ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

KNUS KUSDORPIES IN URUGUAY – Vuurtorings en wit strande roep

First published in Die Burger, October 2010

the-lighthouse-at-jose-ignacio

Punta del Este is ‘n provinsie van Argentinië. Nou nie geografies of polities nie, maar dis soos die Uruguane daarna verwys. Dalk met meer as ‘n tikkie jaloesie, want daar is nog genoeg Argentyne met oorgenoeg geld, terwyl Uruguay se resessie eindeloos voortduur.

Punta del Este is ‘n Suid-Amerikaanse Plettenbergbaai terwyl sy buurman Jose Ignacio minder blieng het, maar glad nie onderskat moet word nie. In die winter (hul seisoene en weerpatrone stem ooreen met ons s’n) is dit saligstil en baie plekkies maak sommer toe. In die somer is dit woelig, besig; daar word geparty tot laatnag en sommige plekke maak nét in hierdie tyd oop.

MAALTYD UIT DIE BOONSTE RAKKE

Dis nie die geval met Blue Cheese Ristorante nie – verreweg die plek waar ek die beste maaltyd in Punta del Este self gehad het. Amper koloniaals in hul bediening, plattelands in dekor en uitmuntend wat veral vleis betref. Dus bestel ek oordadiglik vleis en nog vleis. Ek begin met carpaccio, in elk geval ‘n gunsteling, en dit word papierdun gesny. Dis verskriklik lekker, maar amper te dun sodat dit salmpienk vertoon.

Hierna is dit tyd vir steak tartare, maar eers lees ek ‘n rukkie aangesien ek op die oomblik alleen reis. Die geroesemoes van Spaanse stemme laat my egter telkens opkyk en wens ek kon meer verstaan. ‘n Ou-styl hoflike kelner berei my hoofgereg by my tafel. Heelwat varsgekapte kruie – waarvan ek ‘n paar nie ken nie – word bygevoeg. Ek smul. Ek drink ‘n tweede, of is dit al ‘n derde, glas Tannat Reserve. Ek smul verder.

Dis tyd om te gaan slaap, want vir nagereg sien ek nie meer kans nie, veral nie vir die oordadige soet van dulce de leche (dit proe soos gekookte kondensmelk) nie.

Weens ‘n sameloop van omstandighede mis ek die City Bus wat toeriste rondneem. ‘n Bedekte seëning blyk dit te wees, want alles is binne loopafstand en daar is geen haas nie. Ek sien ‘n vuurtoring ‘n ent weg, wat nie ‘n lugspieëling blyk te wees nie. Orals waar ek reis, soek ek vuurtorings op. Voor ek nog by hul faro uitkom, vind ek spierwit handdoeke met ‘n vuurtoring-randmotief by ‘n dekorwinkel. My beker loop oor…

daar-is-publieke-toegang-by-hierdie-vuurtoring

die-enigste-heuweltjie-in-punta-del-este

Heelwat van die winkels se pryse is in dollars gemerk, natuurlik gemik op die ryk Argentyne. Die ontwerperswonings laat my van vensterkopies vergeet. Glassuile word baie gebruik – jy kan regdeur sommige van die huise sien. See-uitsig voor, heuwelagtig en groen agtertoe. Twee uit drie huise vertoon eksklusief – dit moet lonend wees om hier argitek te wees.

MIK VIR MALDONADO

Plaaslike busse loop regdeur die dag van Punta del Este, deur Maldonado, na Jose Ignacio. Maak net seker hoe laat die laaste een terugry. Maldonado se strand is baie gewild onder die jongklomp; daar’s ‘n handvol karaktervolle gastehuise; die winkeltjies is meer bekostigbaar en plek-plek kry jy ‘n skramse sigeunergevoel.

Klim eers af van die bus waar dit lyk of die woonbuurt begin. Voor dit is daar verbeeldinglose woonstelle wat aan die Strand herinner. As jy stip na die “Swaying Bridge” deur die busruit kyk, laat dit jou effe seesiek voel. Sommige van die winkelname laat jou dink daar was ‘n sameswering om by dieselfde Noord-Afrika tema te hou: Fez, Morocco en Inshalla.

La Posta del Cangrejo in Maldonado is een van die min plekke in Uruguay wat in 1000 Places To See Before You Die (deur Patricia Shultz) genoem word. Dis ‘n groot huis met ‘n tuin wat uitloop op die see; Toskaanse dak wat ook Spaans kan wees; ietwat verweerde meubels; en ‘n eilandjie wat van ver gesien kan word as jy seewaarts kyk. Eerste indrukke tel, soos ons kleintyd geleer word, maar wat blywend was, was die uitmuntende diens oor middagete. Die plek self is nie iets wat ek noodwendig op ‘n lys van ervarings sou plaas nie.

