ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Drie Stoppe in Mosselbaai

First published in Rapport, March 2019

Dias in Mosselbaai Gedenkfeesprogram R42

Dias in Mosselbaai

 Op Mossselbaai se toerismewebwerf (www.visitmosselbay.co.za) word verklaar: Te veel om te doen vir een vakansie… bly vir altyd!

Dis egter natuurlik nie almal beskore nie. Hier’s ‘n paar lusmakers om jou na Mosselbaai te lok. Perdalks bly jy langer as wat jy gedog het.

So maak mens met soemak in Mosselbaai

Die Mosselbaaiers stap nie maklik verby Carola Ann's sonder om eers in te loer nie

Die Mosselbaaiers stap nie maklik verby Carola Ann’s sonder om eers in te loer nie

Die Mosselbaaier Corelie Shami het eers ‘n wye draai in Doha, Katar gaan maak voor sy die dorpenaars aan haar gunsteling geure, dié van die Midde-Ooste en die Mediterreense lande, bekendgestel het. Eers deur kosdemonstrasies, toe deur ‘n opwiprestaurant, maar die mark het so vinnig gegroei en die aanvraag na haar kos so toegeneem dat dit maklik was om die besluit te neem om ‘n restaurant, Carola Ann’s, te open.

Saam met haar Siriese man, Sam Shami, het hulle al amper die hele Mosselbaai geleer wát soemak is, hoe om daarmee te kook en wat om daarby voor te sit.

Selfs ontbyt wat deur Corelie en Sam gemaak is, is nie soos jy ontbyt ken nie.

Een van my lekkerste ontbyte ooit was die Siriese ontbytgereg by Carola Ann’s: geposjeerde eiers word in ‘n bakkie met natuurlike jogurt, spesery-kekerertjies, koljanderpesto, paprika-olie en tamatie-en-komkommerslaai voorgesit.

My vegetariese sus, Esna, het geraas toe ek van haar groen-ontbyt – pangebraaide broccoli, murgpampoentjienoedels, knoffelsampioene, spinasie, ‘n repie of twee rissie, sitrus-en-kruie-labneh (Midde-Oosterse joghurtkaas) met ‘n geposjeerde eier en ‘n saadkraakbeskuitjie – gaps.

Carola Ann is die koningin van gesonde vrugteskommels soos pynappel, kokosneutmelk, cos-blaarslaai, hempproteïene en heuning of piesang, dadels, amandels, borrie, gemmer, heuning en ‘n titseltjie kaneel.

Oor middagete – of in die middel van die dag – smul jy by Carola Ann’s aan harissa-varknek met blomkool-en-bonekapok en granaat-en-tamatiesalsa of klapperhoenderborsies met dukkah besprinkel.

Die mezze-bord kreun onder shwarma-speserylam in filodeeg, beet-tzatziki, gerookte eiervrugdip, quinoa-tabbouleh en Arabiese brood.

Die spyskaart verander elke dag wat dit soveel moeiliker maak om te kies, selfs vir die Mosselbaaiers, want niemand wil een van die geurkombinasies misloop nie.

Loer na die koekblikke op die rak – Sam Shami se ma het dit al die pad vanaf ‘n klein dorpie in Sirië gebring toe sy kom kyk het of haar seun gelukkig in Suid-Afrika is. Sy is gerusgestel terug huis toe.

  • Carola Ann’s, Kerkstraat 12, Mosselbaai
  • Wat is soemak? Soemak is afkomstig van die gedroogde bessies van ‘n sekere tipe boom; nie alle soemakbessies is eetbaar nie. Dis ‘n donkerrooi spesery met ‘n ondertoon van oranje. Soemak word veral in slaaie en vleisdisse gebruik om ‘n soetsuur smaak aan die geregte te verleen.

