First published in Rapport, May 2020
Die Engelse digter-filosoof Samuel Taylor Coleridge het geskryf: “As jy jouself in ‘n droom in die paradys bevind en ‘n blom in die hand gestop word as ‘n gelofte dat jou siel regtig daar was, en jy vind dieselfde blom in jou hand as jy wakker word – ai, wat dan?”
Dit is een van die aanhalings wat jy met die instap by The Museum of Innocence in die Çukurcuma-buurt in Istanbul, Turkye lees.
Dié museum is geskoei op die gelyknamige roman van die Turkse skrywer, Orhan Pamuk. Hy het self verklaar dat dit vir hom gevoel het of ‘n djin (‘n bonatuurlike wese uit die Arabiese/Islamitiese mitologie) hom geïnspireer het om die museum tot stand te bring.
Dis nie net die idee van ‘n museum wat die storie van ‘n roman uitbeeld wat ongewoon is nie; hóé dit uitgebeeld word is óók buitengewoon en plek-plek eienaardig daarby.
The Museum of Innocence is van hoek tot kant vol met kabinette van kuriositeite.
Kabinette vir nuuskierige agies
Kabinette van kuriositeite (of van natuurgeskiedenis) was oorspronklik vertrekke waar die private versamelings van diegene wat in die 1500’s genoeg geld gehad het om te reis, uitgestal is. Mettertyd is hierdie spoggerige reisaandenkings in houtkabinette, eerder as kamers, vertoon.
Gewilde kuriositeite of nuuskierighede het die volgende ingesluit: opgestopte gevogeltes, dierehorings, -geraamtes, -beendere of -skedels, fossielklippe, skulpe, vere, krale, muntstukke, stukkies edelmetaal, porseleinskerwe, en gedroogde plante of blomme. Enigiets wat as vreemd of skaars beskou is, het versamelwaarde gehad.
Gewetenlose versamelaars het met “meerminne” in hul versameling gespog: dit was in werklikheid apielyfies waarin visvinne en –skubbe vasgewerk is!
Nuuskierigheid se neus is in die deur afgeknyp
Die beroemde (en berugte) reisskrywer, Bruce Chatwin (1940-1989) het daarvan gehou om te vertel hoe sy ouma se glaskabinet hom as kind só geïnspireer het dat hy geweet het hy wou eendag reis.
In sy ouma se kabinet van kuriositeite was ‘n stukkie vel. As kind het sy ouma en sy ma aan hom vertel dat dié piepklein stukkie vel van ‘n brontosourus (of ‘n reuseluidier afhangende van watter weergawe jy glo) afkomstig was. Die storie het gelui dat ‘n neef van hom 100 jaar gelede die velletjie huis toe gestuur het. Die einste neef het in ‘n skeepsramp in die Straat van Magellaan aan die suidpunt van Suid-Amerika omgekom.
Dié vertelling is ook die openingsparagraaf in Chatwin se boek, In Patagonia. Hy is juis na Amerika om sy “eie brontosourusvelletjie” te gaan soek.
Of enigiets hiervan waar is of nie, sal ons nie weet nie. Mettertyd het publiseerders en lesers agtergekom dat Chatwin homself gereeld skuldig daaraan gemaak het dat hy ervarings in sy boeke of uit sy persoonlike lewe aandik of pleinweg opmaak.
‘n Sigaretgordyn en ‘n ou frikkadel
Orhan Pamuk se roman, The Museum of Innocence, is só geloofwaardig geskryf dat ‘n mens amper nie kan glo dat dit ‘n hersenskim is nie. Dit laat jóú voel asof jy ‘n blom uit die paradys, waar jy netnou nog was, vashou.
‘n Besoek aan die museum laat jou nog meer verward. Kan dit dan wees…?
The Museum of Innocence vertel die storie van ‘n ouer man, Kemal, wat op ‘n jong vrou, Fusun, verlief raak. Eintlik is hy obsessief oor haar. Weens sy obsessiwiteit maak hy alles bymekaar wat haar aan hom herinner.
Hy gaps die sout-en-peperpotjies op haar ouers se tafel tydens aandete, hy kry een van haar haarkamme in die hande, ‘n teelepel wat op die grond val vind sy pad na sy broeksak, hy lê ‘n botteltjie parfuum vas, hy bêre ‘n buskaartjie sorgvuldig.
Dít alles – en nog veel meer – is in 83 kabinette van kuriositeite in The Museum of Innocence uitgestal. Eintlik is die hele museum ‘n reusekuriositeitskabinet!
The Museum of Innocence is in ‘n 19de- eeuse huis in ‘n keisteenstraatjie in ‘n stil buurt aan die Europese kant van Istanbul.
Die eerste ding wat jy sien as jy die drumpel betree is ‘n gordyn van sigarette. Oftewel sigaretstompies.
Elke sigaret is genommer. Daar is 4213 stompies wat Fusun kwansuis gerook het. Die lipstiffiebesmeerde stompies hang in rye aan dun, amper onsigbare draadjies.
Op die drie verdiepings van die huis waar Fusun veronderstel was om te gewoon het, is meer as eenduisend items uitgestal.
Daar is kabinette met vergeelde foto’s, vuurhoutjiedosies, plastiekvrugte en ‘n glas met tandeborsels op ‘n lysie bokant ‘n emaljewasbak. Daar is ‘n swart porseleinhond, likeurkraffie, uitgetrapte skoen, skeerkwas, sonbril, modieuse handsak, geblomde sakdoekie en polvyskoen.
Langs ‘n teekoppie pryk die verduideliking: “Somtyds het die koppie in die piering gerinkel as die bure onverwags hul deur toegeslaan het.”
Langs ‘n dooie kakkerlak staan: “Partykeer het ek ‘n kakkerlak oor die kombuisvloer sien skarrel.”
‘n Nagemaakte mossel in ‘n halfskulp verklap wat vir aandete bedien is. ‘n Uitgedroogde frikkadel het my onbedaarlik laat giggel toe ek lees: “Soms het tannie Nesibe (Fusun se ma) gevra wie die laaste frikkadel gaan eet.”
Dis bisar; dis fassinerend. Dis die moeite werd om te besoek!
Jy hoef nie die boek te gelees het om ‘n besoek aan die museum te regverdig nie.
***
Wat sou jý in jou eie kabinet van kuriositeite pak om die Covid-19-inperking uit te beeld?
Net die tyd sal leer wat die toekoms inhou. Oor ‘n paar jaar gaan ons almal vir mekaar vra waar was jy toe almal ingeperk was. Ons gaan stories deel van hoe ons onsself besig gehou het.
Het jy al daaraan gedink om jou eie kuriositeitskabinet wat die inperking uitbeeld, te skep?
Wat van ‘n rak met die boeke wat jy tydens die inperking gelees het? Die dagboek waarin jy jou gedagtes neergepen het?
‘n Rak met doen-dit-self projekte, breiwerk of hekelwerk wat jy aangepak het?
Het jy boekgehou van die resepte wat jy uitprobeer het?
Les bes, ‘n stukkie uitgedroogde piesangbrood? Of wat van ‘n verdorde frikkadel?!
Recent Comments