ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Ode aan Topsi Venter

First published in Die Burger, August 2016

Topsi Venter deur Hanlie Malan geteken

Topsi Venter deur Hanlie Malan geteken

Daar was iets om te vier. Vandaar ‘n bespreking by een van ons gunsteling restaurante, Topsi & Co. Dis al elf jaar gelede.

Daar aangekom – met Ambeloui-vonkelwyn in die hand – was ons die enigste twee gaste. Topsi,‘n kombuishelper en twee van haar vyf honde het ons welkom geheet. Sy sou die aand toegemaak het synde dat dit so stil was, maar aangesien ons bespreek het, sou sy vir ons kook.

Sy was al diep in die sewentig; ons kon dit nie aan haar doen nie, maar dít het ons nie hardop gesê nie. Eerder aangebied dat ons êrens anders heen sou gaan; daar is immers baie restaurante in Franschhoek. Nee, nee, ons is mos nou hier, het sy geprotesteer en ons laat aansit.

Nadat ek ‘n paar dae gelede van Topsi Venter se heengaan – op 85 – gehoor het, dink ek terug aan daardie aand.

Met net ons drie aan tafel het sy vir ons van haar kinderdae (haar pa was ‘n regter in Bloemfontein, daar was ‘n persimmonboom in hul tuin vandaar haar jarelange voorliefde hiervoor, ‘n sjef van St Lucia het veertig jaar lank by hulle gewerk), van die tyd wat sy by Fair Lady gewerk het, van die kosstilering wat sy gedoen het en van haar ongelooflike herinneringe aan Roggeland Country House vertel.

Ek wens ek het dit toe neergeskryf, want daar’s soveel meer wat my noual ontgaan het.

Tussen die vertel en vonkelwyn deur het sy erken dat haar geheue haar somtyds in die steek laat. Sommerso in die gesprek het sy haarself aangepraat: “Komaan, Topsi, wat is daai naam nou weer?” En dan hervat sy haar storie terwyl ons aan haar lippe hang.

Ons rekening van 'n spesiale aand

Ons rekening van ‘n spesiale aand

Sy’t ons nie regtig ‘n keuse gegee van wat om te bestel nie. Sy sou kook waarvoor sy daardie aand lus was. Ons sou dit geniet, het sy ferm aangekondig. En ons het.

Meer spesiaal nog was die tyd saam met haar wat ons in die skoot geval het.

Elke keer as ek daarna iets van haar gelees het – soos Nataniël wat gesê het dat hy by haar geleer het, dat jy nie teen ‘n muur moet vaskyk as jy kook nie – het ek aan ons aand saam met Topsi gedink. Topsi het geglo kombuise word ontwerp deur mense wat nie kan kook nie, vir mense wat nie kook nie.

Op haar dag het sy – saam met Richard Carstens, lank voor hy by Tokara oorgeneem het – vir die legendariese Ferran Adria van El Bulli gekook.

Mariëtte Crafford het geskryf dat Topsi se sielskos eiers was, saam met gouestroop. Sy het eers botter gesmelt waarby sy Lyle’s Golden Syrup uit daardie bekende groen blik gegooi het. Sodra die eier so halfpad gestol het, het sy dit op haar eie sadebrood met die botter-en-stroopmengsel bo-oor geskp.

Dis net mooi wat ek vir myself gaan opdis. As ‘n ode aan Topsi Venter, die Suid-Afrikaanse grand dame van kos.

2 comments on “Ode aan Topsi Venter

  1. Tannie Frannie
    June 20, 2019

    Hoe bevoorreg is sy, dat ‘n meesterskrywer soos jy ‘n ode aan haar opdra…

  2. ilsez
    September 22, 2019

    Sjoe, dankie, Tannie Frannie, maar ‘n meesterskrywer is ek nie. En Topsi Venter was ‘n absolute ikoon van die kosbedryf. Ai, ek wens ek kon nog een keer by haar eet…

Leave a comment

Information

This entry was posted on June 20, 2019 by in Afrikaans foodies and tagged .