ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Waar Hemingway gedrink het

First published in Rapport, January 2020

Waar Hemingway sy glas gelig het

Dis welbekend dat die Amerikaanse roman- en kortverhaalskrywer, Ernest Hemingway (1899-1961), ‘n drinkebroer was en dat daar regoor die wêreld kroeë voorkom waar hy uitgehang het of wat na hom vernoem is. Ten minste is Hemingway meer bekend daarvoor dat hy in 1953 die Pulitzerprys vir sy boek The Old Man and the Sea, asook die Nobelprys vir Letterkunde in 1954, ontvang het.

‘n Foto van Ernest Hemingway teen die muur van Hemingway-kroeg in Budva, Montenegro

Hemingway sou sweerlik giggel – of dalk verontwaardig snork, soos sy gewoonte klaarblyklik was – as hy agterkom dat die Nederlanders ‘n drinkebroer definieer as iemand wat graag ‘meerdere glaasjes bier of ander alcoholische drank consumeert en daarna vaak dronken is’. Of as hy hoor dat die Hollanders ‘n drinkebroer ook ‘n ‘nathals, proppenschieter, slampamper, kannenkijker of bierlippe’ noem.

Foto’s van Ernest Hemingway en sy drinkebroers in die Hemingway-kroeg in Budva, Montenegro

Waar jou reise jou ook al neem, jy gaan kort voor lank heel moontlik op ‘n kroeg of kuierplek afkom wat aan Hemingway gekoppel word. As jy begin google, kom jy gou agter dat daar talle lyste op verskillende webwerwe bestaan wat sy sogenaamde gunsteling kroeë lys. Al wat dit egter beteken, is dat die lys drinkplekke waarvoor Hemingway ‘n voorliefde gehad het, langer en langer word; ooreenstemmigheid word nie bereik nie.

Kerjakker in Havana, Kuba

Pieter Zietsman (heel links) volg in die voetspore van Hemingway

Ernest Hemingway het vir sowat 20 jaar – vanaf 1939 tot 1960 – net buite Havana in Kuba gewoon. Sy twee gunsteling uithangplekke in Havana was La Floridita (www.lahabana.com/guide/el-floridita/) en La Bodeguita del Medio (www.lahabana.com/guide/la-bodeguita-del-medio/).

‘n Daiquiri by La Floridita kom saam met die resep

Volgens oorlewering het Hemingway eendag toevallig by La Floridita ingestap. Hy het opgemerk dat almal dieselfde drankie blyk te gehad het. Hy het summier een bestel, geproe en toe gevra of hy ene met minder suiker en meer rum kon kry. So het die Papa Doble-mengeldrankie, of Hemingway-daiquiri, ontstaan.

The Cradle of the Daiquiri!

By La Bodeguita del Medio het Hemingway verkies om mojito, ‘n mengeldrankie met rum, kruisementblare en lemmetjiesap, te drink. Teen die muur van die kroeg kan jy ‘n aanhaling van Hemingway lees: “My mojito in La Bodeguita del Medio en my daiquiri in La Floridita”.

Pret in Parys, Frankryk

Hemingway, wat vier keer getroud was, en sy eerste vrou, Hadley, het in 1921 vir die eerste keer na Parys, waaroor hy absoluut gek was, getrek.

Hemingway het op verskeie plekke op die aardbol sy werke neergepen

Die Ritz Paris Hotel se kroeg heet steeds Bar Hemingway (www.ritzparis.com/en-GB/fine-dining-paris/bar-hemingway). Daar word vertel dat Hemingway, na Frankryk van die Nazi-okkupasie bevry is, op een slag 51 martini-drankies in die einste kroeg opgekommandeer het.

Behalwe vir die Ritz Hotel het Hemingway onder andere ook by die Lutetia Hotel (www.hotellutetia.com) en die Brasserie Lipp (www.brasserielipp.fr) uitgehang. Die Ritz Hotel word in sy boek, The Sun Also Rises, beskryf.

