ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Die hartklop van plattelandse hotelle

First published in Die Burger, December 2017

(Since this article has been published some details might have changed)

Pak af by ‘n plattelandse hotel

Kamieskroon Hotel se nok

Kamieskroon Hotel se nok

Daar’s iets aan die vergane grandeur, aldan nie, van ‘n plattelandse hotel wat my aanstaan. Dit herroep tye van hotelsitkamers met imbuia-meubels en manskroeë waar dames nie toegelaat word nie, veerpyltjie speel gewild was en waar die rook dik gehang het.

Dit is dus al jare lank dat ek saam met reisgenote wat my fassinasie deel – dit val definitief nie in almal se reisvoorliefdes nie – by sulke hotelle inboek.

Uit al die plattelandse hotelle waar ek al ‘n nag, of meer, deurgebring het, was daar net twee waaroor daar liefs nie gepraat – of geskryf – moet word nie. Daardie name verswyg ek.

Elandsbaai Hotel, Weskus

Elandsbaai is net 220 kilometer van Kaapstad. Dit is dus geen wonder dis gewild onder branderplankryers, seekosliefhebbers en voëlkykers wat Verlorenvlei besoek nie.

Vir welke rede jy ook al jouself na Elandsbaai begeef, ruim genoeg tyd in om met iets kouds in die glas vanuit die Elandsbaai Hotel se tuin oor die Weskus-waters te tuur. Na die sonsondergang kan jy die Jagermeister-bottels in die kroeg tel en nog later op een van die meerminne teen die kroegmuur verlief raak.

 

Op ‘n stil Maandagaand was ek en mede-hotelaanhanger, Anna Blom, alleen in die hele gebou toe selfs die gewone personeel almal pad gevat het. Net in Elandsbaai – het ons behaaglik gesug – sal dit gebeur.

www.elandsbayhotel.co.za

Die Lord Milner Hotel, op die N1, Matjiesfontein

As jy nog nie by The Lord Milner Hotel in Matjiesfontein was nie – hetsy om oor te bly of om ten minste ‘n wyle in die kroeg genaamd The Laird’s Arms deur te bring nie – kom jy definitief nie genoeg uit die huis nie.

 

By The Laird’s Arms sing almal saam as die klavier getokkel word; in die eetkamer word boerekos bedien;  en jy loop perdalks ‘n vrouespook met ‘n wasige tabberd op die trap oppad na jou kamer raak.

www.matjiesfontein.com

Pofadder Hotel, Noord-Kaap

‘n Getuigskrif vir Pofadder Hotel is as jy stop om ‘n bier op ‘n snikhete dag te drink en dan summier besluit om jou reisprogram te verander en oor te bly. Dís wat ek en Reisgenoot Rachel gedoen het toe ons hoor hul meer as 50 kamers is te alle tye kraaknetjies ingeval onverwagte gaste – soos ons – opdaag.

 

Boonop word ons toe daardie aand op motortoetsritstories in verskillende wêreldaksente in die kroeg vergas.

Vir hetige dae het die Pofadder Hotel ‘n swembad. Die eienaars van die hotel kan amper enigiets vir jou organiseer wat jy dalk tydens jou verblyf kan nodig kry.

www.pofadderhotel.co.za

The Historic Pig and Whistle Inn, Bathurst, Oos-Kaap

Bly in 'n historiese kamer of besoek die gesellige kroeg by The Pig and Whistle Inn

Bly in ‘n historiese kamer of besoek die gesellige kroeg by The Pig and Whistle Inn

Gaste bly al meer as 180 jaar oor by die Pig and Whistle Hotel. Met my besoek aan hierdie hotel was ek egter nie bewus hiervan nie.

Dit was eerder vae herinneringe aan ‘n studentekroeg in die suidelike voorstede van Kaapstad met dieselfde naam – en ‘n reeds genoemde voorliefde vir plattelandse hotelle – wat my hier laat opeindig het.

Sedertdien verkondig ek aan almal wat ‘n reistog na die Oos-Kaap onderneem om by The Pig and Whistle Inn aan te doen.

