ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Sloewenië se kus – kort en kordaat

First published in Rapport, April 2019

Die Republiek van Sloewenie is baie trots op hul onafhanklikheid

Die Republiek van Sloewenie is baie trots op hul onafhanklikheid

Sloewenië, een van die kleinste lande in Europa, is onder die tien lande met die kortste kuslyne ter wêreld.

Aan die een kant van Sloewenië se kuslyn strek die kus van Kroasië, aan die ander kant lë die Golf van Triëst.

Sloewenië se kus is slegs 46.6 kilometer lank hoewel party bronne dit as 47 of 48 kilometer aangee.

This slideshow requires JavaScript.

Jy besoek nie Sloewenië se kus vir sy sandstrande of uitsigte wat die oog streel nie, maar wel vir die dorpies wat jou hart gaan steel. Om hier vakansie te hou is nie ‘n geval van hoe korter jou kuier, hoe gouer sal jy weer genooi word nie.

Dis veel eerder ‘n geval van jouself met moeite wegskeur om ook die res van die land te gaan beleef.

In Meimaand is dit nog stil genoeg aan Sloewenie se kus, maar nader aan die middel van Junie raak dit baie besiger

In Meimaand is dit nog stil genoeg aan die kus, maar nader aan die middel van Junie raak dit baie besiger

Jy verbeel jouself nie as dit vir jou voel asof daar meer as ‘n tikkie Italiaanse swier aan dié deel van die land kleef nie. Die kuslyn van Sloewenië is vir sowat 500 jaar deur die Venesiërs regeer voor dit eers deur die Oostenryk-Hongaarse Ryk en daarna deur Joego-Slawië ingesluk is.

Daar is vier dorpies aan die Sloeweense kus.

Blink, plat water aan die kus van Sloewenie

Blink, plat water aan die kus

Die vissersbootjies gee jou reeds 'n aanduiding dat jy heerlike seekos in Piran gaan eet

Dis nie net die argitektuur van die Sloeweniese kusdorpe wat jou aan Italie herinner nie

Dis nie net die argitektuur van die Sloeweniese kusdorpe wat jou aan ‘Italia’ herinner nie

Geen voertuie word binne Piran toegelaat nie; hier is net voetgangers en bootjies

Geen voertuie word binne Piran toegelaat nie; hier is net voetgangers en bootjies

Piran is die bekendste asook die gewildste. Dis ‘n skilderagtige dorpie met Venesiese argitektuur en ‘n Middeleeuse uitleg.

Hoewel Koper ‘n groot nywerheidsgebied insluit is dit die Ou Dorp met sy stegies, winkeltjies en visserhawetjie waar seiljagte ook vasmeer, wat verlei.

Die Sloeweniërs beskou Izola as die mees romantiese dorpie en baie van hulle verkies om daar te woon.

Portoroz is die gekommersialiseerde lelike eendjie op die Sloeweense kuslyn. As jou stranddrag ‘n goue ketting om jou nek insluit en jy hou van die geklingel binne ‘n casino, kan dié eendjie vir jou in ‘n swaan ontpop.

Piran is pragtig

Piran is die ene stegies en hoekies en draaitjies, jy kan kies en keur by watter sypaadjierestaurant jy wil sit en oor die see uitkyk en die kleurvolle vissersbootjies in ‘n baai-inham smeek jou omtrent om gekiek te word.

Tartiniplein in Piran is na die violis Giuseppe Tartini vernoem en sy standbeeld pryk in die middel van die plein

Tartiniplein in Piran is na die violis Giuseppe Tartini vernoem en sy standbeeld pryk in die middel van die plein

Tartiniplein is die hart van Piran. Die plein is vernoem na die violis Giuseppe Tartini (1692-1770); dis sy standbeeld wat in die middel van die plein staan.

Tartiniplein is die hart van Piran

Tartiniplein is die hart van Piran

Elke gebou op Tartiniplein het sy eie bekoring. Aan die westekant is die ou hofgebou en langsaan die stadsaal waarop ‘n reliëf van ‘n leeu met ‘n oop boek pryk.

Nommer 10 is die Venesiese Huis waarop ‘Laat hulle praat’ in Latyn staan. Dié woorde was in die vyftiende eeu op die inwoners van Piran gemik aangesien hulle onder mekaar geskinder het oor die huiseienaar, ‘n welgestelde handelaar, wat in ‘n verhouding met ‘n plaaslike meisie gewikkel was.

‘n Deel van die bekoring van Piran is om in elke stegie af te loop en by elke kerkie in te loop. Die grootste kerk in Piran is die Kerk van Sint George wat jy teëkom as jy bo-op die stadsmure om loop. Vanaf die stadsmuur het jy ‘n ongeëwenaarde uitsig oor die Adriatiese See.

As jy vanaf die Kerk van Sint George aanhou loop en by die enigste klipgangetjie wat jy teëkom na onder loop, kom jy uiteindelik by Madonnapunt uit. By Madonnapunt is ‘n piepklein vuurtorinkie wat deel van die Sint Clemens-kerk uitmaak.

Die Eerste Mei-plein is weggesteek in ‘n doolhof straatjies en stegies. Hier eet jy saam met die Sloeweniërs – en toeriste wat hul huiswerk deeglik gedoen het – by Fritolin pri Cantini. ‘n Piepklein kroegie verkoop kraffies wyn. Langsaan bestel jy by ‘n oop venster onder ‘n wingerdprieël seekos. ‘n Klokkie word gelui as jou bestelling gereed is om afgehaal te word.