 Swem, Sannie(s), swem

'n Groepie vroue van Mosselbaai swem elke more in Die Poort onder die wakende oog van die Mosselbaai-vuurtoring

‘n Groepie vroue van Mosselbaai swem elke more in Die Poort onder die wakende oog van die Mosselbaai-vuurtoring

Elke oggend douvoordag sal jy ‘n groepie Mosselbaaise vroue aantref wat in Die Poort, Mosselbaai se gunsteling baaiplek by Mosselbaaipunt, swem.

Donkiejare gelede was daar ‘n sinkgeboutjie wat as kleedkamers gedien het. ‘n Woeste seestorm se branders het die geboutjie weggevee. Net die sementvloer het oorgebly. Dís waar meer as ‘n handvol vrouens elke dag van die week voor sonsopkoms swem.

Om vroegoggend net onderkant die vuurtoring te swem, is ‘n jarelange tradisie vir die groep vroue.

Dis soos Mosselbaaiers is – hulle verlustig hulself in wat die dorp, die omringende omgewing en die see hul bied. En hulle is onbeskaamd trots op hul tuiste. Die oggendswemmery is ‘n viering van die lewe.

'n Sweedse toeris swem douvoordag saam met Hester Bosman in Die Poort by Mosselbaai

‘n Sweedse toeris swem douvoordag saam met Hester Bosman in Die Poort by Mosselbaai

Of die water nou 24°C in die somer of 13°C in die winter is, daar word geswem. Die vroue spot onder mekaar dat die koue water jou tot twaalfuur in die middag met twee kleregroottes laat krimp; eers na 12 sak alles weer uit. Dit maak die koudkry mos die moeite werd! So vertel, Hester Bosman vir wie die oggendroetine om te gaan swem, haar ‘goue uur’ van die dag is.

Tel die handdoeke om agter te kom hoeveel vroue swem vanoggend in Die Poort

Tel die handdoeke om agter te kom hoeveel vroue swem vanoggend in Die Poort

Eintlik gaan dit oor die kameraderie. Elke oggend word daar blomme op die water gegooi. Dié wat wil, bring hibiskusse, madeliefies, malvas of kruietakkies uit hul eie of die bure se tuin. Dié tradisie het begin toe een van die mamma’s se kind deur ‘n moeilike tyd gegaan het en die res van die groepie haar wou opbeur.

Daarna het dit ‘n instelling geword. Dié wat so voel, spreek ‘n wens uit. Vir mekaar, vir iemand wat tans swaarkry, vir wêreldvrede, vir ons regering, vir onderdruktes, ag sommer, vir wat ook al op die hart druk.

Eet vis en tjips in ‘n rooi Londense bus

Vanaf The London Bus Fish and Chip Company kyk jy oor die see terwyl jy vars vis eet

Vanaf The London Bus Fish and Chip Company kyk jy oor die see terwyl jy vars vis eet

 As jy by die see is, moet jy vis en tjips eet. Dis ononderhandelbaar.

‘n Rooi Londense bus lyk dalk soos ‘n vis op droë grond, hier waar dit op Mosselbaai se kaai staan, maar by hierdie tikkie Britse outentisiteit kén hulle van vis bak. The London Bus Fish and Chip Company se calamari lok ook gereeld komplimente uit.

Soos ‘n Desember-besoeker op hul Facebook-bladsy opgemerk het: Die vis is so vars dat ek kon sweer dis die einste vis wat ek gesien swem het toe ek daar aangekom het.

Gegewe die uitsig oor die see, veral as jy op die boonste dek van die bus sit, is dit seker nie so ver van die waarheid af as wat ‘n mens sou dink nie!

‘n Britse toeris van Leicester het op Tripadvisor geskryf dat dit ‘n moetdoen-ervaring is. Hulle het selfs dolfyne uit die water sien spring terwyl hulle gesmul het.

The London Bus Fish and Chip Company is ongelisensieerd; bring dus jou eie wyn en ook jou eie wynglase.

  • The London Bus Fish and Chip Company, Kaai 4, Mosselbaai-hawe.

 

 

 

 

 

 

 

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on January 7, 2020 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .