ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Kom na Krakow

First published in Rapport, June 2018

20200117_124602

Die Ou Dorp van Krakau/Krakow

‘n Besoek aan Krakow (of Krakau) gaan jou by tye met ‘n diepe swaarmoedigheid laat, maar dié stad gaan ook jou gemoed lig. Krakow, die voormalige koninklike hoofstad van Pole, is in die suidooste van die land geleë.

Baie Poolse dorpe en stede het uitsonderlike Ou Dorpe. Daar word gereken dat Krakow bo almal uitstaan (Gdansk se Ou Dorp is ook besonder indrukwekkend).

Volgens legende is ‘n draak eeue gelede in Krakow verslaan. Wié die draak verslaan het, is nie ‘n uitgemaakte saak nie. Daar’s twee kampe: dié wat reken dit was Prins Krakus, die stigter van Krakow, en diegene wat reken dit was die handlanger van ‘n skoenmaker.

Die Ou Dorp van Krakow is pragtig. Ou en jong straatmusikante speel in nou keisteenstrate. Die Wawel-kasteel beïndruk ieder en elk. So ook die draakstandbeeld wat vuur spoeg by Wawel-heuwel.In die ou Joodse buurt herroep besoeke aan sinagoges op wat jy van die Joodse Volksmoord gelees het.

20200117_124608

Die draakstandbeeld wat vuur spoeg, kan jou laat skrik

‘n Dagekspedisie na Auschwitz is ‘n móét. Dis eers na die afloop daarvan dat jy voel asof die lewe – en die mensdom – te veel is om te verduur. Te síék.

Vir dae daarna trek dit jou af. Jy voel asof dit lasterlik is om te lag. Oor gewone dinge te praat.

In ‘n ideale wêreld sou elke méns Auschwitz moet kan besoek. Dalk sou daar dan meer verdraagsaamheid in die ganse wêreld intree.

Die Ou Dorp van Krakow:

Besoek Wawel-heuwel. Daar is sekere dele waar jy gratis kan rondwandel. Ander dele – soos binne die Wawel-kasteel – vereis aparte toegangskaartjies afhangende van wat jy wil sien. Moet net nie die Wawel-katedraal misloop nie. Loer na seisoensgebonde pryse op www.wawel.krakow.pl/en/

20200117_124651

Die Ou Dorp van Krakow uitgebeeld op ‘n poskaart

Dis goed vir die gemoed om in die Ou Dorp rond te drentel. Rynek Glowny is die ou markplein. Daar is ‘n toerissnuisterymark in die Renaissance-saal waar lank terug materiaal verkoop is. Poolse soeweniers is egter nie iets om oor opgewonde te raak nie.

Vanuit die hoogste toring van die Sint Maria-katedraal op Rynek Glowny word uurliks ‘n beuel geblaas. Die melodie wat gespeel word, dateer uit die Middeleeue. Tóé het dit as waarskuwing gedien.

Terwyl jy nog luister, hou die beuel eensklaps op. Dis ter herdenking aan die trompetblaser wat in die 1200’s dood terwyl hy sy beuel geblaas het. Hy is met ‘n pyl in sy keel geskiet.

Jy kan ook in die stadsaaltoring opklim. Dis nie asof iemand jou nou met ‘n pyl gaan skiet nie.

In Kazimierz, die ou Joodse buurt, is daar verskeie sinagoges soos die Ou Sinagoge met die Joodse Museum, die Remuh- en die Izaak-sinagoge om te besoek.

By Ariel Restaurant kan jy tradisionele Joodse geregte eet; dis baie gewild – maak dus seker dat jy bespreek.

 ‘n Dagekspedisie van Krakow

Die Wieliczka-soutmyn is minder as 20 kilometer vanaf Ou Krakow. Dit is ‘n UNESCO Erfenisterrein.

Dis moeilik om te beskryf hoe dit voel om 135 meter af te daal. Boonop is net mooi alles uit sout gemaak wat die ervaring nog meer onwerklik maak.

Die kerkkapel is die indrukwekkendste. Net mooi alles – die kandelare, altaar en preekstoel – is van sout. Die kerkkapel is 54 meter lank, 17 meter breed en 12 meter van die vloer tot teen die dak. Dit het sowat 30 jaar – van 1895 tot 1927 – geneem om te voltooi. Daar moes 20 000 rotssout verwyder word om die kapelletjie te bou.

Die hartverskeurendste is dat ‘n mens kan sien hoe perde so diep ondergronds in die myn gewerk het.

Jy moet ‘n begeleide toer deur die soutmyn doen. As jy dit ongelukkig tref, is jou toer dalk in Pools.Dis egter steeds oor en oor die moeite werd. Die toegangskaartjie is om en by R320.

Staal jouself vir ‘n besoek aan Auschwitz

In Pools is Auschwitz Oswiecim. Honderde duisende toeriste besoek Auschwitz en Birkenau (wat soms Auschwitz II genoem word) elke jaar.

As jy nie ‘n georganiseerde toer waarvan daar baie is, bespreek nie, kan jy per trein of bus vanaf Krakow na Auschwitz ry. Pryse vir die toere wissel.

Net ‘n deel van Auschwitz is deur die Nazi’s vernietig voor hulle gevlug het. Dus staan baie van die oorspronklike geboue nog. Minder van Birkenau het behoue gebly.

Dis onmoontlik om oor te dra wat jy daar sien. Dit laat ‘n onuitwisbare indruk op jou psige.

Om die volle impak van die Joodse volksmoord (Holocaust) te besef, kyk na die foto-uitstallings sowel as die kort dokumentêre film oor die bevryding van die kamp deur Sowjet-troepe. Dit was op 27 Januarie 1945.

Die term volksmoord mag nóóit deur enigiemand of instansie ligtelik gebruik word nie. Nie na wat tydens die Holocaust in die wêreldgeskiedenis gebeur het nie.

www.auswitchtours.com/auswitch-concentration-camp-history-location.html

Leave a comment

Information

This entry was posted on January 17, 2020 by in Europa and tagged .