ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Przno is pragtig

First published in Beeld, September 2020

Die strandjie by Przno kyk uit op ‘n rotsagtige eilandjie en vissersbootjies

Hoe spreek ‘n mens die naam van die vissersdorpie, Przno, in Montenegro uit? Ek is self nie heeltemal seker nie, maar vir my klink dit soos die geluid wat jou kat maak as hy langs jou op die bed of op jou skoot spring. Dus “Hier is ek!” in kattetaal, maak ek myself wys.

Die restaurantkat by Konoba More word so ewe parmesaan deur die kelners gevoer

Dis net nóg een van die baie redes om versot op Przno te raak. En, glo my, ek wil nog die toeris ontmoet wat nie halsoorkop verlief op dié plekkie raak nie.

Przno is idillies mooi, werklik idillies mooi

Ek kan my wel indink dat Przno noodwendig baie van sy sjarme in hoogseisoen inboet wanneer daar ‘n musiekverhoog op die piepklein strandjie opgerig is en derduisende vakansiegangers hiernatoe stroom. Aan die noordekant van Przno is ook weliswaar meer onooglike vakansieoorde.

Die sandstrandjie by Przno is piepklein; in die piekseisoen word hier, helaas, ‘n musiekverhoog opgerig

Sou jy egter ietwat vóór of ná die seisoen Przno besoek, kan jy die “atmosfeer van ‘n outentieke vissersplekkie met ‘n tradisionele manier van visvang” inadem, aldus hul webwerf.

Kliphuisies, blombakke, malvas en ‘n blou deur

Hoewel dit maar enkele minute neem om van die een kant van Przno na die ander te loop, noop die klipgeboutjies met blou hortjies, blombakke met malvas en petunias en klimop wat teen die mure rank, jou om te draal en elke hoekie te bekyk.

Deel van die lekkerte van ‘n besoek aan Przno is om te kies by watter restaurant jy wil aansit

Vir so ‘n klein plekkie huisves Przno ‘n handvol goeie restaurante waarvan die meeste ‘n lieflike uitsig oor die see het.

Die geselligste aand van ons hele vakansie in Montenegro was by Konoba More in Przno

In die baaitjie van Przno lê vissersbootjies met gekoekte visnette, oranje boeie en knoetserige rotseilandjies. Op een rotseiland – dit lyk so na aan die strand dat ‘n mens voel of jy halflyf deur die water soontoe kan stap – is ‘n klipruïne waarvan die dak al lankal deur die wind en weer afgetakel is. Terwyl ons by ‘n restaurantkroeg bier gedrink het, het van die vissermanne met ‘n klein bootjie na ‘n ietwat groter bootjie geroei, net om op hul bootdek te sit en self ook ‘n bier of twee te drink.

Op Przno se strand of by een van die restaurantjies voel dit of jy op ‘n eiland vakansie hou

Die son sak aan die oorkant van die baai van Przno. Meer idillies gaan jy ver reis om te kry.

Die eienaar van Konoba More (Restaurant More) vang self vis

Die mees outentieke restaurant, wat ook die beste uitsig het, is Konoba More. As jy sien daar staan konoba, weet jy dis ‘n informele restaurant of restaurantkroeg wat dikwels ook pizza op die spyskaart het.

Konoba More is die top restaurant in Przno op TripAdvisor

Konoba More is die top restaurant in Przno op TripAdvisor.

By Konoba More sit jy op ‘n klipterras (hoewel daar ook binne sitplek is) vanwaar jy sommer jou voete in die water kan laat hang.  Ek kon dit nie weerstaan om die vissies wat onder ronddartel met krummels te voer nie. Dalk is die kelner deur my voer van die vissies geïnspireer, want hy het terstond vir die restaurantkat parmesaankaas gebring. Dié grysstrepiekat blyk gewoond aan die lekkerny te wees en het nie op haar laat wag nie.

In die baaitjie van Przno dobber visbootjies op blink, plat water

Konoba More is in ‘n huis van meer as 500 jaar oud gesetel. Gaan loer na die foto’s wat binne opgeplak is   ̶   dis fassinerend om te sien hoe die Joego-Slawiërs (Montenegro was tot minder as 20 jaar gelede deel van Joego-Slawië) ‘n paar dekades gelede vakansie gehou het en watter groot visse hulle in die baai gevang het.

Die seekosrisotto by Konoba More is eenvoudig voortreflik

Hoewel Konoba Mare ‘n uitgebreide spyskaart het, sou ek aanbeveel dat jy liefs seekos hier eet, veral aangesien die eienaar self gaan visvang. Die risotto met seekos is hoogs aanbevole; saam met die uitsig terwyl die son sak en die vriendelike diens was dit die spesiaalste aand van ons hele vakansie in Montenegro.

As die piekseisoen aanbreek, is Konoba Zago stampvol

Waar dit die ander restaurante in Przno aangaan, is Konoba Zago veral bekend vir sy visdisse, sy knus atmosfeer en die ongesensureerde stories van die eienaar as hy die dag lus is om te praat; Blanche is baie gewild onder toeriste hoewel dit ‘n paar meter vanaf die strand geleë is;  en Il Brodetto se fantastiese ligging spreek vanself.

Vanaf Przno kan jy deur die Milocer-park onder seder- en dennebome deur na Sveti Stefan (‘n mini-bestemming opsigself) loop. As jy nie stilstaan om telkens die uitsig te bewonder nie, sal dit jou net 20 minute neem.

Die eiland Sveti Stefan

Sveti Stefan is die naam van die mooiste eilandjie op die kus van Montenegro asook van die woonbuurt direk oorkant. Sveti Stefan-eiland is deur middel van ‘n landengte, ‘n smal strook land, met die vasteland verbind.

Om verblyf in Przno te vind, is ‘n redelik onbegonne taak behalwe as jy nie omgee om in een van die hotelle ‘n entjie weg van die strand te bly nie. Ons het ‘n woonstel in Sveti Stefan op Airbnb bespreek en heen en weer na Przno geloop.

Die kusdorp Budva is minder as 10 kilometer vanaf Przno en bied ook ‘n verskeidenheid verblyfopsies.  Daar loop regdeur die dag busse tussen dié twee dorpe. ‘n Eenrigtingkaartjie kos 1.5 euro (sowat R24).

Die son sak oor Przno

Sou jy wou gaan:

  • Hoe om daar te kom en jou visum: Verskeie lugrederye vlieg vanaf Johannesburg na Podgorica, die hoofstad van Montenegro.  Vlugkaartjies begin by sowat R8000 as jy nie in die piekseisoen vlieg nie. Hoewel jy vir ‘n visum by die ambassade van die Republiek van Serwië (www.srbembassy.org.za) kan aansoek doen, kan jy ook met ‘n Schengen-visa Montenegro besoek. Dit beteken dat jy eers na ‘n bestemming wat ‘n Schengen-visa vereis, moet vlieg. Ons het veiligheidshalwe vanaf die webwerf die inligting uitgedruk sodat ons dit kon toon indien die doeanebeamptes nie van hierdie toegewing bewus was nie. Montenegro het nie hul eie ambassade binne Suid-Afrika nie. Meer inligting is verkrygbaar by: www.visit-montenegro.com/montenegro-visa-regimes/south-africa/
  • Wanneer om te gaan: In Julie en Augustus is die hele kus van Montenegro soos sardientjies gepak. Dit raak reeds teen die middel van Junie besig. Die beste tyd om te gaan is in Mei of in vroeg Junie.
  • Hoe om van Podgorica na Przno te kom: Bus- en treinvervoer is beskikbaar. Vind meer uit by: www.rome2rio.com/map/Podgorica/Pr%C5%BEno-Budva-Montenegro
  • Lees meer oor Przno: www.przno.com
  • Kyk na die spyskaart by Konoba More: www.konobamore.me  

Leave a comment

Information

This entry was posted on February 19, 2021 by in Europa.