ilsezietsmanblog

Travel and a bit of shopping

Smaakbekers van Estland

First published in Die Burger, November 2016

Tallinn, Estonia is so 'n besondere plek om te besoek

Estonians are fiercely proud and fairly reserved

Toe ek meer as ‘n dekade gelede vir die eerste keer op Raekoja Plats (Stadsaalplein) in Ou Tallinn, Estland gestaan het, was ek so verlief op die plek dat ek leepoog na alles om my gestaar het. Vóór ek nog al die kobbelstegies en kelderrestaurante verken het, het ek geweet hiernatoe wil (nee, móét) ek terugkeer.

Ilse en Phoebe in 'n kelderrestaurant

Lank terug se eerste besoek aan Estland; binnein ‘n kelderrestaurant geneem

Met my terugkeer was min van die kelderrestaurante met verouderde, maar effektiewe, pypverwarmingsisteme oor – heelwat van die grondverdiepings van die ou regop wonings is nou omskep in eetplekke van wêreldgehalte.

By Controvento in Katariina Kaik, die mooiste straatjie in die hele Tallinn, eet jy Italiaans; Bonaparte is gewild vir jenewermengeldrankies en hul bistro-spyskaart (La Motte Sauvignon Blanc pryk op hul wynlys); en die luukse Schlössle Restaurant bedien vanielje-gemarineerde kammossels op gedroogde preinessies, truffel-en-heuningbokmelkkaas met droëseewier en bloubessies, en pistasieneut-en-piesangkaaskoek.

Europese en Suid-Afrikaanse wyne is geredelik beskikbaar. Toeriste is egter nie meer so geredelik te bespeur soos in vorige jare nie.

cape-town-vinoteek.jpg

Cape Town Vinoteek

Dit bestaan nie meer nie, maar ek was verstom om op ‘n wynwinkel genaamd Cape Town Vinoteek af te kom! Engels kon hul nie praat nie en ek kon nie aan hulle wysmaak dat die Stellenzicht- en Neethlingshof-wyne op hul rak van mý land afkomstig is nie.

Uit die aard van hul klimaat is die meeste Estlandse kos swaar; daar’s baie stysel; daar’s baie vleis en aartappels; en suurroom word mildelik voorgesit. Tuis bedien ek ook nou suurroom saam met ‘n regte boerebredie.

Olde Hansa is ‘n toerisgerigte Middeleeuse restaurant in die eertydse huis van ‘n welgestelde handelaar net om die hoek van die hoofplein. Jy kan vooraf vir ‘n fees bespreek soos wat die Koopman-Gilde van weleer sou geniet het of op die ingewing van die oomblik vir heuningbier en sult aansit.

By Die Goue Varkie smul jy aan haring en salm

By Die Goue Varkie smul jy aan haring en salm

Kuldse Notsu Korts (dit beteken Die Goue Varkie) spesialiseer in tipiese Estlandse geregte waarvoor hulle hul oumas en oumagrootjies se resepte gebruik. Buite is die vensterplantbakke in die vorm van pienk varkies; binne smul jy aan komynkaas, uiekonfyt, Baltiese haring, kaviaar, lewerpatee en bloedwors.

In Ou Tallinn is soveel restaurante en drinkplekkies waar jy wil sit om die atmosfeer te ervaar, dat ses klein maaltydjies per dag – of gereelde glasbekers glugg (warm speserywyn) – aanbeveel word. Saam met mede-Bolander Vicki, vir wie wyndrink ook ‘n daaglikse ritueel is, was dit ‘n moeitelose onderneming.

By Gloria Veinikelder sit jy ín die dikke stadsmure – binne is vertrek op vertrek met wynrakke waar ons Rust en Vrede houtwynboksies opmerk – van die klipvloer tot teen die klipplafon. Die kelders is binne-in die stadsmure gebou vóór Columbus Amerika ontdek het, verklap hul webtuiste.

By Balthasar op die Stadsaalplein eet jy alles en enigiets met knoffel; selfs knoffelbier en knoffelroomys. ‘n Voorgeregbord sluit in: pruimedante sowel as olywe gevul met knoffel én piekelknoffel, olyf-en-knoffelpesto. So kom ek om, so kom ek – met knoffelasem en al – om; dus volg preiesop met kreefstert, parmesaan en baie knoffel hierna.

Die knoffel-creme brulee was tot my spyt uitverkoop. Nederburg Winemaster’s Reserve Riesling, Simonsig Tiara en Lyngrove Platinum verteenwoordig Suid-Afrikaanse wyne op die uitgebreide wynlys.

By Troika, ‘n Russiese restaurant waar ‘n lewensgrootte opgestopte speelgoedbeer met ‘n trekklavier jou by die deur begroet voor jy teen die trappies afstap, kan jy beerpastei eet as jou gewete jou toelaat. Myne het nie. Troika is bekend vir hul petrovskiye (Russiese koolsop), blini’s en Kossak-frikkadelle.

Tradisionele glugg (baie soos gluhwein) word amper orals bedien – onderkant Kiek in de Kok, een van die ou wagtorings uit die 1400’s wat behoue gebly het, is ‘n nou gangrestaurantjie waar ons onbepland ure verwyl; naby Alexander Nevsky Katedraal klim ons teen ‘n steil trap binne-in die stadsmuur op en sit op die houtbalkon wat vir ‘n hele paar meter langs die muur strek; by ‘n reuse uithangstewel drink ons van die lekkerste glugg nog.

In 2000 was die energie in Estland – na hul hul Russiese juk afgeskud het – amper tasbaar. Orals was ‘n gewoel en werskaf soos wat die Estlanders van voor af begin het. Geboue is nuut oorgeverf – steeds in die oorspronklike donkerige pastelkleure – en jy kon amper voel hoe hul reikhalsend na ‘n nuwe begin uitsien. Dit het so half gevoel na ‘n Hollywood-fliek waarin almal saamwerk, nooit stry kry nie en ‘n gemeenskaplike doel in oog het.

Daar’s amper nêrens Engels gebesig nie; daar was nog heelwat Russe in Tallinn self. Musiek uit veral die tagtigerjare is orals gespeel so asof die Estlanders aan die inhaal was aan dit waarop hul voorheen uitgemis het.

'n Ou-styl koffiewinkel, Maiasmokk, in Tallinn

‘n Ou-styl koffiewinkel, Maiasmokk, in Tallinn

In die oudste koffiewinkel in Estland, Maiasmokk, was daar drie winkelassistente, maar die klante het oudergewoonte steeds – selfs ‘n paar jaar na onafhanklikwording – in een lang ry gestaan. Selfs onder kommunistiese bewind het Maiasmokk nooit sy deure gesluit nie.

Tans praat amper almal Engels; musiek van plaaslike rockgroepe blyk gewild te wees; en in Maiasmokk is rye iets van die verlede (ek’t spesiaal weer gaan inloer om myself te vergewis of dit wel so is).

Aan die onderpunt van Tallinna Raekoda (Tallinn Stadsaal) is Tristan & Isolde, ‘n klein hoekrestaurantjie waarheen almal vir takboksop en peperschnapps stroom.

By Tristan & Isolde word alles op ‘n speelse manier bedien; jy word selfs ligweg aan’t tafel beledig. Jy kan net elk(eland)-sop of vleispasteitjies eet. Geen lepels saam met die sop; hier word daar verwag dat jy daaraan moet slurp. Daarmee saam is daar groot vingerhoedkommetjies met peper-schnapps, of bier of wodka.

'n Middeleeuse toilet in 'n restaurantjie op die hoofplein

‘n Middeleeuse toilet in ‘n restaurantjie op die hoofplein

Elke keer as ek na Estland – en die glugg – verlang, troos ek myself met ‘n tipies Estlandse voorgereg wat ‘n paar minute neem om aanmekaar te slaan.

Al wat dit behels, is om snytjies Franse brood ligweg te rooster, en terwyl dit nog warm is, eers ‘n halfmaantjie piekelknoffel gevolg deur ‘n plakkie cheddar-of gouda bo-op te plaas. Bedrup dan met warm heuning. Eet oombliklik voor dit koud word.

George Bernard Shaw het op ‘n keer gesê: Ek hou nie daarvan om tuis te voel as ek reis nie.

Ek kan nie meer saamstem nie –in Tallinn, Estland is alles vreemd en ongewoon, tog op ‘n knus manier.

Gepantser teen die koue - beanie, dik truie, kombersies en rooiwyn

Gepantser teen die koue – beanie, dik truie, kombersies en rooiwyn

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Information

This entry was posted on February 6, 2019 by in Afrikaans foodies and tagged .
%d bloggers like this: