ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Kniediep antiek in Dieprivier

First published in Die Burger, March 2014

Herwin en hernu, geroes en ongeroes

(Since this article has been published some places have closed down or changed ownership)

Wat maak dat een voorstad ‘n voorliefde of ‘n voorkeur vir  – sê nou maar oudhede, antiekware en versamelaarsitems –  blyk te hê? Dis die geval met Dieprivier. Jy kan aan Muizenberg se kant begin snuffel en tot net voor Plumstead steeds ‘n vonds of tien teë kom.

'n Mallemeule-haas hurk in Nine Lives se tuin

Allermins ‘n Aspoestertjie

Waar die pad al hap-hap aan Muizenberg se hakskene, staan ‘n lendelam huisie waar die son die skynsel van die loodglas op die deure op die dak en al langs die sypaadjie vang. Moet egter nie die tuiste van Glasscraft op sy baadjie takseer nie. Al vir amper ‘n kwarteeu lank word hier pragtige loodglasdeure en –lampe ontwerp en geskep, eers deur pa, Simon Prins,  en nou deur seun, Paul.

Net so ‘n entjie met die pad af word so wraggies braaihout verkoop. Ja,  regtig, kameeldoringhout word so wrintiewaar uit ‘n skeepsvraghouer verkwansel.

‘n Geroeste emmer, vetplante en oudhede soos robyne

Terwyl manlief hout laai, kan vroulief haar tyd by The Rust Bucket verwyl. As daar nie meer plek in die kattebak is nie, bied The Rust Bucket eindelose idees hoe jy enigiets wat geroes, verweer of uitgedien is, in iets prakties én kreatiefs kan omskep. Maak plek tussen die braaihout vir Karoo-vetplante wat jy nie sommer op ‘n ander plek so geredelik gaan raakloop nie.

Het jy ‘n plekkie vir ‘n ou traaisiekel, ‘n waaier so groot soos ‘n bedkassie, perdesaals, of ‘n versameling ou spieëls? By Ruby’s Cottage gaan jy ongetwyfeld iets vind wat jy nóú ontdek jy nog altyd wou gehad het.

Langsaan is Decorwoods – bring jou eie ontwerp en hulle vervaardig dit vir jou uit hout. Hulle help ook met die ontwerp sou dit nodig wees.

‘n Reputasie van restourasie

Restorabilia is al donkiejare in die skadu van hierdie palm

Restorabilia het eintlik geen bekendstelling nodig nie. Hul reputasie oor meer as twee dekades spreek vanself. In die ruim huis wat as hul vertoonlokaal dien, drentel jy geïnspireerd van vertrek tot vertrek.

Veral die dryfhout-skeppings is besonders. ‘n Afrika-kaart in die vorm van ‘n swartbord kry ‘n dryfhoutraam en lampstaanders vertoon meer bonkig as voorryspelers. As jy om die draai in die rigting van die zebra (in die venster) se neus stap, kom jy by The Opposition uit. Hierdie opposisie is eintlik Restorabilia se bondgenoot; met die toevoeging van ‘n lowerryke tuin wat in the Backyard Café omskep is.

As ek The Opposition se dryfhout-koffietafel kon wegdra, het ek dit summier gedoen. Hier is ook baie mooi geraamde swart-wit vuurtoringfoto’s beskikbaar. En ‘n groot draad-eend met die naam Jemima.

Die een vonds na die ander

CDS Junk Store omskryf hulself as “purveyors of high class junk”. Dís nou ‘n krapwinkel as jy al ooit een gesien het. Skeepsankers, leerhouertjies waarin eens verkykers gebêre is, lanterns – noem dit en dis dalk hier êrens onder ‘n klomp ander goed.

Op die sypaadjie voor Froggatt and Frost staan amper net so baie items as wat binne-in die winkel is. Darem nie regtig nie, maar dit voel so ‘n bietjie so. Wou jy nog altyd ‘n silwer haarborselstel, lampetbeker, emaljeskottels, skoenlees, mampoerfles,of  babastootwaentjie gehad het? Dis híér. Ook ‘n ou rooi-en-vuilroom houtstookstoof wat so nostalgies mooi is dat dit ‘n mens laat bespiegel of dit vir ‘n spieëltafel gebruik kan word. En swartbordverf.

Sommer reg langsaan – by die groot rooi posbus – is Cottage Antiques. Ongelukkig is hul advertensieborde van vanmelewe se dae nie te koop nie, maar hier’s andersins genoeg om van te kies.

Van oud na nuut

Block & Chisel het houding

Van gerestoureer na tydloos nuut – by Block & Chisel is hemelbeddens, koraalkershouers, glasbolbedlampies, kussings met koi-visse en modelseilskepe.

Laat jou voete rus by The Larder en werk gou weer jou begroting uit terwyl jy aan antipasti, slaai of ‘n broodjie kou. Of wat van beet, sjokolade en espresso-koek?

  Dié kat kort ‘n lint om haar stert

‘n Groot swart kat met ‘n krulstert wys waar meubels gereïnkarneer word. Tot nege keer as jy na hul naam, Nine Lives, kyk. Sorg dat jy daar kom as jy al ooit ‘n antieke klerekas van epiese dimensies wou gehad het.

Tesame met Nine Lives word Ebony & Ivory in hierdie broekieslace-gebou bedryf. Ebony & Ivory ontwerp en maak lint; hier is ook lapelwapens, streepstrooitjies, rolletjies kant, pêrelhoedespelde, sponsbadeendjies,  stoffers en skropborsels!

Ebony en Ivory het meer rolle lint as 'n naaldwerkster

So ry jy om daar te kom:
·        Glasscraft, Hoofstraat 20, Lakeside. www.glasscraft.co.za
·        The Rust Bucket, Hoofstraat 460.  www.therustbucket.co.za
·        Ruby’s Cottage, Hoofstraat 44, Bergvliet. www.facebook.com/pages/Rubys-Cottage/376733965765030
·        Decorwoods, Hoofstraat 42, Bergvliet. www.decorwoods.co.za
·        Restorabilia, Hoofstraat 257, Bergvliet. www.facebook.com/Restorabilia/info
·        The Opposition met The Backyard Café, Sol Cohenstraat 4, Bergvliet. www.thebackyardcafe.info
·        CDS Junk Store, Hoofstraat 239, Dieprivier.
·        Froggatt and Frost, Hoofstraat 194, Dieprivier. www.froggattandfrost.co.za
·        Cottage Antiques, Hoofstraat 192, Dieprivier.
·        Block & Chisel met The Larder, Hoofstraat 99, Dieprivier. www.blockandchisel.co.za
·        Ebony & Ivory, Hoofstraat 52, Dieprivier. www.ebonyandivoryribbons.com
·        Nine Lives, Hoofstraat 50, Dieprivier.

2 comments on “Kniediep antiek in Dieprivier

  1. Tannie Frannie
    August 6, 2018

    Dis louter genot om hier by jou te lees!

  2. ilsez
    August 6, 2018

    Verskriklik dankie, Tannie Frannie!

Leave a comment

Information

This entry was posted on August 4, 2018 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .