ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Een twee drie – dis Hermanus dié

First published in Die Burger, November 2018

(Since this article has been published some details might have changed)

Kom kuier op Hermanus: ‘n Kaleidoskoop van smake vir smulpape

Hermanus is en blý een van die gewildste toeristebestemmings – onder binnelandse en buitelandse reisigers – in Suid-Afrika. Daar’s walvisse (van Junie tot November) én ‘n walvisroeper wat ‘n bamboeshoring blaas as hy die walvisse gewaar, jy kan sjampanjelug inasem en daar’s verskeie snuffelwinkeltjies regdeur die dorp.

These little boats had oars only; no boat engines were used when these were still used for fishing

Hermanus het veel meer om te bied as die Ou Hawe, so mooi as wat dit is

Hermanus is egter by uitstek ook ‘n kulinêre bestemming om van kennis te neem.

Besoek Benguela Cove

Benguela Cove Lagoon Wynlandgoed is minder as 20 minute se ry vanaf Hermanus as jy oor Sir Lowryspas in die rigting van dié dorp ry. Sorg dus dat jy jou dag só beplan dat jy sommer eerste hier aandoen.

Benguela Cove grens aan die die Botrivier-strandmeer en spog met dié natuurlike lagune (strandmeer), ‘n uitsig oor die Palmiet- en Kogelberge, wingerde, olyfbome en hul eie kaai in die lagune.

Boonop kan jy ook op die landgoed voëls kyk, gholf – of seerowergholf saam met jou kinders – speel en dan natuurlik wyn proe en smulpaapetes by die Moody Lagoon-restaurant geniet.

Moenie skrik as jou oog met jou aankoms op ‘n beeld van ‘n lewensgrootte naakte goue man in ‘n glaskas val nie. Boonop lyk dit of hy ‘n aanhanger van ekstreme akupunktuur is aangesien sy hele lyf vol naalde gedruk is.

Dié goue vent is deel van Benguela Cove se indrukwekkende kunsversameling. Binne beeld muurpanele voëllewe uit. Behalwe hul permanente versameling beplan Benguela Cove ook gereelde kunsuitstallings.

Om by die Pirate Gholf uit te kom, ry jy met Wynentoesiaslaan af. Kyk hoe ver die buksie-vuurtoring wat op die punt van die kelder gebou word, al gevorder het.

Terwyl jou kinders gholf speel, kan hulle hul verkyk aan verskeie boegbeelde waarvan een ‘n rondborstige blondine is, ‘n vroueseerower wat aan die destydse Angelique (van boek- en televisiefaam) herinner as jy jou verbeelding gebruik,  ‘n manseerower met ‘n swaard, ‘n kaalmaag seerowerkaptein met ‘n apie met ‘n verkyker in sy hand op sy skouer, en les bes, Kaptein Jack Sparrow oftewel Johnny Depp met rasta-vlegsels en goue baadjieknope so groot soos druiwekorrels.

Bespreek vooraf om plek op ‘n lagunevaart op die Lady Bonnie te verseker; vanaf die dek kan jy oor die hele lagune uitkyk terwyl die voëls ‘n entjie weg heen en weer oor die water swiep en daar wyn geproe word.

Sjef Annie Badenhorst van die restaurant Moody Lagoon is bekend daarvoor dat sy haar verlustig daarin om vleis, veral wildsvleis, te kook, maar as jy eers eenmaal haar oesters – dit maak deel uit van ‘n wyn-en-oester-pasmaathappie-aanbieding – geproe het, ry jy terug na Benguela Cove nét daarvoor.

Dié pasmaatoesters word saam met vier wyne van die Benguela Cove-reeks voorgesit. Lek solank lippe af as jy die volgende lees: ‘n oester wat in pynappelsous gepiekel is, saam met Sauvignon Blanc opgedien; ‘n diepgebraaide oester en sy maatjie, ‘n drieboontjieslaai met ‘n byt, bevriend ‘n glas Chardonnay; ‘n gebakte oester nestel langs bloukaas en gekarameliseerde spek terwyl Pinot Noir op die driemanskap wag; en laastens verras ‘n gerookte oester bedruip met beetblokkies en ‘n murgemulsie wat met die landgoed se vlagskip Benguela Cove Collage 2015, ‘n Bordeaux-versnit, die hele ervaring afsluit.

As oesters nie jou kleintongetjie kielie nie, bied die spyskaart voorgeregte soos patatgnocchi met sultanas, hoofgeregte soos varklies met gebraaide piesangkoekies (hierdie gereg was my gunsteling) en nageregte soos sjokoladetert met mentroomys aan.

Keldertoere en sjokolade-en-wyn-pasmaathappies word ook by Benguela Cove Lagoon Wynlandgoed aangebied. Op die landgoed is areas waar jy piekniek kan hou.

DSC_0214

Kyk uit vir die pseudo-vuurtorinkie by Benguela Cove asook vir die pragtige vuurtoringsketse op van die wynbottels

Hier na die einde van die jaar se kant toe begin Benguela die somer en die feestyd met oorgawe vier. In 2018 het die program so gelyk: gourmet pizza met hul eie wyne op Woensdae, ontmoet Kersvader van 1-9 Desember, neem deel aan Kersliedere by kerslig op 12 Desember en sit aan vir ‘n spesiale spyskaart op Oujaarsaand sowel as vir Kersmiddagete. Op Oujaarsaand kan jy kom dans… asof niemand na jou kyk nie.

