ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Al rek jy jou nek, dit bly skeef

First published in Rapport, November 2019

Huis, paleis, pondok… draai hom op sy kop

In Rotterdam, Nederland en in Sopot, Pole is huise, oftewel geboue, wat my aan die Hompie Kedompie-rympie van my kinderdae laat dink. Dié geboue lyk of hulle omgeval het, of dalk eerder bollemakiesie geslaan het, maar na die bokspring het hulle nie plat soos ‘n pan, soos Kedompie, te lande gekom nie.

Die Kubus-wonings in Rotterdam is op hul kop gedraai en die Skewe Huis in Sopot is verwronge en inderdaad skeefgetrek.

Kyk die Kubus-wonings

Die Kubus-wonings in Rotterdam, Nederland is op kolompilare gebou en is kanariegeel geverf

Die Kubus-wonings in Rotterdam, Nederland is op kolompilare gebou en is kanariegeel geverf

Die Kubus-wonings bestaan uit 38 kubusvorminge huise wat op pale staan. Daarby is daar ook 13 kubusse wat as besighede of kantore bedryf word.

Dié kubusse is tussen 1982 en 1984 gebou en staan ook as paalwonings of boomwonings bekend. Die kubuskompleks word Overblaak of Blaakse Bos genoem en is naby die Ou Hawe van Rotterdam geleë. Sommige van die Kubus-huise kyk juis oor die hawe met sy houtbote uit.

Om by die Kubus-wonings uit te kom, stap jy met Binnenrottestraat langs tot waar jy die Kolk-trap bestyg.  Dis ‘n paar minute se stap vanaf Markthal (Marksaal), ’n onderdak-kosmark wat ook uit en uit ‘n besoek werd is.

Aan weerskante van die kanariegeel Kubus-wonings is twee Superkubusse waarvan die een heelwat groter as die ander is.

'n Aanhaling van die argitek, Piet Blom, is teen die muur van die openbare domein onder die Kubus-wonings vasgeskroef

‘n Aanhaling van die argitek, Piet Blom, is teen die muur van die openbare domein onder die Kubus-wonings vasgeskroef

Die argitek van die Kubus-wonings is Piet Blom wat met die idee vorendag gekom het om ‘n gekantelde kubus op ‘n ‘paal’ staan te maak. Hy is deels deur Le Corbusier, wat deur sommige die argitek van die twintigste eeu genoem word, geïnspireer wat met ‘n ontwerp vorendag gekom het waar daar op kolompilare gebou word sodat die ruimte onder sulke geboue deel van die openbare domein kan bly.

Die naam ‘Blaakse Bos’ is ontleen aan die visie van Piet Blom waarvolgens elke Kubus-woning ‘n boom vergestalt; dus stel die hele woonkompleks ‘n bos of stadswoud voor.

Elke Kubus-woning het drie hoekige of veelkantige ‘verdiepings’: heel onder is die kombuis en woonkamer wat Piet Blom die ‘straathuis’ noem; in die middel is die ‘hemelhuis’ wat inwoners as slaapkamers en studeerkamer kan inrig; en bo is die ‘loofhut’ oftewel veranda of balkon waar jy ‘n klein tuintjie kan maak. Die ingang van elke Kubus is deur middel van die kolompilaar waarop die Kubus-huis rus en waarbinne jy met ‘n trap na bo klim.

Een Kubus-woning, genaamd die Kijk-Kubus, is oop vir die publiek. Binne hang die meubels weliswaar nie aan die dak nie (soos in die Upside Down House by Hartbeespoortdam (Rapport, 20 Oktober 2019)) nie, maar dit neem tyd om aan die uitleg en die hele boksemdais gewoond te raak.

Om deur die Kijk-Kubus (Overblaak 70) te loop, kos 3 euro per persoon. Die Kijk-Kubus is sewe dae per week van 10h00 tot 18h00 oop.

Lees meer: https://nl.wikipedia.org/wiki/Kubuswoningen_(Rotterdam) en www.kubuswoning.nl/

Draai jou kop skeef om die Skewe Huis te beloer

Sopot is ‘n vakansiedorp in die noorde van Pole. In die hartjie van Sopot, ‘n paar minute se loop van die see af, is die Skewe Huis (Krzywy Domek in Pools).

Die Skewe Huis in Sopot, Pole is lieflik verlig in die aand

Die Skewe Huis in Sopot, Pole is lieflik verlig in die aand

Die Skewe Huis huisves ‘n inkopiesentrum en ‘n paar restaurantjies en koffiewinkeltjies.

Dié dubbelverdiepinggebou wat lyk of dit soos ‘n bal gebons is voor dit in Bohaterow Monte Cassinostraat neergesit is, is in 2004 gebou en beslaan 4000 vierkante meter.

Die ontwerp van die Skewe Huis is deels deur die Spaanse argitek, Antoni Gaudi, maar ook deur feeverhaaltekeninge deur Jan Marcin Szancer, ‘n Poolse illustreerder aan wie tekeninge in meer as 200 boeke, waaronder ‘n Poolse vertaling van Pinocchio, toegedig word , geïnspireer.

‘n Ingeduikte glassuil lyk of dit die linker- en regterkant net-net bymekaarhou. Jy kan die Skewe Huis vanaf Bohaterow Monte Cassino- of Morskastraat  betree.

Onderneem ‘n virtuele toer van die Skewe Huis: http://krzywydomek.info/home-page.html

Leave a comment

Information

This entry was posted on April 12, 2020 by in Europa and tagged .