ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Dapper en stapper in die Paarl

First published in Die Burger, March 2015

DSC_0502

Tipiese argitektuur van die Paarl

Om deur die Paarl se Hoofstraat te stap terwyl daar op onderhoudende manier oor die geskiedenis van die geboue gepaardgaande met staaltjies van vanmelewe gesels word, kan dalk klink of net ou toppies daarin sal belangstel, maar verder van die waarheid kan dit nie wees nie.

Paarl het sy kwota stories wat jou sal verbaas, vermaak,  interesseer en bowenal met nuwe oë na sy historiese geboue laat kyk.

Meld hier aan

Het Gesticht Museum is die ou slawekerkie in die Paarl; dis in 1813 gebou.  Dit is so atmosferies binne-in dat jy amper nie wil aanloop as jy eers op een van die kerkbankies plaasgeneem het nie. Daar is plafonrose teen die dak, puntvensters, houtkerkbankies, en ‘n preekstoel met ‘n trappie wat na voor wys.

Let op die allemintige sleutel waarmee die gewelfde deur oopgesluit word. Dis van hier waar Hybré van Niekerk, ‘n provinsiale toergids,  se historiese wandelinge deur die Paarl begin.

Hybré is passievol oor die plaaslike geskiedenis. Sy onthou nog goed hoe sy saam met haar ouma na die Paarl 300 jaar-fees gegaan het en hoe elkeen ‘n klein glasie met ‘n geweltjie op present gekry het.

Stories uit die verlede het haar nog altyd geprikkel; vandaar ook die projek by Het Gesticht om staaltjies, soos deur die ouer mense vertel, mondelings op te neem. Terselfdertyd dien dit as trekpleister vir die gemeenskap.

Die eerste slaaf, Jason Adams, is hier gedoop en Hybré het sy stamboom sowel as haar eie nagevors toe sy by Het Gesticht aangestel is.

Lok my die wandelpad

Skuins oorkant Het Gesticht is Klein Vredenburg Gastehuis waarvan die boustyl tipies Georgiaans – met sy dubbeldeur met ‘n bo- of waaierlig – is.

Oppad na die Strooidakkerk is twee lang, slanke palmbome. As jy vanaf die oorkant van die straat reg tussen hul deur kyk, is Paarlberg mooi sigbaar.

Aan die voorkant van die Strooidakkerk – die oudste kerk in Suid-Afrika wat steeds in gebruik is – is ‘n begraafplaas met versierde, gegewelde graftombes. Die twee mees imposante grafstene behoort aan wyle Dokter Zeederberg en wyle Dominee Van der Lingen.

Die pastorie oorkant die kerk mag oud lyk, maar is eintlik ‘n reproduksie van die oorspronklike gebou.

Op Zeederberg Plein is die eerste huis die ou Kaaps-Georgiaanse huis van Zeederberg wat die Paarl se distriksgeneesheer was. Langs sy huis is twee huise wat die geskiedenis van broekielace versinnebeeld: eers houtkerfwerk en later gegote yster.

Die huidige Roodeberg Apteek is in die ou bankgebou. Vandaar die hortjies wat aan die binnekant, eerder as aan die buitekant, is. Toentertyd kon Die Bank van die Westelike Provinsie selfs sy eie banknote uitreik.

Oe, brandewyn moet my nie laat staan nie

Die gebou wat nou Zomerlust Gastehuis vestig, was die woonhuis van ‘n brandewynmakerfamilie, die De Villierse. Paarl Wyn en Brandewyn Koöperasie was direk oorkant die straat.

Volgens legende  het meneer De Villiers ‘n koperpypie gehad wat onderdeur die straat geloop het. Brandewyn is direk vanuit een van die keurvate in die kelder na sy studeerkamer getap. Dis waar die naam van die kroegie in Zomerlust vandaan kom – dit heet Die Kraan.

Daar’s nog vele humoristiese stories oor hierdie einste meneer De Villiers wat blykbaar ‘n karakter sonder weerga was. Om meer oor sy eksentrieke gewoontes uit te vind, moet jy maar saam met Hybré stap en so in die loop luister.

In die binnehof van Huis Vergenoegd is ‘n put – dit herinner aan ‘n klein kramatjie – wat aan die dorp water verskaf het. Op ‘n bordjie lees ek: “Hierdie put word aangetoon op ‘n diagram van 1805 van die eiendomme Vaart Wel en Vergenoegd. Dit was vir baie jare die enigste waterbron in die omgewing en ‘n klok is daagliks om 5 nm. gelui om aan te dui dat water gehaal kon word. Geproklameer 1966.”

Beide die PM Cross- en die Patriot-Gebou is sierlike bakens in hierdie deel van die Hoofstraat. Langs  PM Cross is Huis Wenhold wat oor die jare wamakers, kleremakers en tandartse gehuisves het.

By Hoofstraat 210 is De Woning wat met een van die oudste gedateerde gewels in die land spog.

Verder af in die Hoofstraat is die lieflike Art Deco-gebou, Protea; die alombekende Toringkerk – met een van die hoogste kerktorings in die land –  en die ou poskantoor, ‘n grasieuse ou dame, wat smeek om ‘n nuwe lewe.

In Zionstraat is die Zion-Kerk wat in 1841 gebou is toe die slawekerkie te klein vir al die slawe geword het.

‘n Entjie verder af is Pontac Manor, een van die mees elegante geboue wat in die Paarl te sien is. Strek jou bene uit op die stoep, bestel ietsie kouds en laat jou gedagtes dwaal – jy het  maar nog net ‘n voorsmakie van die Paarl se geskiedenis ervaar.

Om ‘n staptoer deur die Paarl Hoofstraat te doen:
 Bespreek direk by:
Hybré van Niekerk
073 065 0165 of hybre1@hotmail.com

 

Die enigste dorp met sy eie taalpaal
·        Ken jy nog ‘n dorp wat sy eie taalpaal het? Sekerlik nie. Die Taalmonument – deur argitek Jan van Wijk ontwerp; sy as is binne-in ‘n granietrots in die omringende tuin – is op Paarlberg geleë.
·        Bespreek vooraf ‘n begeleide toer – hoewel jy ook die perseel op jou eie kan verken – om meer van die geskiedenis van Afrikaans te leer. Of kom verwonder jou maar net aan die sierlike lyne en vroulike vorme van die Taalmonument. Die argitektuur opsigself is ‘n besoek werd.
·        http://www.taalmuseum.co.za/begeleide-toere-by-die-taalmonument

 

 

 

 

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on December 8, 2018 by in In die Boland and tagged .