Drie van ons het korte mette met die eerste porsie sardientjies gemaak en terstond nog ‘n porsie daarvan bestel. As getuigskrif vir dié eetplek kan ek net bysê dat drie van ons drie aande na mekaar daar gaan eet het!

Koper is kort op Piran se hake

Koper is ‘n kort busrit vanaf Piran. Die Ou Dorp is net so klein en kordaat as Piran self.

Terwyl die inwoners hul daaglikse gang gaan, kan jy ongehinderd die systraatjies verken. Met ons besoek het die dag se bedrywighede ‘n veteraanmotoruitstalling, ‘n troue op die dorpsplein, die inweeg na ‘n visskietkompetisie  én ‘n buitelugkosmark opgelewer.

Die bestuurder van ‘n bloedrooi Thunderbird-oopdaksportmotor én sy passasier het met windmakerhoede gespog, die toring van die katedraal het op die bakwerk van ‘n pikswart, gepoetste Mercedes weerkaats, daar was ‘n Fiat so klein dat dié motortjie amper onder my oksel kon inpas en ‘n kanariegeel Volkswagen-kewer het, ewe klein maar getrein, by die res van die motors probeer kersvashou.

Op Titovplein in die hart van die Ou Dorp het ‘n bruid en bruidegom goedgunstelik vir ons vir foto’s poseer terwyl trekklavierspelers hul lywe saam met hul note rondgegooi het.

Op Muzejskiplein naby die vissershawetjie was dit die ene bedrywigheid. Oud en jonk het by ‘n kosmark saamgedrom, geklets en gesmul.

Vir avontuurlustige eters was daar perdevleisburgers met heuningmosterdsous en ‘n heel speenvarkie. Kekerertjiefalafel met Midde-Oosterse slaai en aartappelskywe het vegetariërs gelukkig gehou.

Vlytbier en limoncello (suurlemoenlikeur) was koel op die tong, want dit kan maar warm raak in die somer in die deel van die wêreld. Roomys-‘croissants’ met sjokoladesous en neute was ‘n nuutjie vir ons.

Net soos Piran, moet jy in Koper by elke kerkie inloop wat jy sien. Jy word ryklik beloon met ikone, altare en engele.

Kort voor lank is jy by Izola

Izola is ses kilometer vanaf Koper. Met so ‘n kort kuslyn is alles naby mekaar.

Soos Piran en Koper is die Ou Dorp van Izola waar jy wil wees. Die nou straatjies met pastelkleurige geboutjies raak al gewilder as toeristebestemming. Izola is meer bekend vir sy kunstenaars en kunsgalerytjies as die ander twee kusdorpe.

Dis nou maar kort en klaar, ‘n besoek aan die Sloeweniese kuslyn moet allesbehalwe van korte duur wees.

Werd om te weet

Hoe kom ek daar:

Vanaf die hoofstad Ljubljana loop daar gereeld busse na Piran. Die busrit duur 2 uur 40 minute. Sou jy ‘n motor wou huur om die res van die land te besoek, maak dit sin om dit eers na jou besoek aan die kus te doen. Piran is slegs vir voetgangers. Besoekers moet in parkeerareas buite Piran parkeer en verder loop (dit neem sowat 10 minute tot by Tartiniplein) of met die gratis busdiens op en af ry.

In Piran:

Bespreek lank vooraf slaapplek. Veral in seisoentyd raak Piran gou vol en daar is beperkte akkommodasie beskikbaar.

Max Piran is ‘n knus hotel enkele minute se stap vanaf Tartiniplein. ‘n Dubbelkamer kos R600 per persoon per nag. Dit sluit ontbyt in. www.maxpiran.com

‘n Voorgereg by Fritolin pri Cantini waaraan twee tot drie mense heerlik kan smul, kos tussen R100 en R150. ‘n Seekosbord wat drie van ons nie kon opeet nie, het R420 gekos. Lees meer op Tripadvisor.

Soos in Italië is Aperol-drankies (‘n mandaryngeur aperitiefdrankie wat met prosecco (Italiaanse vonkelwyn) en/of sodawater gemeng word) gewild. Begroot vooraf hiervoor, want dit gaan jou maklik R75 per drankie uit die sak jaag.

In Koper:

Die prys van ‘n retoerbuskaartjie van Piran na Koper kos R94.

By die kosmark was die pryse soos volg: perdevleisburger R120, gepluisde speenvark met piekels op ‘n broodrolletjie R105 en ‘n glas verfrissende limoncello R35. Porsies is ruim.

Die gewildste koffiewinkel in Koper, Loggia,is op Titovplein. Die oorspronklike koffiewinkel, Caffe della Loggia, het in 1846 sy deure oopgemaak. Vanaf Loggia kan jy al die bedrywighede op Titovplein dophou. Die kanse is ook goed dat jy ‘n troue gaan waarneem aangesien die katedraal, Stolnica Marija Vnebovzetja, gewild onder bruidspare is. Lees meer op Tripadvisor.

Leave a comment

Information

This entry was posted on January 20, 2020 by in Europa and tagged .