First published in Rapport, April 2021
In die laat 1960’s het ‘n gesiene plaaslike reisskrywer – billikheidshalwe word sy naam maar verswyg – Franschhoek beskryf as “ietwat van ‘n antiklimaks” en ‘n “sukkelende dorpie” wat weinig meer bied as “een onnoemenswaardige straat ontdaan van bome”. Die enigste “pièce de résistance van die dorp” was die “indrukwekkende Hugenote-Gedenkteken en –Museum”.
Sedertdien het daar al baie water in die see geloop. Deesdae is dit die allerlaaste beskrywing wat aan Franschhoek toegedig kan word. Die Vignerons de Franschhoek-webwerf lui hul beskrywing van Franschhoek heel gepas in met “wye oop ruimtes, vars seisoenale kos en asemrowende uitsigte”.
Wat egter steeds soos ‘n paal bo water staan, is dat die Hugenote-Gedenkteken en –museum stééds beïndruk. Boonop het die Hugenote-Vereniging van Suid-Afrika die afgelope drie jaar baie rande spandeer om die uitstallings in die Saasveld-museumgebou in Franschhoek te vernuwe. Só vertel dr. Andrew Kok, voorsitter van die Hugenote-Vereniging.
In 2021 is dit net mooi die 333ste herdenking van die aankoms – op 22 Oktober 1685 – van die Hugenote in die Kaap.
Die Hugenote-Gedenkmuseum is ‘n rekonstruksie van die 18de-eeuse Saasveld-herehuis wat oorspronklik vir Baron William Ferdinand van Reede van Oudtshoorn naby die huidige Kloofstraat in Kaapstad gebou is. Dié herehuis is vernoem na die Saasveld-kasteel in Nederland wat sedert die 1300’s in die Van Reede-familie se besit was.
‘n Goue draad bind ons saam
Die Hugenote-Gedenkmuseum vertel die storie van die Hugenote in ‘n nuwe styl en bring dit in konteks met die wêreldwye verskyning van vlugtelinge. Die tema van die Gedenkmuseum is “Vryheid”.
Die fokus is op vryheid van godsdienstige én politieke onderdrukking.
Bostaande tesame met die geskiedenis van die Hugenote en hul nalatenskap in Suid-Afrika word in ses individuele vertrekke in die Gedenkmuseum uitgebeeld.
Dr. Andrew Kok sit dit so uiteen: “Die uitstallings begin met die Hugenote se tydlyn wat begin met die Reformasie in 1517 en dan vertel van die godsdiensoorloë totdat dit eindig met die herroeping van die Edik van Nantes en die vlug na ander wêrelddele.” Daar word ook uitgebeeld dat “migrasie en vlug ’n wereldwye verskynsel oor eeue heen is”.
Hy vertel verder: “Die tweede vertrek se tema is vlug. Hier word die verspreiding van Hugenote oor die hele wêreld uitgebeeld.” ‘n Volledige lys van Kaapse Hugenote is te siene.
“Gewyde tekste is die tema van die volgende vertrek. Bybels wat aan Hugenote-families behoort het word hier uitgestal. Bekende Hugenote Psalms speel sag in die agtergrond.”
Die vierde tema is tuiste. Teen ‘n groot saalmuur is ‘n verskeidenheid stoelartefakte wat aan Hugenote-families behoort het, opgehang om onder andere die plek van die kerkstoel en sosiale stand van mense uit te beeld. Voorts is daar ‘n uitstalling van pragtige porselein sowel as plaasinstrumente en ‘n allemintige stookketel.
Op ‘n aangrensende muur is ‘n muurskildery van die Franschhoekvallei waarop die woorde “dese wilde en woeste land” die tydsgees van toentertyd opsom. Daar is ook ‘n groot kaart van die Kaapkolonie wat aandui waar die Hugenote-plase was.
Die vyfde tema is familie. In hierdie vertrek word onder andere ‘n versameling dooprokkies met opnaaiseltjies, kantwerk, strikkies en lintjies en ‘n houtwiegie met ingewikkelde houtsneewerk en blommotiewe tentoongestel.
Die laaste vertrek staan onder die tema nalatenskap. Hier word vertel van bekende Hugenote-nasate waaronder Marlene le Roux, bevorderaar van die kunste en aktivis vir die regte van gestremdes en vroue; Adriana Marais, fisikus, innoveerder en voornemende ruimtereisiger; tenniskampioen Roger Federer, die seun van Hugenoot-nasaat Lynette Durand; Springbok-rugbykapteine Morné du Plessis en Francois Pienaar; Koos Kombuis, sanger-skrywer; en Charlize Theron, aktrise, produksieleier en vroueregteaktivis.
Daar is ook meer oor die Hugenote-nalatenskap t.o.v. die ontstaan van Afrikaans, godsdiens en die wynbedryf.
‘n Kykie in die verlede
Van die interessantste items in die Hugenote-Gedenkmuseum sluit in: ’n stokou Arabiese-Afrikaanse teks, godsdienstige tekste soos Franse Bybels, Nederlandse psalmboeke (Psalters), ‘n Nederlandse Bybel gedruk in 1741en die New World-vertaling van die Bybel in isiXhosa, eetservieste, ‘n perskevormige Chinese wynkruik (raaiselfles) wat onderstebo volgemaak word deur ‘n pypie wat van onder af boontoe loop, ‘n agtkantige hol porseleinbord wat met warm water gevul word om kos warm te hou, ‘n bokwaentjie uit die vroeë 1800’s, ‘n Amsterdamse staanhorlosie, ‘n Franse speserykassie, ‘n handorreltjie uit 1866 wat met die regterhand bespeel terwyl met die linkerhand gepomp word, reusekoperbedverwarmers, ‘n houtkissie met houtballe waarmee nessies vir die verpakking van sagtevrugte gemaak is en ‘n rol van die eerste geperforeerde toiletpapier wat te kry was(!).
‘n Besoek aan die Hugenote-Gedenkmuseum is definitief nie net vir diegene wat in geskiedenis belangstel nie.
Taalliefhebbers en –kundiges sal hul verlustig daarin dat uitstallings in Afrikaans, Engels, Frans en isiXhosa is; kalligrafie-entoesiaste sal hul verkyk aan die reliëfbeelde van die handtekeninge van Hugenote; as jy flink met ‘n hekelpen is, sal die allerfynste hekeldoilies jou inspireer; en as jy in genealogie belangstel, kan jy meer oor Suid-Afrikaanse Franse vanne leer of jou verstaar aan die portret van Daniel Hugo met 12 van sy 16 kinders waarvan omtrent al die seuns baarde het wat tot op hul bors hang.
Moenie die versoeking weerstaan om ‘n breëglimlagselfie voor een van die skilderye met stywelip-Hugenote te neem nie. Wat is die lewe dan nou sonder ‘n skeut humor?!
Buiten die Saasveld-gebou en Anneks, is die Hugenote-Monument ‘n sieraad vir die dorp. Dié vrouefiguur onder drie lugboë kyk uit oor ‘n waterpoel en ‘n uitgestrekte grasperk.
Tydens toegangsure kan jy jou eie kombers en mandjie bring en hier – of in die natuurtuin met sy asemrowende proteas – kom piekniek hou. Of kom joga doen!
Skuins na agter, neffens die Natuurtuin, is ‘n atmosferiese begraafplasie waarin jy kan ronddrentel terwyl dit voel of die Franschhoek-berge oor jou buig.
Die eerste Suid-Afrikaanse Parfuummuseum word ook nou op die terrein gehuisves.
Dis dus g’n wonder dat verskeie reisblogs die Hugenote-Gedenkmuseum as een van die beste klein museums ter wêreld beskou. Aldus dr. Kok.
Planne vir die nabye toekoms sluit in ‘n drafroete, Slow Market, gedenknismuur en piekniekmandjies wat op die terrein verkoop word.
Die Hugenote-Vereniging werk hard daaraan om die Franschhoek-vallei as ‘n Vryheidsroete te vestig. Vryheid is per slot van sake iets waarmee elke Suid-Afrikaner hul kan vereenselwig.
V staan vir Vryheid
Begin jou daguitstappie by die ikoniese standbeeld van Nelson Mandela by die ingang van Drakenstein-gevangenis waar Mandela die laaste deel van sy gevangeneskap geslyt het.
Besoek ook Pniël Museum (maak seker van toegangsure op Facebook of skakel hulle vooraf) tussen Stellenbosch en Franschhoek waar jy meer kan leer oor hoe hierdie voormalige sendingstasie ‘n toevlugshawe vir bevryde slawe geword het.
Op Solms-Delta-wynlandgoed kan twee museumpies besoek word: Museum van de Caab oor die plaas se geskiedenis en die vryheid van slawe in die Kaap en Musiek van de Caab en (skakel vooraf).
en die Hugenote-Gedenkmuseum: https://huguenotmuseum.org.za/
Volwassenes R80
Studente/kinders R40
Haute Cabrière is ‘n hanetree weg
Skuins bokant die Hugenote-Gedenkmuseum kyk jy vanuit die terras by Haute Cabrière oor die museumgronde, die dorp en die hele Franschhoek-vallei uit.
Hier smul jy aan lynvis met eiervrugblatjang, soetmielie-en-sprietui-risotto, kerriecalamari met fyngedrukte avokadopeer en oesters met umami-geure.
Sat: 11h30-18h30
Ma-Won: gesluit
Baie interessant! (Sou darem graag die breëglimlagselfie ook wou gesien het 😉)
Pragtig!
Groot dankie, Nikita.
Fabulous article as always!
Dankie, soos altyd, Tannie Frannie!
A, thank you, Auriel Jordaan.