ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Pampoen laat jou hare krul

First published in Die Burger, March 2014

(Since this article has been published some places have closed down or changed ownership)

'n Pampoen is 'n mooie ding

So is ons mos kleintyd geleer – eet al die pampoen op jou bord, want dit gaan jou hare laat krul. Of jy nou krulhare wou hê, of te not. Lustig het ons saamgeneurie aan die woorde van die Lappop-Liedjie: “net ‘n vrot pampoen en ‘n stukkende skoen, ‘n grammofoonplaat en ‘n kous sonder maat…”. Ons het met pampoenpoffertjies en dik stukke soetpampoen met growwebrood wat die sousies opsuig, grootgeword.

Die naeltjie van 'n pampoen

Daar’s iets so áárds, so Afrikááns aan ‘n pampoen. Aan die woord en die objek.  Of dit nou ‘n bielie van ‘n boerpampoen, ‘n knobbelrige skorsie, ‘n dunnek-kalbaspampoen, lemoenpampoentjies of  ‘n Hubbard-pampoen is.

‘n Pampoen op ‘n wa

 

As jy al deur Barrydale gery het, het jy al die massiewe pampoen op ‘n groen en rooi wa gesien wat langs die pad staan. Hierdie pampoen – wat nie om middernag in ‘n koets verander nie – staan al etlike jare op dieselfde plek.

The Country Pumpkin is ‘n eetplek,  plaasstal en winkeltjie ineen. Jy kan van wyn en olyfolie tot kruietee, van kristalle tot konfyte, hier kry. Op die stoepie kry jy flink ontvangs en dit vir 363 dae van die jaar.

‘n Pampoen wat Turkse Tulband heet

 

Jy moet ‘n pampoenbril ophê as jy nie die pampoene vlak by die ingang na die tuin van Babylonstoren raaksien nie. Een ou grote is al so half ingeduik – vermoedelik is dit omdat so baie van die besoekers op die arme ding sit om vir ‘n foto te poseer.

So vertel Sjef Stefan wat skoon lekkerkry toe hy vertel van ‘n ander pampoensoort in die tuin wat as ‘n Turkse Tulband bekend staan. By Babel word heel pampoene net so in die oond gebak en met heuning en geroosterde pampoenpitte bedien. Dis weliswaar nie op die daaglikse spyskaart nie; maar sou jy ‘n groepstafel bespreek, kan hierdie lekkerny versoek word.

Verder word daar by Babel ‘n Geel Slaai (hier bestel jy volgens kleur) met botterskorsie, pynappel-carpaccio en soet mielies bedien. Hier is selfs beskuit met pampoen as een van die bestanddele te koop. In die tuin word ‘n pampoenrankstellasie beplan.

Die grootste pampoenoes

Skeloranje pampoen by Die Pampoenstalletjie

 

 

Op die R62 is gereelde motoriste skoon teleurgesteld as Die Pampoenstalletjie se pampoene uitverkoop is. Dis net ‘n pampoenkop wat nie sal saamstem dat dit seker die mees fotogeniese plaasstal in die land is nie.

 

Hierdie plaasstal – met sy honderde pampoene om die stam van ‘n ou bloekomboom gepak – behoort al sowat 30 jaar lank aan dieselfde familie wat ook pampoene op hul plaas kweek. Hul immergewilde pampoene word deur hul lojale klante vir die eettafel en/of vir dekor aangeskaf.

Omring deur pampoene kan jy hier koffie en beskuit op die stoep geniet. Binne is daar draadkuns, fudge, konfyte, kwepers en songedroogde rosyne te koop.

  • Skakel 083 651 4990 om seker te maak of daar pampoene in voorraad is.

Om nie vir (koue) pampoen te skrik nie

 

‘n Kinderrympie uit vanmelewe se dae lui: “Marta is vol fiemies, Sy trek haar neus opsy; Kool wil sy nie eet nie, pampoen laat sy ook bly.” Maar Marta het nog nie by Roca op Dieu Donne in Franschhoek gaan eet nie. Hier word pampoen en botterskorsie in die allerheerlikste geregte omtower.

By hul botterskorsiesop word fynbosheuning, koljanderjogurt en tiemie-balsemiekasyn  bygeroer. Behalwe botterskorsie kry Roca se risotto okkerneute, sondroogtamaties, shimeji-sampioene en gerookte ricotta by.

Kyk oor die hele Franschhoek-vallei uit terwyl jy elke happie probeer uitrek sodat die lekker langer kan aanhou. En stilweg mymer oor Craig Sherrel se verduideliking van sy restaurant se naam: Roca beteken rots wat op Godgegewe land (die betekenis van Dieu Donne) staan.

Dis ‘n ander pampoen se pitte dié

As jy ‘n deelnemer aan die Groot Pampoen Kompetisie is, skrik jy nie sommer vir pampoenspoke (aldus nietighede) nie. Juis nie, want jy moet uithaal en wys as jy hier indruk wil maak.

Veel te meer aangesien ‘n nuwe Suid-Afrikaanse rekord vir reuse pampoene verlede jaar deur Johan du Plessis van Worcester opgestel is. Die wenpampoen het 417,5 kilogram geweeg en die prysgeld hiervoor was ‘n volle R10 000. Die ander 26 pampoengroeiers is deeglik die loef afgesteek.

Die vorige rekordhouer was Johan se seun, Henry, met ‘n pampoen van 390 kilogram. Blykbaar is die Noord-Amerikaanse variëteit, Atlantic Giant, die gewildste as jy nou regtig gróót pampoene wil kweek.

Nee wat, daar’s soveel meer aan pampoene as “net ‘n vrot pampoen en ‘n stukkende skoen, net ‘n leë bottel bier en ‘n verlepte angelier, ‘n gelapte binneband en ‘n ou koerant.”

2 comments on “Pampoen laat jou hare krul

  1. Tannie Frannie
    August 2, 2018

    Ken jy Andre P Brink se skets oor die pampoen in Parys, doer in die sestigerjare? Weet ongelukkig nie waarin dit gepubliseer is nie.
    Jy het my nou herinner aan ‘n kunstenaarsvriend wat lank, laaank gelede op die langpad ‘n hele Volksie vol pampoene en skorsies van verskillende vorms aangekoop het en dit triomfantlik buite ons woonstelle kom aflaai het 🙂

  2. ilsez
    August 2, 2018

    Ek sweer ek ken dit. Toe ek laaank terug skoolgegee het, het ek dit of as kortverhaal of as speelse begripstoets gebruik. Dit begin so: ”n Man koop ‘n pampoen.’ Dis nou as ek reg onthou. Ek kry dit nie nou raakgegoogle nie. Dankie vir die memory, Tannie Frannie! Nog iets – behalwe dat ek mal oor die Volksie vol pampoene is – ek sit gereeld pampoene net vir die mooi in my tuin, huis of op my voorstoep. Sommer nou lus vir pampoenkoekies!

Leave a comment

Information

This entry was posted on August 2, 2018 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .