ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Kwaai Askoeke in Williston

First published in Die Burger, August 2017

(Since this article has been published some details might have changed)

Boude gaan wikkel en die stof draai

Williston se Winterfees is beslis nie 'n koekieblikfees nie

Elke winter, hier teen end Aug-begin Sept se kant hou Williston Winterfees.

Waar is Williston nou weer? In die Noord-Kaap natuurlik, waar daar met óórgawe geriel word.

Alle paaie lei na Williston

Alle paaie lei na Williston

Askoek(e) of te nie, dis beslis nie ‘n koekieblikfees nie, seg hulle. Dis fantasmagories!

So word daar ook op die vrolike plakkate met ‘n fiets wat in die lug hang, ‘n skedonk op ‘n sandvlakte, feesvlaggies wat wapper, ‘n meisie met ‘n krulrandkappie wat riel, hoenders wat skrop en ‘n man met ‘n radio op sy skouer aangekondig.

die-willistonners-ken-van-winterfees-hou.jpg

Die Willistonners ken van (winter)fees hou

Dis die agste jaar wat Williston sy winterfees onder die sterre hou. Verlede jaar het daar meer as 100 rieldansers opgetree. Die Willistonners sê dis nie ‘n gewone fees nie; hulle vier die lewe. En mens-wees. Alles in Karoo-styl.

Op Donderdag, 31 Augustus 2017, maak die feeskroeg, die hekke en die stalletjies om presies 12h00 oop. Dan’s daar geen keer aan al die aktiwiteite nie.

‘n Winterfeeskoning en –koningin word gekies, daar’s huldeblykvertonings aan Karoo-sterre, Trompie sing en skaakkompetisies word gespeel; en jy kan aan karaoke deelneem.

Op Saterdag, 2 September is daar ‘n kolwyntjiekompetisie vir koekies en tertjies – hetsy die baksters of hul skeppings.

In 2016 kon jy na ‘n wolspindemonstrasie kyk of hoefystergooi beproef; in 2017 is daar snoek om aan te smul en ‘n Donkie Derby om te besigtig. In 2016 het Elvis se Seun sy opwagting gemaak. Wie weet wat 2017 alles kan inhou?

Kyk wat Karoo-sport behels, beïndruk die beoordelaars by die talentkompetisie, luister na die Williston Mannekoor en die Righteous Voices-Koor, of wikkel jou heupe saam met die gumba-orkes. Moenie die Kunsvlytmark misloop  nie.

Hier’t! Hier kom ‘n riel!

As jy nog altyd self wou leer riel het, bied die Williston Winterfees jou nou die kans.

Geriel gaan daar geriel word. Daar’s rieluitdunne, rieldansklasse, ‘n amateur rieldanskompetisie en die Kwaai Askoek Rieldanskompetisie.  Die Williston Stoftrappers, Singkoppie Stoftrappers en iHereti is van die rieldansgroepe wat in die distrik bekend is.

Tipies riel gaan kordate jongens kotiljons, oumas gaan dril, en ‘n klong of twee gaan wip en wikkel, of dalk laat waai met sy broek.

Rieldansers span kieries in en die vere in hul hoedens hou maat op die wysies. As boude skud en handgebare nie meer genoeg is nie, span hul sommer sekels of ‘n skopgraaf, skinkbord, broodpan en braairooster in. Velskoene – die koelste met bloedrooi veters – en voorskote, onderbaadjies en kopdoeke, kruisbande en laslappiebroeke is deel van rielkostuums.

Om in hierdie gees van kappityt te kom, moet jy die regte tussenwerpsels soos “Ons hêt dit, Gebore mêt dit!” en “Gooi mielies!” ken.  Dít hou die rieldansers op hul tone en dán word daar eers met absolute oorgawe geriel. Gouer as nou gaat dit wilder as die wildtuin.

‘n Ark en ‘n môl in Williston

Deesdae is ‘n dorp sommer maar ‘n gehuggie as daar nie ‘n ‘mall’ is nie. In Williston het die Williston Mall die gedagte op sy kop gekeer deur hul eie vertolking daarvan.

