ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

NAPIER – COOL DORPENAARS EET MEER AS PATAT/DIE KROEG EN DIE KERK IS NEFFENS MEKAAR

First published in Die Burger, August 2011

Tot en met die tagtigerjare – as ek nou so rofweg moet skat – was Napier die lelike eendjie van die Overberg. Toe ontpop Napier.

Die res is geskiedenis. Napier is steeds die ín-plek vir ‘n naweekwegbreek of om ‘n huisie te koop. Pryse is net nie meer soos in die lelike eendjie-dae nie.

Daarmee saam is daar nou ‘n paar plekkies om lekker te eet of aangenaam aangeklam te raak. Daar’s naweekmarkte, daar’s die Voet van Afrika-marathon, daar’s ‘n jaarlikse Patatfees.

In die ou dae wou Bredasdorpers nie met Napierdorpers meng nie. Deesdae is die Napierdorpers die koel ouens (en vrouens) van die Overberg. Van die ouer garde is wel min oor – en kan jy nou meer – daar is meer Engelssprekendes as Afrikaanses op die dorp. Dit hoor jy op ‘n gewone naweek as jy by een van die vele tafels vir middagete aansit. Of  as jy in die breë hoofstraat – waarin ‘n ossewa sou kon draai – afstap.

OM TE PATAT OF NIE TE PATAT NIE

Doerie jare gelede is daar gespot met Napierdorpers wat patat-eters is. Dié wat nog lewe wat die onvaspaste grappies kan onthou, kyk nou lelik op hul neus. Napier se Patatfees lok elke winter meer mense. Behalwe patatgeregte op spyskaarte, is daar kraampies; ‘n veteraanmotoroptog (met ‘n trekker of ses tussenin); ‘n kunsroete; Miss Napier en Mejuffrou Patatrankie word aangewys; ‘n marathon word gehardloop en bergfietse word gery; die mooiste tuine is oop vir besoekers; ‘n brouerytoer; en les bes, daar word tougetrek en in sakresies sowel as eier-en-lepel resies meegeding.

Hierdie jaar was daar regdeur die dorp lewensgrootte opgestopte voëlverskrikkers, maar hierdie spulletjie was nie in die boere se landerye nie. Aan die Kaapse kant van die dorp het ‘n tuinier gehurk; op stoepe het hul gesitlê en aan die ander kant van die dorp was daar ‘n lewensgetroue – weliswaar slegs op ‘n afstand beskou – trêffiekop, so ewe met ‘n kamera op sy skoot. Menige motoris het verwoed remme aangeslaan voor daar met ‘n ietwat skaapagtige uitdrukking besef is dat dit een van die voëlverskrikkers is.

NIE NET PATATS NIE

As dit by gastronomie kom, is Napier amper ‘n Franschhoek in die kleine. Nie sover dit fênsie cuisine aangaan nie, maar met goeie trooskos met flair.

Plekkies kom en gaan soos dit maar in klein dorpies gebeur. Dit beteken egter nie daar’s ‘n tekort aan ‘n paar staatmakers nie. Die dorpie spog sommer met twee bakkers. Die Franse bakker van Bonjour Patisserie verskaf kaneelcroissants en appeltert  – of wat ook al na gelang van watter gier hom ookal pak – aan die Napier Plaasstal en Restaurant. Hier is swartpan-ontbyte, botterskorsiesop waarin jou lepel regop kan staan en afval met rys. Hier koop jy ook die beste wegneem-pasteie in die Wes-Kaap asook plaasbrood.

By Mike’s Bread and Pie Shop is ook ‘n wye verskeidenheid gebak beskikbaar waaronder dadelskons. Mike het by ‘n Oostenrykse bakker leer bak.

Pascal’s –eens die plek van Daniele Pascal –  spog  met nuwe eienaars en hul swart kat heet nou Pascal. Hier het die kos en die voorbarige kat houding. Knoffelslakke kry deeghoedjies vir ekstra oemf op jou bord.

Pascal's se swart kat slaap eerder binne as op die stoep

Drie kilometer buite Napier op ‘n werkende soetpatatplaas is The Red Windmill. In ‘n ou Kaaps-Hollandse plaashuis – wat al jare wag om tot sy reg te kom – is vier nuwe ondernemings. Dave van Dave’s Country Kitchen is nie ‘n onbekende in die distrik nie en sy drumpel gaan ongetwyfeld deurgetrap word. Behalwe ‘n kwekery is daar ook Vintage met klere, juweliersware en skoene wat in ‘n aantrekhokkie van gedrapeerde sari’s aangepas kan word; en Cool Beans vir gelukspakkies, drop en allerhande kindergoed.