Lees meer by: www.benguelacove.co.za

Restaurantbesprekings kan by dine@benguelacove.co.za of 087 357 0637 gemaak word.

Skep behae by Creation

Creation Wynlandgoed is in die Walkerbaai-distrik geleë en sit op die Hemel-en-Aarde-rif.

Vanaf Creation se restaurant kyk jy uit oor berge en dale; dit voel kompleet of jy jou hand kan uitsteek na die hemel.

Van heinde en verre stroom besoekers na Creation – vir die reeds genoemde uitsig, vir hul wyne en bowenal vir hul seisoenale pasmaatetes.

Vir elke seisoen word ‘n nuwe Creation-‘storie’ gekonseptualiseer.

Elke storie het ses hoofstukke. Elke hoofstuk het ‘n gereg en ‘n Creation-wyn as pasmaat wat dié deel van die storie illustreer.

Die hoofstukke het name soos ‘’n Tikkie sonskyn op jou bord’, ‘Die kuns van versnitte’ of ‘Toewyding’. Die seisoenale storie beeld uit wat by Creation deur die jaar plaasvind of hoe die span van Creation te werk gaan.

Die geregte lyk soos oumeesterskilderye van stillewes. Dis waaragtig soms so mooi dat ‘n mens weifel voor jy die eerste happie neem.

Creation is voortdurend besig om hulself te herskep en met nuwe aanloklikhede vorendag te kom.

As jy die aangewese bestuurder vir die dag is of om ‘n ander rede nie wyn kan of wil drink nie, is daar ‘n versameling teesoorte wat in plaas van wyn saam met die Storie van Creation bedien word.

Vir kinders is daar hul eie ‘storie’ waar daar byvoorbeeld kaneelspringmielies, kaas-en-murgpampoentjiehappies en vrugtesap met gegeurde strooitjies voorgesit word. So leer jou spruite van jongs af om ‘n avontuurlustige eetlus te ontwikkel.

Daar is nie net seisoenale spyskaarte by Creation nie; in die tuin is daar gereeld kunsuitstallings van bekende kunstenaars – elke hoeveelste maand duik ‘n nuwe versameling beelde op.

Lees meer by: www.creationwines.com

Boek aanlyn op die webwerf.

Om vir Bettie te ken

Betty Blue is die Engelse titel van ‘n Franse kunsfliek ‘37°2 le matin’ (dit beteken 37.2 grade Celsius) uit 1986. Die fliek speel ook in Frankryk af.

dsc_0513-e1572957167617.jpg

Betty Blue se rooi lippe wink jou na binne

Betty Blue Bistro in die hartjie van Hermanus eggo die speelsheid van die hoofkarakter, Betty, in die gelyknamige fliek, maar niks van die donkerte en wroeging waarmee sy worstel nie.

Inteendeel, Betty Blue Bistro is lig en oop binne met giggelgeel aksente wat almal wat binnestap, oombliklik in ‘n ligte luim laat verkeer.

Op die spyskaart word daar verder met kleur gespeel.

Daar is ‘n geel ontbyt (mieliekoekies, crème fraiche, geelpepers, tamaties, uie en roereier), ‘n groen ontbyt (gestoomde groen groente, geposjeerde eiers, basiliepesto, amandels en avokadopeer) en ‘n rooi ontbyt (sjaksjoeka, geposjeerde eiers en feta).

Die rooi slaai spog onder andere met rooikool, beet, tamaties en rooipiekeluie, die geel slaai met geroosterde botterskorsie, geelpeper, wortels en lemoen en die groen slaai met peulertjies, boontjies, broccoli, komkommer, appel en vinkel.

Jy kan ook sap volgens kleur bestel: rooi beetsap met wortel, lemoen en ment; Popeye se groen sap met appel, komkommer, spinasie, ment en suurlemoen; en laastens geel sap met lemoen, wortel, appel en vars gemmer.

In die somer is Betty Blue Bistro op Maandae tot Saterdae oop van 8h00 tot 17h00 en op Sondae van 8h00 tot 15h00.

Lees meer by: http://bettybluebistrohermanus.com/

Kontak hulle by info@bettyblue.co.za of 028 125 0037

 

2 comments on “Een twee drie – dis Hermanus dié

  1. vanessa@mwwealth.co.za
    November 5, 2019

    Hi, just wondering if you could update me email address for the blog to vanessa@mwwealth.co.za

    Vanessa Williams

    B.Econ Hons

    Nessmark CC T/A – FSP License No 10049

    Tel: 021-205 1133 Cell: 082 697 9064 Fax: 086 682 1080

    Email: vanessa@mwwealth.co.za Bld 3 Tre Mondi Park, 2 Niblick Way, Somerset West PO Box 5096, Helderberg, 7135 http://www.mwwealth.co.za

    Email Disclaimer

    Nessmark CC is an Authorised Financial Services Provider licensed with the Financial Services Board FSP10049. The information contained in this communication, including attachments, is not to be construed as advice in terms of the Financial Advisory and Intermediary Services Act of 2002 unless specifically referred to as Advice. Warning: Any unauthorised use or interception of this email is illegal. If this email is not intended for you, you may not copy, distribute or disclose the contents to anyone. Nessmark CC does not accept any responsibility for the opinions expressed in this email.

  2. ilsez
    June 26, 2021

    I hope you managed to update your address, Vanessa.

Leave a comment

Information

This entry was posted on November 5, 2019 by in Afrikaans foodies, Oral(s) in die Overberg and tagged .