Die Williston Mall met sy gewelfde sinkplaatstoepdak en wieldoppe – wat petrolkoppe sal laat hyg – teen die voormuur is ‘n kuierplek, eetplek en lêplek. Ook ‘n speelplek en koopplek.

Slaap oor by Die Ark Gastehuis, eet skaapstertjies by die restaurant of verwyl die aand in die Doppies Bar.

Selfs die geroeste matrasvere op die stoep en die emmers wat in gelid aan hul hingsels vanaf die dakrand swaai, verklap nog nie wat daarbinne op jou wag nie.

Speelse Karoo-porno skilderye vier die lewe by Williston Mall

In die Mooigoed-winkeltjie is soetgoed soos jou ouma se koekblikke en stoutgoed soos speelse Karoo-porno skilderye, asook vatlappies, hekelwerk, tweedehandse boeke en vele ander snuisterye.

In die agterplaas-feesterrein laat ‘n rooi CBU-vuurwa en ‘n poeierblou skedonk van ‘Williston se enegste shêrif’ parkeergeld ophoop. Tussenin is konkasitplekke, bliktrommels, padtekens, sinkbaddens, nuwe goed, ou goed, stootgrassnyers, harke, grawe en pikstele, bokhorings, mankolieke rolstoele en ‘n dorpsdam waarin emaljebekers weerkaats.

Iemand moet vir Williston se feeskomitee in die oor fluister dat 'n kaskarresies deel van die program moet word

Iemand moet vir Williston se feeskomitee in die oor fluister dat ‘n kaskarresies deel van die program moet word

Moenie als glo wat jy in Williston lees nie

Moenie als glo wat jy in Williston lees nie

In die binneste Doppies-kroeg pryk ‘n kat soms kordaat op die parkeerarea-sinkplaatkroegtoonbank. As jy hier aangeland het, wil jy straks nie weer huis toe gaan nie.

*   *   *

Die geskiedenis van Williston

Williston het sy ontstaan te danke aan Johan Abraham Nel wat in 1768 met sy familie by ‘n fontein naby die Sakrivier kamp opgeslaan het. Om die geboorte van een van sy seuns te herdenk, het hy ‘n amandelboom geplant. Dis waarvandaan Williston se oorspronklike naam, Amandelboom, kom.

Lank na Nel se oorstaan het ‘n eerwaarde Kuhn gemeen hy neem ‘n wyse besluit deur die fontein met dinamiet op te blaas. Dit sou die watervloei laat toeneem, het hy gereken. Natuurlik het dit toe net mooi die teenoorgestelde uitwerking gehad. Ook het hy in die proses die amandelboom opgeblaas.

Die eerste NG Kerk is in 1878 in Amandelboom gebou. In 1883 is die naam van die dorp na Williston, vernoem na ‘n sekretaris van die Kaapse kolonie, verander. Die huidige NG Kerk is in 1912 voltooi.

Werd om van Williston te weet

* Williston is 103 kilometer van Calvinia, 140 kilometer van Carnavon en 450 kilometer van Kaapstad.

* Raak saam opgewonde oor die Williston Winterfees:    www.facebook.com/willistonwinterfees/?_rdc=1&_rdr

* Kyk wat by Williston Mall aangaan: www.facebook.com/willistonmall/?_rdr

* Kyk wat jy nog in die distrik kan verken: www.northerncape.org.za/getting_around/towns/Williston/

* Terwyl jy nou in die Noord-Kaap is, lees ook:

www.northerncape.org.za/quick_guide/

2 comments on “Kwaai Askoeke in Williston

  1. Daphne Smit
    January 7, 2024

    Weet jy dalk of die Williston Winterfees vir 2024 geriel? info@free-spiritliving.com

    • ilsez
      January 7, 2024

      Hi Daphne, ek weet glad nie, maar ek vermoed die antwoord is nee. Ek sien die Williston Winterfees Facebook-bladsy is ook nou al meer as ‘n jaar of 2 onaktief.

Leave a comment

Information

This entry was posted on August 30, 2019 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .