ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

INHAMBANE – PLEK VAN DAU’S EN GARNALE

First published in Die Burger, December 2015

Die meeste Suid-Afrikaners het nog nooit van hul trekkersbloed ontslae geraak nie. Veral in die langer skoolvakansies pak viertrekvoertuie die paaie na ons buurlande aan. Veral Mosambiek se gewildheid taan glad nie.

dsc_0685

Daus by Inhambane

Inhambane is – by wyse van spreke – die middelpunt van ‘n netwerk van kampplekke soos Praia do Tofo, Praia dos Cocos, Ponto do Barra, Jangamo en Guinjata-baai. Sorg dat jy ten minste een dag opsysit om hier te verwyl.

‘n Kleurvolle mark, Mercado Central; ‘n 170 jaar-oue katedraal, Church of Our Lady of Conception; en ‘n idilliese baai vol dau’s met verweerde seile wat heeldag – as die regte wind waai – heen en weer seil – dis soos Inhambane daar uitsien.

Daar was toe, en daar is nou

Die dorpie Inhambane is die hoofstad van die provinsie Inhambane. Inhambane is een van die eerste plekkies aan die ooskus van Mosambiek wat bewoon is; Persiese handelaars met dau’s het al in die elfde eeu hier handel gedryf. Selfs Vasco da Gama – dink gou terug aan jou geskiedenisonderwyser se lesse in die laerskool – het hier aangedoen.

hierdie portugese kerkie word nou as skooltjie ingespan (2)

Hierdie Portugese kerkie word nou as skooltjie ingespan

Oor die afgelope agtien jaar het Inhambane heelwat verander, maar tog ook nie. By die mercado is daar weliswaar nou meer verkopers, veral van toeriste-aandenkings; daar is ‘n swierige hotel op die draai na die kaai; en daar is al ‘n hele paar jaar lank ‘n restaurantjie of twee, drie waar ‘n koue skuimkop geniet kan word.

haa haa haaaa, het jy dit gesien!

Haa haa haaaa, het jy dit gesien?!

Daar’s niks mooier as ‘n dau

Daar is nie sekerheid oor presies waar dau’s hul ontstaan gekry het of wie daarvoor verantwoordelik was nie. Daar word gewoonlik na dau’s as Arabiese seilbote verwys.

Inhambane het ongetwyfeld die mooiste dau’s in die suide van Mosambiek, dink ek. Ek vermoed ek moet nog iemand ontmoet wat nie gefassineer is deur die grasie en tydlose elegansie van die dau’s nie; en ek wil amper ‘n weddenskap aangaan dat daar bittermin siele is wat nie so voel nie.

Ek kan ure en ure verwyl – verkieslik met ‘n Florentina of 2M; moet liefs nie die ingevoerde Portugese wyn oor jou lippe neem nie – deur na hierdie seilskepies wat vanaf Maxixe aan die oorkant van die baai seil, te staar. En dan natuurlik deur foto’s te neem. Hiervoor is Inhambane na aan ongeëwenaard.

Gelapte seile; al die skakerings van vuilwit tot koffiekleur seile; gefraiingde seile met sulke los toiings – bring maar die volgende bier.

Ek voel of ek die week se lotery gewen het as die dau met die pers laslappieseil oor die water aankom.

salig in die son

Salig in die son

Dau’s met drie silhoeëtte – mik mooi wanneer jy jou kamera se knoppie druk – en net daarna volgepakte dau’s met gekopdoekte passasiers en hul flenterbagasie. Met laagwater klim gespierde Mosambiekers in Gandhi-broeke oor die kante van die dau’s en plas deur die vlakwater, soms met plastiekpetrolkanne op hul skouers.

As jou maag knor

Vanaf Restaurant (en Pensao) Pachica se tuin kan jy die dau-verkeer dophou; dis net sowat 300 meter se stap na die kaai waar die dau’s vasmeer. Hier eet jy veerligte garnaal-rissoles nog voor jy besluit watter pizza – met kaas wat nie altyd in Mosambiek beskikbaar was nie – jy uit die kombuis gaan laat kom. Die eienaar loop oor van vriendelikheid en deel met graagte sy kennis van die omgewing.

Dis visreuke, dis die rooi van tamaties, dis kleipotte en ‘n gebrabbel

Torings rietmandjies; opgestapelde kleipotte; en houtvliegtuigies, houtvisse, houtvrugte, hout, hout, hout. Elke keer as ek hier kom is die markverkopers se ware herskep en nuut geïnterpreteer. Hoe lyk dit met hout-tandepastabuisies of Coke-blikkie-sleutelhouers?

Deesdae wil elke vrou – dis nou dié sonder individuele styl – hartmotiewe as dekortegniek inspan. ‘n Mens sou sweer ‘n paar glanstydskrifte het hul pad hierheen gevind. Hart-slaaibakke, hart-juweelkissies en rooi boepensharte lê op rietmatte te koop.

By die kosmark is tamaties, krulblaarslaai, veselperskes, knobbelrige aartappels en guavadillas (‘n geel grenadella – gooi die pulp by jou jenewer-en-tonikum). Daar’s ook vars(erige) vis en steurgarnale. Sedert Chinese aan die paaie gewerk het, het Chinese produkte ook hier kop uitgesteek. Ek kry so wraggies pienk peperkorrels en ‘n margarien met die naam Amanda.

groot en klein mandjies, rietwaaiers en 'n pyl en boog

Mandjies te koop

In die straatjies rondom die mercado is nog ‘n hele paar stowwerige winkeltjies wat aan Indiër-winkeliers behoort. Hier verkoop hulle kapulana’s (die sarongs wat Mosambiekse vrouens om hul middels of losweg oor hul skouers knoop of as kopdoeke dra) sowel as nuwe en tweedehandse sari’s.

Soms ruik jy die wierook sommerso met die aanstap en partykeer sien jy ‘n verkreukelde prent van Ganesj, die pienk olifant-god, teen ‘n muur. ‘n Hele paar van die dapper Indiër-families het regdeur die burgeroorlog hier aangebly en aanhou sake bedryf.

Meer as een dagekspedisie

Ry aan die onderpunt van Inhambane verby waar almal groente kweek en gaan kyk hoe Tofo lyk.

dsc_0728

‘n Tofo-tafereel

As jy lief is vir die buitelewe, die uitgestrekte wit strande en die ongereptheid, sal Tofo jou teen die mure uitdryf. Ry in, kyk hoe dit lyk, byt op jou tande, en ry dan weer uit – los Tofo vir diegene wat floreer op ‘n geroesemoes en ‘n gekuier.

'n buksie van 'n vuurtoring by barra

‘n Buksie van ‘n vuurtoring by barra

Vuurtoringentoesiaste wíl Ponta Barra se popspeel-vuurtoring sien. Met so ‘n blou-en-wit kabouterhuisie langsaan.

Swem, Jannie, swem

Jy hoef nie eers ‘n ervare duiker te wees om hier rond walvisse, dolfyne en walvishaaie te sien terwyl jy snorkel nie. Van die riwwe is vlak genoeg sodat ‘n minder ervare skubaduiker op sy/haar gemak sal voel. Inhambane is bekend vir sy pylsterte, die ballerina’s van die see.

Aan’t knormoer soek

nie almal luister na hierdie versoek nie

Nie almal luister hierna nie

As jou (voertuig se) planete aan’t bots is en jou knormoer (of iets onder die enjinkap) gee die gees, vra jy net op straat waar jy geholpe kan raak. Gou-gou word jy verwys na ‘n plotmekêniek met wie se werk jy jare daarna nog spog. Daai einste knormoer het drie jaar later nog gehou asof die vervaardiger self dit onder hande gehad het.

happy in the sun

Oe die vakansie is lekker!

Leave a comment

Information

This entry was posted on January 7, 2019 by in Afrika and tagged .