ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

EET EN DRINK SOOS… ‘N KAPENAAR

First published in Die Burger, October 2012

(Since this article has been published some details have changed)

Kuslangs, oor die berg of voor die berg, ‘n daguitstappie in die Wes-Kaap lewer heelwat lekkernye op vir smulpape.

Klink ‘n vonkelwyntulpglas by die Steenberg Hotel

Dis sjiek, o so sjiek. Die toonbank is lank en blink. ‘n Ry ronde koperkleurige ligte gloei warm en reflekteer alles wat gebeur. In groot ronde ysbakke wag die Graham Beck Cap Classique om geskink te word. Langsteel-orgideë buig oor jou skouer. Gorgeous-letters flikker subtiel. Sjarmante kelnerinne beveel die canapés aan. Behalwe vir Saldanha-baai oesters is daar salm met ‘n geposjeerde kwarteleiertjie en kaviaar; ‘n garnaal met piekelgemmer en sesame-slaai; ‘n aspersie-en-bokmelkkaas risotto-kroket wat met wit truffelolie bedrup word asook bessie-terrien met sjoksous.

DSC_0667

Gorgeous… is soos hul naam klink!

Na sulke dekadente aptytwekkertjies kan jy wegsink in die sagte stoele by Catharina’s, oor die wingerde uitkyk en besluit waarvoor jy nóú lus is.

Gorgeous, Steenberg  Estate, Constantia

www.gorgeousbygrahambeck.com

Tel:  021 713 7177

Sit by die soutwaters

By Gaaitjie kan jy sommer bo-oor die stoepmuur tot op die strand spring. En al die pad verby die horison kyk of jy Sjina kan gewaar. Tot jou aandag afgetrek word deur ‘n handvol Paternosterlinge wat oor die sand aangedrentel kom, skottel onder die arm, om ‘n entjie verder seekos te gaan oes.

Op jou tafel dien skulpe as servetringe en die enigste ander tafelversiering is glaspotjies gevul met skulpgruis. Binne is daar ‘n lourierkrans visse (wat mekaar se sterte byt) op ‘n badkamerdeur geverf en sitrus lê op ‘n droë palmblaar. Die ene elegansie by die see.

Snoek en appelliefies word met ‘n tamarynkarringmelksousie gepaar; daar’s mosselsaffraansop met potbrood; Suid-Afrikaanse swier word gevier met van atjar tot boegoe-olyfolie asook met lensie-brijanie, kwepers, suringslaai, sousboontjies, druiwemos en fynbos-heuning.

By Gaaitjie weet jy nooit wat om te verwag nie, want die spyskaart verskil van dag tot dag. Na ‘n loom middagete kry jy soms ‘n knertsie soetwyn van Klawer en ‘n soetkoekie om daarin te doop.

Gaaitjie, Paternoster

Bo-op die bult aan die onderpunt van Sampsonstraatjie

www.saltcoast.co.za

Tel: 022 752 2242

Onder die bome met ‘n skilder

Bome in ‘n skaduryke tuin, lemmetjiegroen bome op stoelleunings, bome op porselein-lampkappe. Dis Pierneef-bome en dis kos wat proe “alsof een engeltje over je tong fietst” soos die Nederlanders dit so poëties stel.

Al die elegansie plaas geensins ‘n demper op die gemak waarmee jy jouself in die tuin, of selfs op ‘n rusbank in die restaurant, kan tuismaak nie. Dis net die plek om van die alledaagse sleurgang in jou lewe te vergeet.

Soos dit ‘n plek van hierdie kaliber betaam, wissel die spyskaart gereeld. Vorige gastronomiese treffers sluit gemsbok-risotto en oop sampioen-lasagne in. Die nageregte laat jou vergeet van jou heupe se rondings; jy dink net aan dit wat jy nounet by jou buurman of –vrou se tafel gesien het. En aan hoe dit in jou mond gaan smelt…

La Motte was die algehele Suid-Afrikaanse wenner van die Wyntoerisme –Toekenning van 2012.