NAOMI CAMPBELL SE UITHANGPLEK

Jose Ignacio is ‘n goeie vermenging van Punta del Este en Maldonado. Die strand is witter as Maldonado s’n; die huise kleiner as Punta s’n; daar is twee bekroonde restaurante wat moeilik hul gelyke sal vind; en dan het hulle die allermooiste vuurtoring (hier gaan ons al alweer) mét publieke toegang.

jose-ignacio-is-nie-oorontwikkeld-nie

Vir 15 peso’s klim jy tot bo in die faro en die uitsig van bo is ongeëewenaar. Daar lê selfs ‘n bootjie onder op die strand – asof ‘n foto-sessie daar moet plaasvind. Jy klim op met ‘n nou, soliede, kronkelende sementtrap – net die laaste stukkie is van staal.

Langsaan die vuurtoring is een van die welbekende restaurante, Los Negros. Dis ‘n netjiese houtgehuggie wat groen, rooi en wit geverf is. Waar jy inloop, staan twee houtbankies en ‘n kaktus in ‘n pot. Binne-in is die kleurskema heeltemal verskillend – blou en room, en orals op die muur is uittreksels uit gedigte geverf. Die matte dateer uit die sewentigs; die vensters is nie te skoon nie; die see is net daarbuite; en die atmosfeer wil jou nie laat los nie.

Weereens is alles binne stapafstand. As Punta del Este soos Plett is, is Jose de Ignacio dalk soos Franskraal, net mét styl. Ek wonder nog waar La Huella (die ander bekende restaurant) is; toe loop ek by wyse van spreke daarin vas.  Die restaurant is in ‘n ou houthuis op ‘n lae duin. Nie baie omgewingsvriendelik om daar te bou nie, maar dit maak dit die lekkerste kuierplek wat ek nog op hierdie kontinent gesien het. Die hout is uitverbleik. Die houtstoep strek reg rondom. Daar is tafeltjies waar jy met jou voete in die sand sit. Alles is roomkleurig met turkoois aksente; dis eenvoudig dog elegant.

la-huella-restaurant-op-n-duin

Ek bestel chardonnay wat soos by die huis proe. My ravioli smelt in my mond, die vulsel soeterige pampoen (maar gelukkig glad nie soos my ouma s’n) en die quattro formaggio-sous ryk en souterig. Dit proe self of die tekstuur van die pampoen selfs in die vulsel behoue gebly het. Ek besin oor my en die lewe en hou sommer stiltetyd terselfdertyd.

sit-met-jou-voete-in-die-sand-by-la-huella

Oppad terug na die busstasie bekyk ek die huise op groot erwe. Dis modern, of geërf-by-familie, of oud en oorgedoen, of sommer net laat staan. Alles lyk tog in pas met mekaar, en daar is nog baie oop erwe wat wag om opgeraap te word.

Terug in Punta is ek betyds vir die laaste stuiptrekkings van ‘n branderplankrykompetisie. Voor die son heeltemal verdwyn, drink ek ‘n skemerkelkie by Company Bar wat ondanks die oninspirerende naam op die see uitkyk.

URUGUAY SE EIE WIT HUIS

Ek is nog nie gereed vir terug-na-die-hoofstad nie. ‘n Mini-leeftyd gelede, of so voel dit, het ek van Casa Pueblo (ook genoem Casa del Pueblo) gelees. Dit lê aan die buitewyke van Punta del Este.

Dis gekonseptualiseer deur Carlos Páez Vilaro, ‘n vriend van Picasso en die pa van een van die Urugaanse rugbyspelers wie se vliegtuig in die Andes neergestort het. Carlos is ook ‘n skilder en beeldhouer in eie reg. Eers was dit sy privaathuis, maar later is dit omskep in ‘n boetiekhotel cum kunsgalery.

carlos-paez-vilaro-die-eienaar-van-casa-del-pueblo

casa-pueblo-net-buite-punta-del-este-het-geen-skerp-hoeke-of-tradisionele-vorms-nie

Casa Pueblo is ‘n casa blanca (wit huis) met geen 90º hoeke. Daar is ronde kante, torinkies, ‘n onverwagse teël, uitgerekte sementpuntjies, ‘n balkon of ses, ‘n rietdakkie hier en daar. Ek vry met die Siamees op ‘n terras, maar mag ongelukkig nie die kamers sien nie. Goedkoop wyn word per glas bedien, maar dit doen nie afbreuk aan die gevoel van daar wees nie.

die-naam-vertoon-amper-ongewoon-teen-die-res-van-die-argitektoniese-detail

Voor ek my terug na Montevideo begewe het, het ek eers ‘n gebreide aandhandsak in Punta gaan haal – ek wou monetêre selfdissipline toepas, maar die kabels het my verlei.

BESTE MAALTYD: by La Huella, Jose Ignacio

KOOP: bekostigbare Morokkaanse dekor by een van die talle winkeltjies in Maldonado of                   by hul hippie-mark

BESOEK: Jose Ignacio en Punta del Este se vuurtorings

DAG-EKSPEDISIE: Casa Pueblo net buite Punta del Este

casa-pueblo-se-kat-kry-n-drukkie

Leave a comment

Information

This entry was posted on February 11, 2017 by in Suid-Amerika.