ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

‘n Kroeg wat jou terugneem na die Sowjet-Unie

First published in Rapport, July 2022

Verf die stad rooi!

Dis die jaar 2000. Google en Tripadvisor is nog op niemand se reisradar nie.

As deel van my reisbeplanning snuffel ek deur my boks met reisnotas van Oos-Europa en kom op ‘n uitknipsel van Barry Ronge, rubriekskrywer en rolprentresensent, af.

Met sy vlymskerp humor beskryf hy ‘n restaurantkroeg, Marxim, in die agterstraatjies van Boedapest, Hongarye – hoe dit lyk en hoe dit tot stand gekom het.

Maak soos Marxim

Ek lees dat toe die Sowjet-oorheersers hul sakke gepak en padgegee het, die Hongare so gou as moontlik die spore van dié kommuniste probeer doodvee het.

Die eienaars van Marxim kon dus van die amptelike standbeelde, portrette en gedenkbeelde van die selfvoldane apparatsjiks vir ‘n appel en ‘n ei in die hande kry en met ‘n tong-in-die-kies benadering in hul drinkplek uitstal.

Soos Barry in sy kenmerkende skreeusnaakse dog informatiewe styl opmerk “kon hulle hul verlustig daarin hoe die bloedsuiers van ‘n mislukte ideologie, in dekorrekwisiete omskep word, boonop in ‘n funksionerende kapitaalonderneming”.

Wat hy by Marxim gesien het, het hom laat wonder wat van soortgelyke items uit die apartheidsera geword het.

Barry mymer verder in sy rubriek wat destyds in ‘n Engelstalige Sondagkoerant verskyn het: “Sal dit nie wonderlik wees as sulke items in ‘n Suid-Afrikaanse  vermaaklikheidsplek – sê nou maar ‘n kroeg met die naam Verwoerd’s – ingespan word nie?” Hy kon homself net indink hoe memorabilia van John Vorster, voormalige Eerste Minister en president van Suid-Afrika, in só ‘n kroeg sou inpas.

Sy verbeelding begin galop: “Natuurlik sal dit ‘n kroeg vir ‘Slegs Blankes’ wees. Dit sal egter beteken dat slegs witspiritusdrankies soos vodka, jenewer… en witblits asook witwyne en witport bedien word.” Dink so daaraan… reg onder die neus van Oom Hendrik sit die reënboognasie van Suid-Afrika, elkeen aan’t teug aan hul verkose drankie.

Barry hou nie terug nie: “Dalk kan ‘n skemerkelkie wat dompas genoem word, slegs vóór nege in die aand, bedien word.” En, “die kerse en deurknoppe sowel as die toilethandvatsels” kan “lewensgrootte replika’s van (PW Botha se) berugte Rubikon-vinger” wees.

Soek en jy sal vind

Ek móés net eenvoudig gaan kyk hoe Marxim daar uitsien, het ek my nog voor ek uit Suid-Afrika vertrek het, voorgeneem na ek Barry se rubriek met groot lekkerkry gelees het.

Daar gekom het dit omtrent ‘n soektog afgegee. In die rubriek is net die naam van die kroegrestaurant genoem. Daar was geen ander leidraad behalwe die beskrywing van die binnekant nie.

Saam met ‘n vriendin wat destyds in Budapest gewoon het, in Marxim

Met die hulp van ‘n vriendin wat daar woon wat goedgunstelik verskeie oproepe gemaak het en straatjies op en af gery het, het ons die plek – tot my groot vreugde – gevind.

Ek en my reismaat Phoebe het ons verkneukel in ‘n skildery van Lenin waar dit lyk of hy ‘n pajamabroek aanhet. En nie waar nie, maar op die toiletdeur!

Al die graffiti op die mure was in swart en rooi. Doringdraad het net onder die plafon bo ons koppe verbygekronkel. Orals was plakkate en muurskilderye wat die Eerste Wêreldoorlog uitbeeld.

Twee hande wat aan tronktralies klou en kamma bloedbesmeerde mure was ietwat te grillerig vir ons.

Beleef Boedapest

Boedapest is ‘n stad wat oorloop van historiese gedenkwaardighede: die Hongaarse parlement, een van die mooistes ter wêreld, die Kettingbrug oor die Donau-rivier, van Europa se oudste spa’s en publieke baddens, die Sentrale Marksaal waar vars- en deliprodukte verkoop word en die Buda-kasteel en Vissermansbastion-monument op die heuwel van Buda (Boedapest bestaan uit twee dele naamlik Buda en Pest).

Vir ons twee Suid-Afrikaners was Marxim egter een van die hoogtepunte omdat dit geïllustreer het hoe (sommige van) die Hongare die moeilike tye wat hulle onder die Sowjet-regeerders beleef het, op ‘n klein, maar pertinente manier by wyse van spreke omgekeer het. Dis asof hulle gesê het: Kom ons sit dit wat met ons gebeur het, agter ons, en ons kyk vorentoe, hoewel dit nie beteken dat ons dit vergeet het nie.

Dankie, Barry Ronge, dis maar een manier hoe ek jou sal onthou.

Maak ‘n draai by Marxim

Marxim doen steeds flink besigheid, meer as 20 jaar later. As jy jou perdalks in Boedapest bevind, gaan maak ‘n draai en geniet ‘n pizza met name soos Sneeuwitjie en die Proletariërs – en plaaslike bier. Gebruik Google Translate om die Hongaarse spyskaart te vertaal.

Kisrokusstraat 23, Boedapest 1024

marxim.hu

2 comments on “‘n Kroeg wat jou terugneem na die Sowjet-Unie

  1. Karin
    September 8, 2023

    Jammer Ilse…die Z is toe in jou van en nie jou naam nie. Xx

    • ilsez
      January 27, 2024

      Geen probleem, Karin. Ek word gereeld Elise of Lise of Lize of wat-ook-al genoem. No sweat!

Leave a comment

Information

This entry was posted on September 2, 2023 by in Europa.