ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

St. Petersburg is uniek

First published in die Burger, late 2010/early 2011

As eerste indrukke van St. Petersburg van taxi’s of straatveërs afhang, lyk dit maar droewig. Daar’s egter so baie vergange glorie oor – hoewel ‘n spoeg-en-poets program deur stadsvaders nodig is – dat jy verby rommel in huurmotors en tannies met drilbore kyk.

Vergeet om vadersnaam van geykte beskrywings soos Venesië van die Noorde. Dit skep verwagtinge;  teleurstelling is onafwendbaar. St. Petersburg  is onbetwisbaar uniek.

Waag dit om St. Petersburg toergroeploos aan te durf. Dis ‘n uitdaging. Dis nie blinkskoon nie. Die atmosfeer het ‘n onidentifiseerbare ondertoon. Die Sirilliese alfabet maak geen sin nie; dus kan ons nie straatname lees nie.

“Wag, ek klank; jy kyk op die kaart.”

“Onderstebo A.”

“Wydsbeen M.”

“Mini-Eiffeltorinkie.”

So vind ons ons pad deur die stad.

tjoeftjap-word-jy-deur-kunsstudente-geskets

In een liggeel buurtkerkie is ‘n intieme troue aan die gang. Daar is sowat tien gaste. En ons wat stil-stil insluip.  Almal staan en sing in die middel van die ikoongevulde kerkie. Dan sing die biskop terwyl twee ander dofgoue krone bokant die bruidspaar se koppe hou. Nou stap almal drie keer in die rondte, eers na die een kant, dan na die ander. Ons vee onbeskaamd trane af.

St. Petersburg bied klein tafereeltjies asook die grandiose soos die Hermitage, Winterpaleis, Church of the Bleeding Saviour, en Peter-en-Paul Fort.

Klim op ‘n kanaalboot na Peterhof. Stap ‘n entjie vanaf die kaaitjie en dan sien jy die son op goue standbeelde weerkaats.  Speelsheid is in die tuin-ontwerp bygewerk. Een van die tuinpaadjies het ongemerkte klippe wat – as jy daarop trap – ‘n fonteintjie aktiveer wat jou waternat spuit. Stap ook agter uit  – hier is die allermooiste Disney-agtige kerkie.

St Petersburg se hartklop lê in sy geskiedenis en sy geboue. Daar is ook ‘n onderliggende hartklop; dit word in onverwagse en onbeplande tafereeltjies beleef.

‘n Lááng middagete bly my die duidelikste by. Van buite lyk die ou Hotel Metropole uitgedien. Ons stap met ‘n marmertrap op. Hierbo –  het ons verneem – is ‘n eetsaal waar gerekende lede van die Kommunistiese Party gereeld geëet het. Dit lyk soos ‘n skoolsaal uit die sewentigerjare, maar mét enorme glaskandelare en parketvloer. Die ge-tuxedo-de kelner se voetstappe eggo en hy is emosieloos. Ons wag amper dat hy hakke klik. Ons eet rooi salmkaviaar. Soos in outydse flieks, word dit onder ‘n silwer koepel bedien wat die kelner met groot vertoon oplig.

Vermy tog net Carrols, die Russiese weergawe van McDonalds. Ons doop dit summier Carrots na ons die oranje tema sien; en na die eerste probeerslag loop ons ‘n wye draai om die plek.

Ander momente is ‘n poskaartverkopertjie se intense teleurstelling toe nie ek of sy kleingeld het nie. Ek wou maar een dollar se poskaarte koop.

Hoekkafeetjies lyk soos outydse handelswinkels. Mense staan gedwee in rye. Daar’s min te koop, maar wel heerlike koue vleise. Amper elkeen het ‘n stowwerige oorgrote kristalkandelaar wat niemand meer oplet nie. Ons sien ook kandelare in voorportale van verwaarloosde woonstelgeboue.

Dit ontstel ons om ‘n beer aan ‘n ketting te sien – sy pels vuilgekoek.

In buurtkroeë sien ons oorlogsveterane bespeld met oorlogsmedaljes.  Hierdie ou mans stap uitgevat rond, hoopvol dat hulle hul pensioengeldjies kan aanvul met roebels van toeriste wat hul afneem.

erg-onbeholpe-besef-ons-nie-ons-moet-n-fooitjie-vir-die-foto-betaal-nie-en-die-jong-kroasier-help-ons-reg

Treine vertrek stiptelik, maar om treinkaartjies te koop, neem ‘n halfdag in lang rye waar telkemale vuisgevegte uitbreek. Ons taxi-deur word met ‘n skroewedraaier toegehou; iets moet onder die enjinkap gekonnekteer word voor ons ry; en die bagasiebak is halfvol gemors.

Boemelaars drink hulself des pletters aan wodka en lê op straat. Ons wonder hoe hul in die strawwe winters oorleef.

Ons verlaat St Petersburg op ons volgende oornagtrein. Fyn teekoppies en muur-ikone sal ons altyd aan ons tyd hier herinner. In ons geheue is die stad versinnebeeld deur arm Russe in vaal, verbleikte klere – blou, grys, bruin – en gedetaileerde geboue in verrassende kleure.

jy-kan-mos-nie-huis-toe-gaan-sonder-n-matrioshka-poppie-nie

DIE STORIE AGTER MATRIOSHKA-POPPIES
Matrioshka-poppies is tradisioneel Russies. Daar is van vyf tot dosyne poppies in een stel. Hoe meer, hoe fyner die kunswerk.
Die eerste matrioshka-stel is in 1890 uitgekerf. Die poppies kan van ou vroutjies tot sprokieskarakters of ikone uitbeeld –Russiese politici is baie gewild.
Matrioshka-poppies word ook baboeshkas (oumas) genoem.

Leave a comment

Information

This entry was posted on March 2, 2017 by in Europa.