ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Groet die grotwyn!

First published in Rapport, July 2020

Clos des Menuts se wyngrotte spog met uitgebeitelde kunswerke

As jy lief vir reis is, val jy stellig – soos die meeste ander reisigers – oor jou voete om Frankryk te besoek. Franse dorpies en stede versinnebeeld romanse; die een is fraaier as die ander.

Die heuweldorpie Saint-Emilion in Bordeaux in die suidweste van Frankryk het meer as een trekpleister wat tot dié reisbestemming se gewildheid lei.

Nie net het Saint-Emilion sy ontstaan te danke aan ‘n kluisenaar en monnik (met die naam Emilion) wat in die 700’s vir hom ‘n grot uitgekap en as kluisenaar daar gewoon het nie, maar onder dié dorpie is ‘n netwerk van grotte en tonnels wat tot vandag toe bestaan.

Al die wonderwerke wat Emilion verrig het – volgens oorlewering – het al hoe meer monnike na die omgewing laat stroom.

Hierdie monnike het oor ‘n tydperk van sowat 300 jaar die Monolitiese Kerk van Saint-Emilion uit een enorme kalksteenrots gebeitel. Die kerktoring van die Monolitiese Kerk is al wat bo die grond uitsteek. Dis dus geen wonder dat Saint-Emilion oor die status van ‘n UNESCO-Wêrelderfenisgebied beskik nie.

Die monnike het ook die Drie-eenheid Kapel (Trinity Chapel), grotte vir woonplek en ‘n netwerk van katakombes uitgebeitel. Sommige bronne reken weliswaar dat die katakombes reeds van vóór die aankoms van die monnike dateer.

Baie min fresko’s het ondergronds behoue gebly aangesien baie muurskilderye tydens die Franse Rewolusie vernietig is. Veral in die Drie-eenheid Kapel is egter nog pragtige fresko’s nog te sien. Dis te danke daaraan dat dié kapel destyds aan ‘n kuiper (wynvatmaker) verkoop is. Om die hout te buig is vuurgemaak en die roet het die muurskilderye bedek sodat dit nie meer sigbaar was nie.

Kalksteen van die Saint-Emilion-distrik is gebruik om huise, kerke en verdedigingskanse te bou

Omdat Saint-Emilion op die destydse Pelgrimsroete na Santiago de Compostela in Spanje geleë was, het die distrik in die elfde eeu al hoe meer welvarend geword. Die kalksteen van die omgewing is al dieper uitgegrou sodat dié steen vir die bou van groot klipgeboue waaronder kerke en kloosters gebruik kon word. Die uitgrawery van kalksteen het tot en met die 1900’s plaasgevind.

Soos die jare verbygegaan het, is die uitgegroude kalksteen ook gebruik om huise, verdedigingskanse en monumente in Saint-Emilion en die omringende distrik te bou. Só het die netwerk van grotte net al hoe groter geword.

Volgens die toerismeburo van Saint-Emilion beslaan die grotte en tonnels in totaal om en by 200 kilometer.

Saint-Emilion se kalksteengrotte en -tonnels is nie almal deur die monnike uitgegrawe nie; sommige kom natuurlik voor.

Soos die geluk dit wou hê, was die grotte ideaal om wyn (wyndruiwe word al vir eeue in hierdie omgewing verbou) te bêre omdat dit regdeur die jaar ‘n konstante temperatuur van 13-14 grade Celsius handhaaf. Tot vandag toe word dié katakombes vir die stoor van wyn gebruik. Party kalksteengrotte het trappies wat jou al dieper na onder lei.

Sommige grotte is as atmosferiese wynwinkels of kunsgalerye ingerig. By party moet jy ‘n toegangsfooi betaal om die gangetjies te verken; by ander kan jy eenvoudig net inloop. Kyk uit vir bordjies waarop Entrée Gratuite of Entrée Libre staan – dit beteken toegang is verniet. Georganiseerde tonneltoere kan ook bespreek word.

In die hartjie van Saint-Emilion lê La Cave du Clos des Menuts. Hul wyngrotte is regdeur die jaar oop, dis gratis en geen vooraf bespreking is nodig nie.

By La Cave du Clos des Menuts word jy vriendelik ontvang en kan op jou eie tyd in die klam skemerte van die grotte ronddwaal en die gebeitelde kunswerke teen die muur beloer. Hier en daar is ‘n paar herfsblare in ‘n spinnerak vasgevang. Vate rus in rye op hul sye en wynbottels lê amper tot teen die plafon in ‘n reeks vertrekke opgestapel.

Op hul webwerf is ‘n virtuele toer van ‘n deel van die wyntonnels te sien: www.clos-des-menuts.com

‘n Hanetree verder  is die Caves du Manoir van Maison Galhaud (www.maison-galhaud.com).  Die Galhaud-familie is al sedert 1901 in Saint-Emilion.

Ook by Caves du Manoir is toegang gratis. Eers stap jy deur die goed ingerigte wynwinkel; dan kronkel ‘n gang afwaarts. Galhaud se vate staan elkeen op hul eie houtstaandertjie in gedempte lig en die verskillende grotvertrekke het elk ‘n straatnaambordjie soos Rue Louis Orizet.

Die Cordeliers-klooster (www.lescordeliers.com) se tonnelgange strek vir drie kilometer onder en tot buite Saint-Emilion en is tot twintig meter diep. Cordeliers maak en verouder reeds sedert 1892 vonkelwyn in hul keldergrotte.

Vanaf Saint-Emilion kan jy na Chateau Franc Mayne (www.chateaufrancmayne.com), ‘n skamele een kilometer buite die dorp, loop. Op ‘n georganiseerde toer kan Chateau Franc Mayne se grotte besigtig word waartydens jy ook deur die wingerde wandel, meer van hul wynmaakproses leer en hul wyne kan proe. Wat hierdie chateau se grottonnels spesiaal maak, is al die fossiele – insluitende ‘n seester! – wat in die kalksteen gesien kan word.

Saint-Emilion se tonnels strek vanaf binne die dorp tot ver buite

Die teenwoordigheid van die seester kan verklaar word deurdat die kalksteen wat in Saint-Emilion – en in ander dele van Sentraal- en Wes-Europa voorkom as mosselkalksteen, ‘n reeks sedimentêre rotslae, bekend staan. Mosselkalksteen is kalksteen waarin fossielskulpe aangetref word.

Bykomende bron: whc.unesco.org 

Leave a comment

Information

This entry was posted on October 1, 2020 by in Afrikaans foodies, Europa.