Pierneef by La Motte, R45, Franschhoek-vallei

www.la-motte.com

Tel: 021 876 8800

Kyk uit oor wingerde al die pad na die Kaap

Tokara se glans het nog nooit verflou nie. Onder Bonthuys was hier kwartel met aarbeie sowel as beesstert met tentakelkalamari; onder Richard Carstens snak na jy jou asem as jy van die waaghalsigheid van gebakte Alaska-forel met gerookte salm-roomys hoor. Die bieftartar is ‘n smorgasbord van delikate geure en pinkienaelklein verrassinkies. Botterskorsiesop verras met basilie-olie en verborge tekstuur. Die idee van koeksisterroomys laat ons glimlag.

Vanaf die ruim houtdek kyk jy amper tot by Simonstad. Oppad na die wynproelokaal stap jy verby ‘n houtpop met ‘n atlaskaartrompie wat gesprekke inspireer. Tokara se kuns praat met jou siel; die inhoud van hierdie sielsgesprekke wissel deurentyd.

Tokara, Helshoogte-pad, Stellenbosch

www.tokara.co.za

Tel: 021 808 5900

Binne-in die berg

‘n Restaurant in ‘n uitgeholde heuwel  in die Franschhoek-pas is enig in sy soort. Dis net na die knikkie in die pad na bo en voor die deel van die pad waar die kese speel.

Haute Cabriere kon netsowel in die Franse platteland geleë gewees het. Gelukkig vir ons spog die Boland met hierdie unieke konseprestaurant.

Hier word sabrage met ‘n flink pols beoefen terwyl almal oor die vallei uitkyk. Binne-in is dit koel in die somer en knus in die winter. Soveel plekke beloof deesdae dat ‘n ondervinding op jou wag; by Haute Cabriere ís dit so. Dit kan mos net verwag word van ‘n wynplaas wat in 1694 aan ‘n Franse Hugenoot, Pierre Jourdan, toegeken is.

Bespreek die ondergrondse kelder met sjampanje-bottelkandelare of drentel maar net by die trappe af om daar te gaan inloer. Van Achim von Arnim se kuns pryk teen die mure van die restaurant. Peusel aan oesters op die terras. Daar’s landingsplek vir ‘n helikopter (jy het weliswaar jou eie helikopter nodig).

Haute Cabriere

http://www.cabriere.co.za

Tel: 021 876 3688

Die kombuis is ‘n teater

Myoga (maai-ou-gha) is Japanees vir gemmerbloeisel. Vergeet van boereraat Jamaika-gemmer; dink aan kontemporêre slaan-jou-asem-weg kombinasies met of sonder gemmer. Of aan ouma-se-gunstelinge soos macaroni-en-kaas opgedollie met bokmelkkaas, tamatieblatjang en vars basilie. Porsies is stewig genoeg sodat jy nie jou lippe aflek vir nog nie, maar genoeg uitsien na wat volgende uit die alchemistiese kombuis gaan verskyn.

DSC_0552 - Copy

In die tuine van die Vineyard Hotel

Die proe-opsies voel amper legio en dit kos naels kou om ‘n besluit te maak. Terstond word daar besluit om dan maar vir die daaropvolgende week weer te bespreek. ‘n Sewe-gang spyskaart met ten minste vyf keuses by elke opsie is waaragtig een van die wonderlikste opsies wat tans by enige restaurant aangebied word.

Die woorde gly van my lippe af (en die geure bly nog draal): soetmielie-pannacotta, knoffelrisotto met truffelroom, gnocchi met soetsuurpeer… gaan ontdek self hoe hier met smake en kombinasies gespeel word.

Myoga, Vineyard Hotel, Claremont

http://www.myoga.co.za

Tel: 021 657 4545

Leave a comment

Information

This entry was posted on June 6, 2020 by in Afrikaans foodies and tagged .