ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Derwisje wat tol

First published in Rapport, June 2018

Daar’s iets hipnoties aan ‘n tollendederwisj-seremonie. Dit kan die sereniteit wees waarmee die derwisje (of Derwiese dansers) in die rondte draai. Dalk is dit die manier waarop hul mantels geleidelik oplig en ‘n lewe – en beweging – van hul eie aanneem. Of miskien is dit die fyntrap van hul voete…

Die Mevlevi-orde waaraan die Turkse derwisje behoort, dateer uit die 1200’s en het in die stad Konya – in die suidweste van Anatolië, Turkye – ontstaan. Tydens die Ottomaanse Ryk het die Mevlevi ‘n bloeitydperk beleef.

'n Ets van 'n Turkse derwisj in 'n boekwinkel in Istiklal Caddesi

‘n Ets van ‘n Turkse derwisj in ‘n boekwinkel in Istiklal Caddesi

Die Sufi-mistikus en digter, Celaleddin Rumi (1207 – 1273) word Mevlana (Ons Leier) deur sy derwisj-dissipels genoem en dis waaraan die orde hul naam te danke het.

Die Sufi-beweging is ‘n mistiese Islam-beweging wat fokus op ‘n innerlike soeke na en ‘n persoonlike verhouding met God.

Die Sufi-derwisje se soeke vind onder andere deur ‘n sema (die Sufi-woord vir seremonie) plaas. Deur in die rondte te tol beleef die derwisje ‘n trans wat dit vir hul makliker maak om spirituele eenheid met God te ervaar.

Toe die Turkse Republiek in 1922 gestig is, is derwisje verban omdat hulle baie konserwatiewe, godsdienstige standpunte huldig. Die verbod teen derwisje het egter nie lank geduur nie.

Deesdae is daar nie meer baie derwisje in Turkye oor nie. Die meeste van dié wat oor is, is steeds in Konya.

'n Derwiese danser wat vir toeriste optree en daarom verskillende gekleurde mantels dra

‘n Derwiese danser wat vir toeriste optree en daarom verskillende gekleurde mantels dra

Sou jy geïnteresseerd wees om ‘n sema by te woon – en nie al die pad na Konya kan of wil reis nie – is die Galata Mevlevi-hanesi in Istanbul die plek om heen te gaan. Dis in Istiklal Caddesi (Onafhanklikheidslaan) in Beyoglu, die Europese kant van Istanbul. Hanesi beteken ‘blyplek van derwisje’.  Dis nie net die blyplek nie, maar ook die plek waar hulle dans en vergader.

Met die instap deur die hek sien jy ‘n paar grafte aan jou linkerkant asook ‘n ablusie-fontein (waar die wasritueel voor gebedstye plaasgevind het). Lui katte lê in die son en blaas as jy te na aan hulle kom.

Binne die hanesi sit besoekers in sitplekke rondom die vloer waar die derwisje tol. Die derwisj-orkes sit op die galery. Voorheen was die galery tradisioneel die sitplek van besoekers; vrouens – agter filigreinskerms sodat hulle nie sigbaar is nie – en mans moes apart sit.

Elke beweging van die dans is simbolies. Daar word antikloksgewys getol. Die regterhand wat later in die dansseremonie met palm na bo in die lug gestrek word, ontvang goddelike energie. Die linkerhand met die handpalm na onder dra die genade en lig van God aan die wêreld oor.

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on August 2, 2019 by in Iemand - of iets - wat my fassineer and tagged .