende, gillende spruite wat balgooi, bollemakiesie slaan en met mekaar stoei nie.

Net soos die ou FAK-liedjie gelui het, moet kinders nie in die water mors nie, want die oumense wil dit drink. Hier is dit eerder ‘n geval van ‘oumense’ wat wil swem, rus en ontspan sonder om gesteur te word.

Daar’s ook ander sinvolle redes vir hierdie besluit wat so net oor ‘n jaar gelede deur Steve en Kay Mapstone gemaak is toe hulle besluit het om buiten die plaasbedrywighede en die gastehuis, ook kampeerfasiliteite beskikbaar te maak.

Aangesien Fish Eagle River Lodge se kampplekke óp die rivier is, is dit maar ‘n kopkrapper om seker te maak dat klein(er) kinders (onder agtien) veilig is. Dis per slot van sake nie slegs die ouers se verantwoordelikheid nie.

‘n Verdere motivering is die noodsaaklikheid van onaantreklike waarskuwingsborde sou dit ‘n kindervriendelike kampplek gewees het. Al wat jy nou sien, is die rivier reg voor jou en wingerde en koringlande aan die oorkant. Die dynserige Elandskloof-berge is aan die een kant sigbaar; die Porseleinberge aan die ander kant.

Fish Eagle River Lodge is vernoem na twee visarend-broeipare wat op die Bergrivier nesgemaak het.

Die gastehuis en kampplek is op ‘n werkende olyf- en wingerdplaas waar die dag tot dag se boerdery-aktiwiteite soos gewoonlik voortgaan terwyl jy ontspan of die geleentheid gebruik om op die plaas te gaan stap of fietsry.

Dis die enigste kampeerfasiliteit in die immergewilde Riebeekvallei wat andersins oorloop van gastehuise en kothuise te huur.

Tog is daar redelik gereeld ‘n tekort aan blyplek in die einste vallei – tydens een van hul gereelde feeste soos die Olyffees en die Swartland Revolution, en veral die Bergrivier Kanoemarathon – of omdat die pragtige vallei baie populêr vir sprokiesmooi troues is.

Steve Mapstone vertel dat hulle self nie voorsien het dat hulle so gewild onder huweliksgaste sou wees nie. Veral die jongklomp slaan een-twee-drie ‘n klein tentjie op, trek fênsie klere aan en begeef hul na een van die verskeie trouvenues. Laataand val hul pê gekuier neer sonder dat dit hul ‘n kleinhuisie vol geld gekos het om oor te bly.

Sommige huweliksgaste maak ook van die gastehuis – bed-en-ontbyt of selfsorg – gebruik. Ontbyt word op die stoep met sy wonderlike uitsig bedien.

Dis allesbehalwe net onthaal-uithalers wat hier vir een aand kom kleim afsteek.

Die rustigheid, die landskap, die groen gras, die oewers van die Bergrivier, die uitsig – alles span saam om vir ‘n ideale wegbreek van die stad(slewe) te sorg. En dit sonder dat jy vreeslik ver hoef te ry – Fish Eagle River Lodge is knap buite Hermon.

Elke staanplek het elektrisiteit, vars water en braaifasiliteite word verskaf. Daar’s ‘n klein, netjiese ablusieblok en opwasgeriewe.

Voëlkykers kan hul oë oophou vir bloukraanvoëls, kolganse en dan natuurlik visarende.

Sou jy tussen vuur aansteek en rivierswem lus wees vir stimulasie van ‘n ander aard, kan jy ‘n dop in die Hermon Hotel gaan drink. In een hoek staan ‘n doodskis. Maak jouself skrik deur die deksel op te lig. En onwillekeurig terug te deins.

Dis so wragtie PW Botha se gesig wat jou in die gesig staar. As jy lank genoeg hier vashaak, kan jy jouself verbeel dat PW sy wysvinger voor jou neus rondswaai. Dis jou eie indaba as die nagmerries jou later die nag bloots ry.

In Riebeek Kasteel – en in mindere mate in Riebeek-Wes – is daar oorgenoeg uitstekende restaurante, kuierkroegies, en snuisterywinkels vir inkopieslawe om afleiding te bied.

Besoek ook Allesverloren, die oudste wynlandgoed in die Swartland, vir wynproe. Hul restaurant, Pleasant Pheasant, is elke dag oop vir middagete en oor naweke ook vir aandete. By Kloovenburg kan jy wyn én olywe proe en aanskaf.

Wat jy nog van Fish Eagle River Lodge wil weet:
·        Dis 45 minute se ry van Kaapstad, 5 minute van Riebeek-Kasteel en 10 minute van Wellington. Vanselfsprekend is Paarl, Stellenbosch en Tulbagh ook lekker naby.
·        Dit kos R100 per staanplek. Kinders onder 18 jaar word nie toegelaat nie.
·        Skakel 022 448 1188 of 072 618 3847; of e-pos info@fisheagleriverlodge.co.za
·        Loer na hul webtuiste by www.fisheagleriverlodge.co.za
·        Tans word daar flink besprekings vir die Riebeekvallei Olyffees op 1 – 3 Mei 2015 gemaak en daar is beperkte staanplek oor; moet dus nie op jou laat wag as dit op jou sosiale kalender is nie.

2 comments on “KINDERS MOENIE IN DIE WATER MORS NIE

  1. vuurklip
    December 4, 2018

    … kinders nie in die water mors nie, want die oumense GOOI DIT BY!!

  2. ilsez
    December 5, 2018

    Ha ha haaa!

Leave a comment

Information

This entry was posted on December 4, 2018 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .