ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

HOESIT, MUIZENBERG!

First published in Die Burger, October 2011

Muizenberg is die lelike eendjie van die hierdie kant van die Valsbaai-kus. Die meeste dagbesoekers ry deur Muizenberg, maar eintlik maar net om by Kalkbaai en Simonstad uit te kom.

Muizenberg met sy Art Deco wonings verdien meer akkolades. Jy kan maar hier vertoef – ja, selfs vir ‘n hele naweek. Dis eintlik ‘n kief plek dié.

Sekere dele van Muizenberg het wel wasgoed wat op balkonne hang, verf wat afdop – dis al verby die afskilder-stadium – en geboue wat plein sleg lyk. Hier en daar hang ‘n Nigeriese dealer of twee rond.

Maar dan is daar Knead wat ‘n elegante ou gebou omskep het en waar die groot, oop ruimte met die hoë plafonne die geroesemoes van stemme absorbeer, maar nie heeltemal nie sodat die vibe van die plek in die lug vibreer.Bonkige pilare is nou bedek met blokkies spieëlteëltjies en die vloer is groot swart-en-wit blokteëls. Voor drink jy Tribeca koffie en eet suurdeegtoebroodjies of pizza. Agtertoe is ‘n Roxy-winkel in kontras met die eens verbleikte grandeur van die voorkant, maar hei, dit werk.

Muizenberg is laidback en die Muizenbergers – nie net die branderplankryers nie – het hul eie taal. Dis Afrikaans deurspek met Engels en gegeur met nuutskeppings wat op straat ontstaan het. Almal is dudes of tjerries. Of lyk of hulle moet wees. En noem mekaar bru.

Kyk bietjie die mense uit. Grys poniesterte. Verbleikte boheemse klere. Kleure wat bots omdat dit koel is. Doc Marten-stewels uit die tagtigs. Hekelhandsakke – wat Ouma nog gemaak het. Dis ‘n plek vir hippies wat hippies wou bly, en vir bergies met hul gekruide uitdrukkings wat kies om deel van die Muizenberg-vibe te wees.

Weerskante van Knead is geboue wat aan Miami se roomyskleur-geboue herinner. Tegelykertyd hoekig en met geronde lyne. Geometries en liniêer, maar tog sag op die oog. Vertikale lysies en ander argitektoniese detail is eerder dekoratief as funksioneel.

Hierdie deel van die baai is al vir jare der jare die Surfer’s Corner van Muizenberg. Party kla die water is te vuil; ander praat in gedempte stemme oor die haaie wat hulle al gesien – of dink hul gesien – het, maar jonk en oud durf hier die branders aan. Gary’s Surf School bestaan al sedert 1989 en hulle word gereeld geskakel sodat hulle by die venster kan uitkyk hoe die branders lyk en terugvoering kan gee.

Selfs George Bernard Shaw het in 1932 op 75-jarige leeftyd hier probeer branderplankry. Baie dae sien jy nog ‘n ou Kombi of twee hier geparkeer. Ietwat geroes en hulle trek met sulke ongesonde dreuninge weg. Nader aan Sunrise-verkeersirkel beoefen die vlieërskiërs hul sport.

Na ‘n goeie sessie in d water, drentel hulle die Empire Café binne. Ontbyt-opsies is gepas vir moeë branderplankryers en hul aanhangers wat in die wind op die strand gewag het. Hulle rave oor die koffie en daar’s Lady Bonin tee wat die koningin sal tevrede stel. Muizenberg was mos juis die enklawe van die Engelse wat in 1795 die Nederlanders in hul dinges geskiet het.

Op die geskiedkundige roete – wat jy sommer vinnig in ‘n paar uur kan doen – is die presiese plek van die Slag van Muizenberg gemerk en kan jy in jou verbeelding die gebeure probeer rekonstrueer. Ook deel van die roete is die nuut-gerestoureerde Casa Labia Museum met sy Venesiaanse dekor, die afgeskeepte polisie-museum, die ou Het Posthuys en laastens Rhodes Cottage Museum (waar Cecil John Rhodes gesterf het) waar St James so naastenby begin.

Skep asem by die Italiaanse Casa Labia Café, waar alles heerlik  is en jy jou kan verkyk aan die interior van die Natale Labia soos dit voorheen bekend was. Loer in by die kunsgalery en die Afrika-nova boetiekwinkel. Neem ‘n pamflet saam sodat jy kan sien wat hul ook opdis – tekenklasse, Henry Die Pianis wat sy talent op die vleuelklavier demonstreer, opkomende kunsuitstallings en meer.

Aandete by kerslig by Carla's

Neffens die Empire Café is Carla’s. Daar’s net vyf tafeltjies en jy gaan ver soek om iets meer knus te kry. Hier eet jy veral steak of garnale. Carla is nie op haar mond geval nie – oor die telefoon sê sy prontuit: “I make the best prawns in Cape Town.” En haar prawns is besonder goed – net jammer sy het nie aan ‘n versoek vir peri-peri gehoor gegee nie. Veral aangesien sy Portugees-Mosambieks kook.

Carla gee aan niks gehoor nie – sy’s op haar eie missie en sy sê dit ook sommer vir jou. Of gee jou ‘n kýk wat jou op jou plek moet sit omdat jy vir iets vra of iets sê wat haar nie aanstaan nie. Moenie dat dit jou afskrik nie.

Muizenberg se ou stasiegebou is ‘n statige ou dame wat ‘n mens ‘n knop in die keel gee. Dis sekerlik die mooiste gebou in die hele Muizenberg en hoewel dit nie heeltemal vervalle is nie, is dit totaal onderbenut en as dit reg bestuur word, kan dit een van die grootste aantrekkingskragte in die voorstad wees.

Muizenberg het nou wel nie al die trendy winkeltjies wat Kalkbaai kenmerk nie, maar daar’s oorgenoeg snuffelplekkies. Dit voel of daar elke paar blokke ‘n branderplankwinkel is. In Yorkstraat wat maar net die breedte van ‘n blok is, is ‘n tweedehandse boekwinkel skuins oorkant Carla’s. Om die hoek in die hoofstraat is ‘n antiekwinkel waarvan die voorraad van die vloer tot die plafon strek. Sodra dit by die betaalslag kom, gee die eienaar jou spontaan ‘n paar rand af en as die luiperdmotief-hoedeboks se knippie nie reg werk nie, maak hy dit sommer ongevraagd vir jou reg.

Soos jy by Surfer’s Corner inry, sien jy aan jou regterkant ‘n outydse kafee-naambord van vergange se dae. Majestic Café se krulletjies lyk Victoriaans en jy wonder instinktief wanneer laas jy so ‘n hoekkafee gesien het. Aan Albertynstraat se kant van Muizenberg is ‘n paar snuffelplekkies waarvan min mense weet – en dis ook hier by die Village Inn waar die ou Muizenbergers Vrydagaande bymekaarkom om biljart te speel en die week se nuus op te vang.

Waar die inwoners van Muizenberg vroeër moes ry om iets in een van die buur-voorstede te doen, kan hulle nou op Vrydagaande stap na die Bluebird Garage-mark en musiek luister, wyn drink en iets moois of eetbaars in hul inkopiemandjies pak. Sondae-oggende kan jy ontbyt eet, vriende ontmoet en geskenke uitsoek by die mark in die ou poskantoor. By altwee bymekaarkomplekke hoor jy die locals skinder oor die Peppermint Slum.

TJIL IN MUIZENBERG

Bly oor by: www.blue-bottle.co.za

Dres op en gaan na: www.casalabia.co.za

Soek The Village Inn op Facebook en sluit aan

Besluit vooraf wat om te bestel by: www.kneadbakery.co.za of www.empirecafe.co.za

Pak in: Tabasco vir daai garnale by Carla’s

As jy dalk wil leer branderplankry: www.garysurf.com

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on June 13, 2017 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .