ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

REISNUUSBROK Visskieter land marlyn op Struisbaai!

First published in Die Burger, 

Tamaai marlyn by Struisbaai uitgetrek

Die swartmarlyn van 314 kg was langer as 'n eenton-bakkie

Die swartmarlyn van 314 kg was langer as ‘n eenton-bakkie

Wat beloof het om ‘n gewone visskietdag in ‘n swak visskietseisoen te wees, het toe ‘n swartmarlyn van 314 kilogram opgelewer!

Daar’s nie eers douvoordag opgestaan en see toe gegaan soos wat gewone visskietdae verloop nie. Inteendeel, die viermanskap duikers wat op Sondag, 17 Februarie 2019, die bemanning van die dubbelrompboot Aquaholic uitgemaak het, het eers halfag die boot in die water gestoot.

Die bemanning van Aquaholic skiet al sedert die vroee tagtigerjare vis op Struisbaai - van links na regs staan JP Marais, Pieter Zietsman, Conrad Vlok en Stefan du Toit

Die bemanning van Aquaholic skiet al sedert die vroee tagtigerjare vis op Struisbaai – van links na regs staan JP Marais, Pieter Zietsman, Conrad Vlok en Stefan du Toit

JP Marais wat die swartmarlyn geland het, en twee van die drie mede-visskieters, Stefan du Toit (links) en Pieter Zietsman (regs)

JP Marais wat die swartmarlyn geland het, en twee van die drie mede-visskieters, Stefan du Toit (links) en Pieter Zietsman (regs)

Eers het die neus van die boot direk vyfmylbank toe gemik. Dit is die Overbergse visskieters se gewone prosedure op ‘n dag wat die weer gunstig vir visskiet is.

Die vyfmylbank lê, soos wat die naam aandui, vyf myl – dis  so agt kilometer – in ‘n suidoostelike rigting vanaf Struisbaai-hawe. Dis ook waar Struisbaai se tradisionele tjakkies – soos die vissersbote in die volksmond hier rond bekendstaan – visvang.

Die vyfmylbank is bekend vir geelstert (Seriola lalandi), ‘n heerlike braaivis. Diegene wat reken geelstert is te droog, weet net nie hoe om dit te braai nie. Vars geelstertsasjimi is ook koningskos.

Op die vyfmylbank aangekom was die water egter te vuil vir duik. Dit kos toe maar terugkom na die vlakwater waar dié gesoute visskieters weet waar om rooistompneuse (Chrysoblephus gibbicepps) te skiet. Die plek waar hul toe in die water afspring, is kwalik een kilometer van die kant af.

Na sowat ‘n uur se duik het JP Marais van Stellenbosch iets groots in die water gewaar. Hy het eers gedog dis ‘n grootwithaai. Dit het hom nie lank geneem om te sien dat dit ‘n swartmarlyn (Makaira indica) was nie. Daar was nie eers tyd vir dink nie. Skiet sou hy moes skiet. En dís wat JP instinktief gedoen het.

Dis een ding vir ‘n visskieter om langs die vuur te bespiegel of hy die dag as hy ‘n marlyn in die see teëkom, gaan skiet of nie. Dis ‘n totaal ander ding as daar die dag werklik ‘n marlyn by jou verbyswem.

Sommige visskieters reken hulle wíl nie ‘n marlyn skiet nie. Ander se opinie is dat hulle twee keer sal dink en dan sal besluit. En dan is daar duikers wat reeds besluit het dit is nie wat hulle sal doen nie.

JP se eerste skoot was ‘n goeie skoot. Die marlyn se spoed vóór en ná die skoot het nie verander nie.

Gewoonlik as ‘n marlyn geskiet word, verdwyn hy binne sekondes om nooit weer gesien te word nie.  Hy neem ook sommer die visskieter se toerusting soos die spiesgeweer en boei saam met hom die dieptes in.

Omdat die water so vlak was, kon die marlyn, soos wat hul gewoonte is, ook nie diep duik en die visskietboei na onder trek nie.

As ‘n gesoute visskieter het JP geweet hy moet die boot roep. So ook het Pieter Zietsman, skipper van Aquaholic,  geweet as ‘n duiker in die water “Marlyn!” of “White” (‘n verwysing na die grootwithaai wat die grootste gevaar vir die visskieters inhou) skree, sorg jy dat jy dadelik ondersteuning bied.

JP het die marlyn ‘n tweede skoot met ‘n spiesgeweer wat vir hom van die boot af aangegee is, gegee.

So lyk 'n man (JP Marais van Stellenbosch) wat op 'n Sondagoggend 'n swartmarlyn van duskant 300 kg geskiet het

??So lyk ‘n man (JP Marais van Stellenbosch) wat op ‘n Sondagoggend ‘n swartmarlyn van duskant 300 kg geskiet het

Die swartmarlyn was te swaar om op Aquaholic te laai en moes langs die boot vasgemaak en terug hawe toe gesleep word. Dit het die weegslag ook bewys: ‘n volle 314 kilogram.

Van die vissermanne op die sleephelling het ‘n dag of twee tevore die einste marlyn in die baai gesien, is geselsies op die kaai gemaak.

Die bemanning van die Aquaholic  – die skipper, Pieter Zietsman, en die res van die visskieters, JP Marais, Conrad Vlok en Stefan du Toit – duik al sedert die vroeë tagtiger jare in Struisbaai se waters. Almal is al aan die ander kant van vyftig, maar die seewater bruis steeds sterk deur hul are bloed.

JP Marais sê na die tyd: “Dit was ‘n spanpoging. Ek kon dit nie sonder hierdie manne gedoen het nie.”

2 comments on “REISNUUSBROK Visskieter land marlyn op Struisbaai!

  1. Toortsie
    June 23, 2020

    Wow!

  2. ilsez
    March 22, 2021

    Dis hartseer vir my ook behalwe dat dit nuuswaardig is, Toortsie.

Leave a comment

Information

This entry was posted on June 22, 2020 by in Oral(s) in die Overberg and tagged .