Dans 'n riel saam met 'n vark by The Pig and Whistle

Dans ‘n riel saam met ‘n vark by The Pig and Whistle

In die hotelkroeg met lugmagmemorabilia ontmoet jy dalk ook die blonde advokaat – met haar eie troetelvark wat tuis in sy eie skulpswembad rondplas – wat gereeld hier oorbly.

Gaan kyk ook na die grootste pynappel in die wêreld net buite Bathurst. Binne-in die pynappel is ‘n kleinerige geskenkwinkel en ‘n pynappelmuseum.

www.pigandwhistle.co.za

Graafwater Hotel,  Sandveld, Weskus

DSC_0565

Dis eintlik moeilik om te glo dat Graafwater ‘n hotel het!

Gepraat van varke, by Graafwater Hotel in die Sandveld – tussen Lambertsbaai en Clanwilliam – is ‘n troetelvark met ‘n voorliefde vir Niknaks en bier.

 

Hierdie vark kan soms bietjie ongemanierd wees; dus word vark se kind nie altyd in die kroeg – met regte houtswaaideurtjies alhoewel die syingang eerder gebruik word – toegelaat nie. Met ons besoek het hy wel toegelaat dat Anna Blom sy neus soen terwyl hy snork van lekkerkry.

Die kamers by die Graafwater Hotel het óf ‘n dubbel- of ‘n driekwartbed en ‘n en suite-badkamer met ‘n stort. Die enkelkamers deel ‘n badkamer met ‘n bad en ‘n stort.

By die hotel is plek om te braai en veilige parkeerplek.

Graafwater Hotel, Stasieweg 44, Graafwater

Botrivier Hotel, Overberg

Die Botrivier Hotel is een van die oudste geboue in die Overberg

Die Botrivier Hotel is een van die oudste geboue in die Overberg

Die Botrivier Hotel, wat hulself die nie-amptelike ‘hoofstad’ van dié piepklein dorpie noem, is witwarm.

 

In die Botrivier Hotel is elf slaapkamers; in party van die slaapkamers is ou radio’s, draadlose of grammofoonspelers as deel van die dekor.

In die omgewing van Botrivier is ses natuurreservate; jy kan in die omtrek bergfietsry en Hermanus (en die walvisse in seisoentyd) is net verder as die spreekwoordelike draai.

www.bothot.co.za

Paternoster Hotel, Weskus

'n Tipiese plattelandse kafee in Paternoster wat deesdae bietjie anders lyk

Paternoster het die afgelope twee dekades heeltemal ontpop

Die oorspronklike gebou waarin die Paternoster Hotel geleë is, is reeds in 1863 gebou. Sedert 1973 behoort die hotel aan die Carosini-familie.

Gaste wat in een van die hotelkamers – ‘n ‘see’-uitsig beteken ‘n effens groter kamer aan die voorkant – oorbly, eindig altyd hul aandjie in die Pêntie Bar. Nodeloos om te sê dat niemand nog kon tel hoeveel vrouebroekies presies uit die plafon hang nie.

www.paternosterhotel.co.za

Hangklip Hotel, Overberg

Die Hangklip Hotel is reeds net voor die Tweede Wêreldoorlog in 1839 gebou. Sedertdien het daar nie verskriklik veel – behalwe stylvolle gemaklike kamers wat splinternuut ingerig is – verander nie.

‘n Deel van die wegbreekervaring na die Hangklip Hotel is om met die asemrowende Clarence-rylaan langs te ry.

Vanaf die hotel kan jy na Hangklip se vuurtoring loop.

By die Hangklip Hotel kan jy kies in watter kroeg jy wil kuier - as jy die bobbejane kan ontduik

Hoewel gaste in die binnehof of die biblioteekkamer kan kuier, verkies die meeste naweek-Hangklippers om in die Plankies-kroeg uit te hang.

www.hangkliphotel.com

Kenhardt Hotel, Noord-Kaap

DSC_0825

Kenhardt Hotel is gasvry en behulpsaam met almal wat daar kom

Hoewel ek nog nie in Kenhardt Hotel oorgeslaap het nie, kan ek getuig van hul gul gasvryheid. Na ‘n nag op Verneukpan het die vriendelike personeel  vir my en Reisgenoot Rachel toegelaat om te stort en boonop vir ons ‘n bobaas-brekfis voorgesit.

www.kenhardthotel.co.za

Kamieskroon Hotel, Namakwaland

 

Kamieskroon Hotel is wyd en syd – ook oorsee –- bekend vir die ongeëwenaarde fotografiewerkswinkels wat hul reël en aanbied.

In die hotel is 24 gemaklike en suite-kamers. Dan is daar ‘n outydse eetkamer waar driegangmaaltye bedien word, ‘n swembad wat lafenis in die warm somermaande bied en les bes, ‘n lang hotelstoep waar jy langbeen kan sit en die lewe betrag.

www.kamieskroonhotel.com

Tulbagh Hotel, Wes-Kaap

Die Tulbagh Hotel het al geruime tyd gelede haar haai-polfaais uitgeskop en blink polvysandale wat haar nuwe status as boetiek-erfenishotel betaam, aangeglip.

Tulbagh Hotel is met rede gewild veral by huweliksgaste

Tulbagh Hotel is met rede gewild veral by huweliksgaste

Sy’t my reeds met ontbyt bederf; ek hoor haar roep om ‘n nag in een van haar weelderige kamers deur te bring. Vooraf beplan ek om by haar tapas-kroeg The Lounge van Tulbagh-vallei se wyne te beproef .

www.tulbaghhotel.co.za

Swartberg Hotel,  Sentraal-Karoo

 

Die Swartberg Hotel is ‘n nasionale monument wat sedert 1864 aan verskeie eienaars wat elkeen hul eie stempel afgedruk het, behoort het. Die hotel spog met standaardkamers, weelderige suites en kothuise in die tuin.

In hul Victoriaanse eetkamer smul gaste aan Karoo-lam. Na afloop van die ete kan jy gesellig in die knus kroegie verder kuier.

www.swartberghotel.co.za

Karoo Art Hotel, R62, Barrydale

Die Barrydale Karoo Hotel voor hulle 'n nuwe baadjie aangetrek het

Die Barrydale Karoo Hotel voor hulle ‘n nuwe baadjie aangetrek het

Die Karoo Art Hotel was voorheen as die Barrydale Karoo Hotel bekend. Daar’s voorwaar verrassende kuns en meer as ‘n goeie skeut eksentrisiteit in dié hotel.

Om elke hoek en draai van die Karoo Art Hotel wag 'n kreatiewe of kunstige verrassing op gaste

Om elke hoek en draai van die Karoo Art Hotel wag ‘n kreatiewe of kunstige verrassing op gaste

Die kos by die Karoo Art Hotel se restaurant is uit die boeke uit, soos dit ‘n wenner van die Klein Karoo Gourmand-toekennings betaam.

Sorg dat jy inteken om hul nuusbrief te ontvang; hulle hou baie gereeld musiekvertonings waar Valiant Swart, Piet Botha, Dave Ferguson, Akkedis en Wendy Oldfield al opgetree het.

www.karooarthotel.co.za

Vredendal Hotel, Weskus

As jy op Oukersdag laat wegspring en mik na Brand se Baai, weet jy dat jy noodwendig moet oorslaap om nie in die donker tent op te slaan nie. Dís soos  die Zietsmans op ‘n Oukersaand in die Vredendal Hotel opgeëindig het. Onbepland en onvoorbereid.

Die kroeg het – synde Oukersaand – voor die son nog gesak het, toegemaak. Gelukkig was ons kamer knus genoeg. Ons voorland was ‘n hoenderwegneemete, want niks anders op die dorp was oop nie.

Ons lag steeds vir die oorslaapverknorsing waarin ons onsself amper bevind het, as die Vredendal Hotel nie tot ons redding gekom het nie.

www.vredendalhotel.co.za

Leave a comment

Information

This entry was posted on September 19, 2019 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .