ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

SNUFFEL ROND IN SOUTRIVIER

First published in Die Burger, March 2013

(Since this article has been published some places have closed down or changed ownership) 

Soutrivier word allerweë as die Aspoestertjie van die moederstad en sy omstreke beskou. Nie net omdat jy sommer op straat jou-ma-se-opmerkings luidkeels aanhoor nie. Soutrivier het tot op hede nog so ietwat agterweë gebly, maar dis drasties aan’t verander. Aspoestertjie is besig om ‘n nuwe tabberd aan te trek.

All roads - in a manner of speaking - lead to Salt River Circle

Maar: in sommige van die agterstraatjies moet jy maar versigtig trap, kom ek sommer op my eerste rondsnuffel-eskapade agter. Ek het egter net myself te blameer, want ek moes van beter weet as om so ver van die meer bekende strate af te draal.

DSC_0681

Tjoek-tjoek – hier’s ‘n ou lokomotief

Soutrivier se dilemma kan wees dat daar nog baie van die ou Soutrivier oorbly, maar dis ook vinnig aan die verander. ‘n Toevallige kennismaking met Carole Sherratt van Mid-Century Modern lei tot onmiddellike kameraderie en ‘n afspraak – dalk ietwat voorbarig van my – om die volgende dag saam te gaan verken. Sy bring twee van haar honde saam, belowe Carole.

20180306_131209-e1520343860163.jpg

So gesê, so gedaan. Ons twee, Avatar, die slanke windhond, en ‘n pitboel sonder tande, die lieftallige Lexie, durf Soutrivier se strate aan. Carole weet net waarheen om my te neem.

Ons skop af deur by die ou Locomotive Hotel by Soutrivier Sirkel in te loer. Hier het niks nog verander nie – ‘n paar zef ouens drink al van soggens af in die kroeg; kamers word maandeliks uitverhuur en ‘n pa en seun bestuur al donkiejare die plek.

Verby skermunkels en swernote

Alle paaie lei na – of van Soutrivier Sirkel – en ons baan ons weg na Soutrivier Sirkel Arkade. Hierdie eens elegante dame het reeds haar swier teruggekry en huisves nou meer as ‘n handvol winkeltjies waarvan die leuse ‘eerder nouveau as nooit’ blyk te wees.

By Wallflower heers ‘n kalmte en amperse sereniteit tussen die vetplante, ingevoerde kerse en dekor-items sonder onnodige tierlantyntjies. Eco Furniture Design spesialiseer in plaaslik vervaardigde, eko-vriendelike houtmeubels asook eietydse kleiner items soos slanke slaaiharke en tekstiel-items van Handmade by Me. I love Henry Garment Archaeology – wat ‘n mondvol! – spesialiseer in Deense klere waarvan baie met minder bedeesde boodskappe bedruk is.

20180306_131215-e1520343811137.jpg

Die mees opwindende winkeltjie is seker dié van Jacqueline Kolbe Bespoke Millinery. Vergeet van slentersjiek – Jacqueline se hoede is ultra-sjiek skeppings soos wat jy nog nooit vantevore teëgekom het nie. Jacqueline werk reeds twintig jaar lank as hoede-ontwerper en –maker en het haarself geleer hoewel ek oortuig was dat hierdie la-die-da skeppings direk uit New York afkomstig is. Nie al die hoede smeek om na die perdewedrenne gedra te word nie – hier’s ook speelse keile en slaprand-sonhoede. Of wat van ‘n  liewenheersbesie-hoed?

Miyu Homeware hoef nie vir enige ander bestemmingswinkel ‘n tree terug te staan nie. Miyu is werklik eklekties en hoewel hul nog net ‘n kort rukkie oop is, het die eerste bestellings van oorsee –veral vir James Palmer se lang kameelperd met spykernek – reeds ingestroom. Lang strooikussings bedruk met ou Windhoek-posseëls trek ook aandag.

Stoele en tafels, lampe en banke, skilderye en glas – die hele kaboedel

Lexie, die pitboel, gaan lê in protes op die sypaadjie. ‘n Paar maaifoedies lag te lekker. Maar daar’s geen genade vir melodramatiese boelterriërs nie.

Soutrivier het dié plek geword waar jy meubels – van die mid-1930’s tot die 1960’s – en ornamente (soos dit ‘n paar dekades gelede bekend gestaan het) uitsnuffel. Deesdae kan jy na hartelus hier vir items rondsnuffel; al hoe meer plekkies verskuif hiernatoe sodat die versamelaar van die een na die ander kan drentel.

Mid-Century Modern het die toon aangegee; Vamp (met ‘n voorliefde vir stoele en groot blommotiewe)het vanuit ‘n ou kerk in Woodstock hiernatoe verhuis. Karizma is ook nou in die Soutrivier Sirkel Arkade eerder as nader aan die middestad. Oorkant die straat is Home Affairs Furniture – hier is nie net meubelstukke nie, maar ook rietbesems, geskenke vir katliefhebbers en tydskrif-oopvourakke wat soos honde-silhoeëtte lyk.

Hou hierdie spasie dop

Aan die bokant van Durham-laan is ‘n gewoel en werskaf wat my nuuskierigheid prikkel. Ek stel summier ondersoek in – met Gawaine Ziman van Mid-Century Modern kort op my hakke.

Terwyl Gawaine nog besig is om my te vertel dat die Voortrekker-waens vanaf Soutrivier Sirkel op hul tog na die binneland vertrek het, ontmoet ons vir Gawie Swart, ‘n jong entrepreneur van Johannesburg. Dit het hierdie Gauteng boytjie gevat om die potensiaal van Soutrivier raak te sien voor die Kapenaars dit kon doen. Hy het summier ingespring, geboue opgekoop en nou restoureer hy dat dit klap. Hy slaan plat, hy vernuwe, hy verhuur; en hy dink deurentyd nog planne uit.

In die ou Pals-fabriek op die hoek van Durham en die hoofstraat maak ‘n mikro-bierbrouery genaamd Devil’s Peak binnekort oop. Hier’s nog restaurantspasie beskikbaar en in die opwinding van die oomblik deel Gawaine sy droom van ‘n ‘sky bar’ met Gawie.

Amper tyd om te tjaaila

Net voor ek tjaaila is daar gelukkig nog tyd om by The Deer Hunter in Albertstraat iets koels te drink. The Deer Hunter is ‘n nuweling sedert Desember; hul het reeds ‘n reputasie vir hul ou speelgoed, vinielplate, strokiesboeke en kewpie-poppe opgebou. As jy hunker na nostalgie, is dit die plek vir jou; andersins kan jy hier inloer om jou te verkyk aan baie van hul klante wat soms blyk van lotjie getik te wees.

By Annie’s Angels verlekker ek my deur na die grootste verskeidenheid kostuums wat in Suid-Afrika te huur is, te kyk. Hier’s blykbaar meer as tagtigduisend items, hoor ek! Net die hoede alleen sou my ouma meer gereeld kerk toe laat gaan het. Ek beplan summier ‘n opdres-partytjie vir my volgende verjaardag terwyl ek op die N1 huiswaarts keer. En sê maar liewers niks van die sjebien daar naby wat al dertig jaar lank besigheid doen nie.

Terwyl jy nou gaan:
·        Kyk by http://www.facebook.com/MiyuHomeware waarmee Miyu alles vorendag kom.
·        Bestel tekstielartikels by www.handmadebymeblog.com
·        Lees meer oor die filosofie agter I Love Henry by http://ycladmag.com/life-style/fashion/a-store-is-born-henry
·        Kyk na Annie’s Angels se verfrissende webtuiste – veral die tuisblad – by http://www.anniesangels.co.za/ en besluit terselfdertyd op ‘n tema vir jou volgende partytjie.
·        Hou dop wanneer Devil’s Peak Brouery – met hul eie restaurant – sy deure oopmaak!

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on March 6, 2018 by in Die res van Suid-Afrika, Plaaslike reis - Afrikaans and tagged .