ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

PAK AF IN PERUGIA – Sjarme wat jou omvou

First published in Die Burger, May 2012

Perugia is ‘n studentedorp, maar nie soos wat ons Stellenbosch ken nie. ‘n Heuweldorpie, maar teen die hellings af is dit industrieel, meer modern, en oortrek met onaantreklike woonstelgeboue.

Vroegoggend in Perugia is atmosferies en fotogenies

Almal mik na Toskane; Umbria is nog ‘n relatief goed bewaarde geheim. Umbria het keisteendorpies en groen woude; die teenwoordigheid van kusdorpies voel oorbodig, want Umbria het andersins so baie om te bied.

Voor ontbyt gaan loop ons 'n draai in die koue oggendlug

Eers donker, nou lig

Perugia se geskiedenis laat nogal veel te wense oor. Sint Fransiskus van Assisi is hier in ‘n kerker gegooi. Meer vredeliewend as Sint Fransiskus sou jy moeilik kry. Volgens oorlewering is twee pouse hier vergiftig. Flagentalisme (om jouself te kasty) het klaarblyklik hier ontstaan.

Bespiegelend wonder ons of Perugia se donker geskiedenis die huidige inwoners laat oorkompenseer met rustige vriendelikheid. Of jy nou op ‘n mistige oggend verdwaal of die beste bekostigbare pizza soek – sodra jy iemand huiwerig in geradbraakte Italiaans nader, is hul gereed om ‘n voorstel te maak.

Die Ou Dorp van Perugia is heelbo op 'n plat heuwel en is net vir voetgangers

Loop rond op die geronde spits van die heuwel

Beperk jouself tot die ou deel van Perugia. Alhoewel geografies klein, bied dit die atmosfeer wat jy wil ervaar. Perugia staan nie verniet bekend as die Stad van Kuns nie, hoewel daar natuurlik baie ander stede in Italië is wat om hierdie titel kan meeding.

Piazza IV Novembre is die spilpunt van wat jy moet sien, maar die straatjies en stegies na agter voel na die ware, ou Perugia. Dis blykbaar nie ‘n legende dat die Perugini die marmer wat hulle gesteel het om die duomo te bou, moes teruggee nie. Verwyl ‘n tydjie by die sypaadjietafels van Bar Centrale waar jy verder oor die geskiedenis van Perugia kan oplees of sommer net oor die lewe peins.

Perugia se sjarme vang jou nie oombliklik vas nie. Perugia is nie ‘n San Gimignano nie. Die aantrekkingskrag is subtiel, juis omdat dit groter en meer omring deur ontwikkeling is. Toeriste stroom nie noodwendig na Perugia nie. Dis besig genoeg in elk geval. Perugia oorrompel jou stilweg, veral in die winter.

Verken al die hoekies van Perugia

‘n Oomblik in die mis

Een van my mooiste reismomente (‘n herinnerjuweel of memory jewel soos reisskryfster Dervla Murphy dit so mooi stel) is vroegoggend in Perugia – op die heuwelrant van die Ou Dorp. Ek kyk af na die groen laslappie daar onder; links van my is ‘n straatbreë stel trappe. Dis koud, dis mistig, dis die tyd van die dag om espresso te drink. Uit die miswarrelinge kom ‘n swartgeklede figuur aangestap. Net-net sigbaar. Geleidelik meer sigbaar soos hy naderkom. Met stadige treë, my kamera sukkel om te fokus, maar doen dit tog.

Mistige oggend in Perugia waar dit lyk of spoke rondloop

Al voel dit soos ‘n droom, het ek die foto om die oomblik weer op te roep. Ons het net vir mekaar geknik – dit was genoeg. Talm om te groet sou die moment bederf het. Of dalk nie. Maar dit het nie gebeur nie.

Loop by die een deur na die ander in

Later in die dag – en nie te ver daarvandaan nie – het Perugia iets van ‘n ander aard gebied. Benetton-winkels is regoor Italië te vind, maar ‘n ligblou oortrui met silwer letters is in die Ou Dorp van Perugia gekoop. So ook pienk, geel en swart Puccini-patroonkouse. En as ‘n kopknik aan Afrika ook ‘n paar zebrastreep-kouse. Tot die vermaak van die Italiaanse verkoopsdame.

Daar waar ‘n steeg afwaarts neig, loer ‘n bekende handelsmerk vir my. Dis wragtie Rogz – halsbande vir die mens se beste vriend – afkomstig uit Suid-Afrikaanse bodem. Vermy maar liewers Italiaanse troeteldierwinkels – klein waterskilpadjies spartel in te klein tenkies en vir sagmoedige diereliefhebbers lyk alles oor die algemeen te beknop, sommer net te hartseer.

Sjokolade en wyn

Perugia is bekend vir sy Baci-sjokolade in blinkblou foelie toegedraai. As jy jou verbeelding gebruik, lyk die sjokoladetjies soos getuite lippe, veral as jy byreken dat baci soentjies beteken. Sjokoliste kan in hul agterkop die feit bêre dat daar elke Oktober word ‘n sjokolade-fees in Perugia gehou word.

Cinastik Vineria (Via dei Priori 40) is dié plek om gesien te word en om aan goeie Italiaanse wyn of skemerkelkies te teug terwyl jy na musiek luister en kyk wat die jongste modegiere onder jong Italianers is. Maak ‘n draai in die koelste badkamers in Perugia.

Soos die res van Italië het Perugia kos eie aan hul streek. Truffels en olyfolie word in baie van die geregte gebruik. Moenie die kans laat verbygaan om mazzafegati (lewerworsies met lemoenskil, denneneute en rosyntjies) te proe nie. Eet stringozzi al is dit net om die naam van hierdie plaaslike spaghetti van jou lippe te laat afrol. Buon Appetito!

PLANNE VIR PERUGIA
 
·       L’Albergo Anna (Via dei Priori 48) is in die pragtigste ou klipgebou in die míddel van die Ou Dorp. Jy gaan ver soek om meer sentraal geleë te kry: www.albergoanna.it
·       Vanjaar se sjokoladefees in Perugia is van 19 – 28 Oktober. Perugia word gedurende hierdie tydperk as ‘n groot buitelug-sjokoladewinkel beskryf. Elke sjokoladefees het ‘n tema: in 2012 is die tema ichoc applichiamoci. Vorige temas was Sjokolade-Stad, Sjokolade-Rewolusie en Sjokolade-Prisoniers.
·       Gaan luister jazz oor ‘n bottel rooiwyn by Bottega del Vino (Via del Sole 1) of eet pizza met buffelmozzarella by Pizzeria Mediterranea op Piazza Piccinino.
·       As jy iets by die huis vergeet het of jou eie piekniekmandjie wil pak, is Coop supermark op Piazza Matteotti die indrafplek vir jou.
·       By Sandri (Corso Vannucci 32)– wat al drie eeue lank besigheid doen – word tertjies en sjokoladegebak in rooi papier toegedraai en met ‘n strik opgevrolik.
·       Kyk na Rogz se ontwerpe vir troeteldiere by www.rogz.com

Leave a comment

Information

This entry was posted on May 2, 2017 by in Europa.