The Red Windmill is the place to go for a bunny chow in the Overberg

DIE BARBIER VAN NAPIER

Uit my kinderdae onthou ek nog Oom Koos Dwerg – hy was ‘n storieverteller van formaat – se winkel met sy breë gepoleerde toonbank en sy oorvol rakke en dan natuurlik die reuse kênfroet flesse met gekleurde lekkers. En streepsuikerkieries. Vóór Oom Koos was dit sy pa se plek waar hy waens gemaak het. En ná Oom Koos het sy seun, Piet, ‘n drankwinkel in die gebou bedryf.

Hier’s ‘n Neels wat die Barbier van Napier is. Kompleet met ‘n rooi en wit gestreepte paal – soos daai streepsuikerkieries – voor sy huis. ‘n Paar dekades gelede was Jan Barber die man wat hare geskeer het; hy’t Peppermint Crisps ook verkoop dus wou al die kinders  saam met hul pa’s gaan sodat hulle ‘n pasella sjok kon kry.

Die nuweling Riek Creative het onlangs deure oopgemaak. Waar eens ou hout- en glaskaste in die ou skoenmaker se huis cum werksplek was, word nou beeldhouwerk, skilderye, keramiek, funksionele kuns en ‘n Lucky Star koffietafel met geskubde visse binne-in, uitgestal. Die sandtuintjie word deur die dag gehark en jy stap op trapklippe daardeur na die werkswinkel langsaan.

Jou ma se voet in 'n visblik

In die tyd van oom Jan Theart se skoenwinkel het selfs die Karoo-boere hiernatoe gery om spiekeries skoene te laat maak wat die Napierse meisies sou beïndruk. Napier is een van die min (sommige meen daar is net drie) dorpe in Suid-Afrika waar die kroeg en die kerk langs mekaar is. Weliswaar geskei deur ‘n straatjie.

As jy van die Kaapse kant ingery kom, moet jy solank liggies rem trap. ‘n Vier-stop wag jou in. Op regterkant sit die Moerse Plaasstal. Die borde wat sê “Warm Sexy Brode” en “moerse” dit en dat is al afgesaag vir diegene wat gereeld hierlangs kom, maar dit lok steeds mense wat hier ‘n foto wil neem. Dalk moet die “moerse” nie ook nog by elke groet ingewerk word nie. Die kafeehond, ‘n Great Dane, maak darem op daarvoor.

Vóór jy oor die stopstraat ry, sit daar ‘n Britse pub. ‘n Kroeg is dit nie; dit lyk selfs ietwat onvanpas, maar dit beteken nie dat jy nie dadelik voel na inloop vir iets om die langpad-dors te les nie. Druk jou ore toe vir al die skinderstories wat ongevraagd aan jou vertel word en konsentreer op die skuim in jou bierbeker.

Napier spog met sy eie brouery waar Napier Ale gemaak word; ‘n klavierstemmer geregistreer by die Randy Potter School of Piano Technology in Brittanje; iemand wat antieke meubels restoureer; ‘n oefenateljee; ‘n speelgoedmuseum en ‘n kruiesmous. Boek dus sommer nou ‘n naweek.

TERWYL JY NOU GAAN:
Bestel organiese groente en ander eetgoed by:  www.thedrift.co.za
Jy kan selfs in ‘n ou skoolgebou op Napier aftree:  www.napiervillage.co.za
Lees: Village Post – as jy jou besoek geniet het, kan jy ‘n spreekwoordelike ruiker stuur; indien nie, kan jy ‘n spreekwoordelike miskoek stuur
Jean Daneel Wyne word as die eerste wynmakery in Napier bemark: www.jdwines.co.za
As jy lus is om op ‘n plaas te oornag: gaan na www.taim-go-loer.co.za of doen navrae by die Napier Plaasstal en Restaurant
As jy lief is vir skaakspeel, besoek: Napier All Sorts wat ook militaria uitstal en verkoop
Lees nog meer by:  www.theoverberg.com

Leave a comment

Information

This entry was posted on April 18, 2017 by in Oral(s) in die Overberg and tagged .