Uithang by Harry’s Bar, Venesië, Italië

In die winter van 1949 het Hemingway in Venesië vertoef. Harry’s Bar (www.cipriani.com) is in 1931 deur Giuseppe Cipriani geopen. Tydens sy verblyf in dié Italiaanse stad het Hemingway ‘n kortverhaal, Across the River and Into the Trees, neergepen waarin hy na Harry’s Bar verwys.

Harry’s Bar is net om die hoek van San Marco-plein in Venesië

Hy het sy eie tafel in Harry’s Bar gehad waar hy gereeld saam met Cipriani drankies wegslaan het. Cipriani het vertel dat Hemingway hom as uiters vrygewig opgeval het.

Harry’s Bar is ‘n klipgooi van San Marco-plein

Ontmoetings in Madrid, Spanje

Volgens Hemingway kon min stede by Madrid kers vashou. Vir hom was Casa Botín (www.botin.es/en/home/) in die hoofstad van Spanje die beste restaurant in die wêreld. Hier eet jy tot vandag toe een van hul spesialiteitsgeregte, geroosterde speenvarkie, soos wat net die Spanjaarde dit kan voorberei.

In Madrid was Museo Chicote (of El Chicote) ook een van Hemingway se gunsteling uithangplekke

As Hemingway nie in Casa Botín uitgerafel het nie, het by by Cerveceria Alemana (www.cerveceriaalemana.com/main/) bier gedrink.

Uitspan in Pamplona, Spanje

Hemingway het twee redes aangevoer waarom hy daarvan gehou het om Pamplona te besoek: die jaarlikse bulstormloop en Café Iruña (www.cafeiruna.com) op die Plaza del Castillo .

Ernest Hemingway en Fidel Castro

Die stadsvaders van Pamplona het selfs na sy dood ‘n standbeeld van Hemingway opgerig en ‘n straat na hom vernoem.

Café Iruña lyk blykbaar nie veel anders as wat Hemingway dit in The Sun Also Rises uitgebeeld het nie. Dís ook waarom baie mense nog steeds hiernatoe swerm, soos ek my ook voorneem om te doen, sou ek ooit Pamplona besoek.

Kuier in Key West, Florida

Ernest Hemingway het spottenderwys na homself as die mede-eienaar van Sloppy Joe’s (www.sloppyjoes.com) in Key West, Florida verwys. Sommige reken hy het twee derdes van sy gepubliseerde werk tydens sy verblyf in Florida, tot in 1939, geskryf.

Na Hemingway se dood het sy weduwee van sy besittings aan Sloppy Joe’s geskenk; dit word tot vandag toe nog in die kroeg uitgestal.

Jaarliks in Julie word Hemingway Days (www.fla-keys.com/hemingway-days/) by Sloppy Joe’s en in die res van Key West gevier. Gryskopmans trek soos Hemingway aan en neem aan armstoei deel; daar is poësie- en kortverhaalvoorlesings en ‘n straatkermis.

Hemingway is die inspirasie in Budva, Montenegro

Koffie… of ‘n glas wyn… by die Hemingway-kroeg in Budva, Montenegro

Dis nie net die kantiens waar Ernest Hemingway eens uitgehang het wat na hom vernoem word nie. Sy naam – en reputasie – lei daartoe dat hy regdeur die wêreld in kroegname vereer word.

In die Hemingway-kroeg in Budva, Montenegro

Die Caffe Bar Hemingway (www.majestichotel.me/caffe-bar-hemingway/) op die promenade van Budva, Montenegro het eers in 2005 sy deure oopgemaak. Swart-wit foto’s van Hemingway, en ‘n gedroogde visstert of twee, pryk teen die mure.

Die ou Hemingway Bar in Dubrovnik, Kroasië het weliswaar ‘n naamsverandering na Nonenina Café ondergaan, maar die Kroasiërs verwys steeds daarna as Hemingway se kroeg.

Leave a comment

Information

This entry was posted on September 29, 2020 by in Iemand - of iets - wat my fassineer.