ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Kothuisies vir Klaasvakie

First published in Die Burger, January 2014

As die ewige gejaag in die (voor)stad jou onderkry, raak dit tyd om vir ‘n nag of twee weg te breek na ‘n plekkie waar jy amper gedwing word om te rus en jou batterye te herlaai.

‘n Mooi Strooikooi

20180525_172926-1-1

Knap buite Calitzdorp is die mooie Strooikooi met ‘n uitsig – oor  wingerde – wat ook sag op die oog val. Draai af by die allemintige rooi koffiekan in die hoofstraat en ry tot jy ‘n lang paal met die woord strooikooi vertikaal daarop geverf, sien.

Die strooi(bale) kan jy nie sien nie; of selfs raai dat dit is wat gebruik is om hierdie ‘organiese’ kothuisie van hooi te bou nie. Die kooi slaap lekkerder as die meeste kooie waarin ek nog geslaap het.

Na jy die hortjiesdeure oopgestoot het, kan jy amper vanaf die drumpel tot op die bed spring. Daar is ook ‘n kombuisie so groot soos dié van ‘n klein seiljag, en ‘n ruim stort.

Die eko-vriendelike Strooikooi is vir oornag, nie vir lang kuiers nie. Twee gemakstoele staan elk in hul eie hoekie en langs die bed is twee Midde-Oosterse tafeltjies. Jy het mos niks meer nodig nie; jou lekkerlees boek het jy self ingepak.

Op die stoepie is gietysterbankies en ‘n kruiwa waarin jy kan vuur maak. G’n siel gaan jou steur as jy hier aan iets verfrissends teug terwyl jy die Karoo-lug inadem nie. ‘n Botteltjie Boplaas port is ‘n winter-pasella wat jou op ‘n skinkbordjie inwag.

Sou jy verkies, maak die eienares, Zelma Kriek, met graagte vir jou ontbyt asook ‘n drie-gang aandete wat by haar aan huis – waar ‘n Morokkaanse lamp atmosfeer skep en patrone teen die muur gooi – genuttig word. As jy vol fiemies is, pas sy eenvoudig sonder murmurering die spyskaart aan.

  • Bespreek by strooikooi@gmail.com of skakel Zelma Kriek by 082 576 5855
  • Dit kos R250 per persoon per nag vir verblyf. Etes moet vooraf bespreek word.

‘n Meul wat met die maan gepla is

DSC_0271_1

In Philadelphia – net buitekant Durbanville – voel dit soms of tyd stil gaan staan het. Die ou dorpie het amper minder as ‘n handvol strate, ‘n imposante kerk en ‘n groot meul waarbinne die Pieter van der Westhuizen Galery gesetel is. Hier is ook van sy skilderye te koop en sy stoel, skilderesel en geliefde pyp beklee ‘n spesiale hoekie.

Neffens De Malle Meul – die meul dateer uit die 1920’s – is twee klein kothuisies, Die Wingerdhuisie en Die Koringhuisie, waar oornag kan word. Besoekers vra gereeld of hul langer kan aanbly as hulle agterkom hoe na aan die stad, maar ver van die gewoel, Philadelphia nou eintlik is.

In die tuin voor die kothuisies is ‘n labirint en ‘n driepoot-rooipensskilpad. Sy heet Tripod na haar een voet geamputeer moes word. Die dorpie is – afhangende van die seisoen – omring deur groen koringlande of geel kanola-velde.

Die twee dames wat hierdie meul laat maal, is nie sommer sulke hierjy’s nie. Hulle is eintlik madonna’s – voor hulle De Malle Meul begin bedryf het, het dié twee ‘n restaurant genaamd De Malle Madonnas bedryf. En nee, hulle is darem nie regtig van lotjie getik nie.

Op Sondae is ‘n tradisionele boerekosbuffet by De Malle Meul beskikbaar. Hier smul jy aan van kerrie-afval tot hoenderpastei soos jou ouma dit nog gemaak het.

As jy met nostalgie terugdink aan ‘n koevert met ‘n seël waarbinne ‘n handgeskrewe brief vir jou wag, kan jy by die pienk Blikhuisie by ‘n lessenaar gaan sit om jou brief te skryf en dit daarna sommer net daar pos.

  • Lees meer by demallemeul.co.za
  • Skakel Madelein of Carine by 021 972 1097/072 972 1097 of e-pos info@demallemeul.co.za om te bespreek.
  • Dit kos R350 per persoon; as jy vir meer as 2 nagte bespreek, betaal jy slegs R300 per persoon per nag.

‘n Witgekalkte vissershuisie

DSC_1031

Arniston – oftewel Waenhuiskrans – se vissersdorpie is prentjiemooi. Amper al die wit gekalkte huisies spog met skewe rietdakkies, breë houtvensterrame, bo- en onderdeure en vuurherde met kenmerkende skoorstene aan die sykante. Hier kan niemand deur ‘n jeukerigheid oorval word om sy plekkie in ‘n ander kleur te tooi nie – die dorpie bly eenvormig.

Amper al die huisies is ‘n klipgooi van die see en ‘n ellelange wit strand waarop jy kan loop tot jou bene lam is, maar steeds hou die lekkerkry nie op nie.

DSC_1049

Aan die agterkant van die dorpie – met ‘n ononderbroke uitsig oor die lang sandstrand – is  Kassiesbaai Guesthouse (of Kostebaie soos die huisie ook bekend staan). Dit is in een van die einste vissershuisies waar jy kan oorbly. Die huisie – wat net soos die dorp twee name het – is binne ‘n paar minute se stap van die hawe en sy kleurvolle bootjies met name soos Agulhas, Nicolene, Timothy en Oom-Jan.

Kostebaie

Kostebaie is behang met oranje en geel bootboeie, party met takelwerk tou rondom. Twee stoele staan slaggereed op die ommuurde stoepie sodat gaste elke dan en wan – of sommer heeldag – oor die oseaan kan uitkyk.

Willeens

Net langsaan is Willeen’s waar jy binne – as die wind waai of dit geniepsig koud is – of buite met die see aan jou voete – vir streekskos aansit. Willeen bedien vis-en-tjips, viskoekies, garnale, kalamari, piekelvis, mosselsop, kerrie of ‘n hele Arniston-bord.

Die grot waarna die dorp ook heet, Waenhuiskrans, kan besoek word en die Arniston Hotel se stoep is baie gewild vir middagetes.

  • Skakel Lorna en Edwin by 082 941 0092 of 084 593 1699 om vir bed en ontbyt te bespreek.
  • Dit kos R275 per persoon vir bed-en-ontbyt. Daar is slaapplek vir vier volwassenes en twee kinders.

Leave a comment

Information

This entry was posted on May 27, 2018 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .