ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

VROLIKE FRASERS FOLLY VLYTBIER

First published in Die Burger, June 2016

Since this article has been published Frasers Folly has moved to Black Oystercatcher Wines. Catch them there!

DSC_0741

Die mees suidelike bier in die land, Frasers Folly

Hoe op deeske aarde beland ‘n Engelsman in Struisbaai en begin bier brou? Boonop kies hy dan vir sy bier ‘n naam soos Frasers Folly (wat soos op die bottel sonder ‘n afkappingsteken gespel word).

Dis eenvoudig om dit te verduidelik, lag Fraser Crighton. My vrou, Marile, het genoeg gehad van die koue, beklemmende weer in Engeland. Sy is ‘n Suid-Afrikaner, oftewel Overberger, in murg en been. Ek moes kies: bly of gly. Bly sou beteken ek moes haar groet, gly het beteken ons trek saam Struisbaai toe. En die res is geskiedenis, soos hulle – hier in Suid-Afrika en daar oorkant in Engeland – sê.

Fraser en Marile Crighton gereed om 'n yskoue vlytbier te skink

Fraser en Marile Crighton gereed om ‘n yskoue vlytbier te skink

Sover dit die naam aangaan, het ek eers die naam Bulldog Brewery gebruik. Toe sê iemand toevallig vir my dat ek eerder my eie naam moet gebruik. Dit maak sin omdat ek self my bier brou.

Dit het maar geknor om iets te kry wat met Fraser rym. Oplaas het ek met Frasers Folly vorendag gekom!

Allesbehalwe ‘n dwase besluit, ook nie nutteloos… dalk onkonvensioneel, as ‘n mens so na die definisie van ‘folly’ loer.

Nou is Frasers Folly die mees suidelike bier wat aan die punt van Afrika gebrou word. Dit sal maar sukkel vir iemand om meer suid te brou behalwe as jy Kaap Agulhas Vuurtoring kan oortuig om spasie aan jou te verhuur. Dít gaan nie sommer gebeur nie.

Dis seker ook net ‘n Engelsman wat met die voortreflike idee om sy bierbottels in ongedrukte koerantpapier – soos waarin vis en tjips toegevou word – toe te draai, vorendag sal kom.

As jy nog nie Frasers Folly Pale Ale geproe het nie, trek die ongewone en prettige toegevoude bottel met sy fleurige swart letters – die f’s maak ‘n swierige krul na onder en na bo – dadelik die aandag. As Frasers Folly reeds een van jou gunsteling vlytbiere is, sien jy dit sommer dadelik op die rak of in die yskas raak.

Terwyl hulle nog in Engeland gewoon het, was sy eksperimente met bier brou minder geslaagd. Vra maar my vrou, bloos Fraser. Sy wou nie eers haar neus in die brouvertrek insteek nie.

Staan nader vir 'n Soutie Pilsner

Staan nader vir ‘n Soutie Pilsner

“Ek moet bieg ek’t emmers gebruik wat ek by ‘n kroeg geskollie het. Die kroeg het grondboontjies daarin gebêre. Kan jy jou indink hoe daardie bier geruik het!?”

Onder geen omstandighede is dit ‘n refleksie van Fraser se broutalent nie. Per slot van sake is hy ‘n gekwalifiseerde wynmaker waarvoor hy in Engeland gestudeer het. Maar nou woon hy in die Overberg en kom ‘n mens hom gereeld teë by van die Elim Voedsel- en Wynfees – wat jaarliks om die beurt by Strandveld Wingerde of Black Oystercatcher gehou word – tot by die Wine Boutique Agulhas, van buitelugskoue tot by bierfeeste.

Dit laat my wonder of hy bier of wyn vir sy laaste maaltyd op aarde sou verkies. En watter geregte as pasmaats?

Dis toe bier. Heel gepas vir ‘n brouer.

‘n Ribeye-biefstuk, mediumgaar. Bearnaise-sous. En laastens ‘n Robinson’s Old Tom (www.robinsonsbrewery.com/beers/brands/old-tom).

Toe ek na ons gesprek meer oor die Old Tom gaan oplees en sien dat hul mildelik van kat(terige)-woordspeling (daar’s selfs ‘n Ginger Tom) gebruik maak, het ek terstond besluit dat ek berge gaan versit om dit ook in die hande te kry ten einde te kan proe.

Terwyl ons nou in ons verbeelding leef – as metgesel aan my tafel sou ek graag vir Albert Einstein wou hê, borduur Fraser voort. “Ek het al gehoor hy was erg disleksies en ek is ook. Ek sal dit geniet om saam met hom ‘n bier te drink.”

Dis natuurlik nie iets wat gaan gebeur nie. Fraser sal homself maar moet troos met sy nuwe Soutie Pilsner – dié ou weet duidelik hoe om ‘n naam uit te dink – by Pelicans in Struisbaai terwyl hy oor die hawe uitkyk en die tjakkies (soos die visserskuite in die Overberg genoem word) in- en uitvaar.

Dis juis by einste Pelicans – synde dat die Overberg my tweede tuiste is – wat ek Frasers Folly Pale Ale leer drink het. Die vrugtigheid wat deur ‘n aangename bitter smaak getemper word, is net die regte lafenis op ‘n somersdag. Die Frasers Folly Stout – met geure van koffie en sjokolade – is ook glad nie te versmaai nie.

Op die spyskaart by Frasers Folly

Op die spyskaart by Frasers Folly

Dis nie asof Fraser baie tyd vir oor die see staar nie. Toe ek hom raak-‘drink’ – met ‘n Frasers Folly natuurlik – was hy so besig dat hy my League of Beers (www.leagueofbeers.com) se koerantjie in die hand gestop het met ‘n sydelingse verwysing dat ek eers daardeur moet lees aangesien daar nie veel meer oor sy storie te sê is nie. Per slot van sake is sy passie – en besigheid – bier drink en brou.

Volg Frasers Folly op: www.facebook.com/frasersfolly/

Vier biere in die Frasers Folly-reeks

* Frasers Folly Pale Ale: In die styl van ‘n Engelse bitter. Lig en vrugtig,

karamel op die neus,  met aangename bitter smaak.

* Frasers Folly Stout: Donker van kleur met koffie- en sjokolade-aromas.

Ideaal vir Kaapse winters saam met outydse bredies.

* Frasers Folly Old Raj IPA: ‘n Droë IPA gebrou met Engelse hops. Die

bitter smaak van die hops maak dit juis so gewild.

* Frasers Folly Soutie Pilsner: So lig dat die eerste bier dadelik na die

tweede lei. Gebrou met Engelse mout, unieke gis en Goldings-hops.

Leave a comment

Information

This entry was posted on April 29, 2019 by in Afrikaans foodies and tagged .