ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

BELEEF BAINSKLOOF

First published in Die Burger, September 2015

(Since this article has been published some details have changed)

Pad wat jou laat sing EN sweet

Op enige gegewe dag terwyl Andrew Geddes Bain (1797 – 1864) die Bainskloof-pas gebou het, was daar tot 400 manne aan’t werk. Dit het geharde rowwejanne – die manne was bandiete – 4 jaar geneem om die pas van bykans 30 kilometer in 1853 te voltooi.

Net nog ‘n legende oor die bou van die pas? Wie sal weet? Wat wel waar is, is dat Bain geen formele ingenieursopleiding gehad het nie, maar tog is hy een van Suid-Afrika se bekendste padingenieurs. Dit wil gedoen wees!

Bainskloof (R301) verbind Wellington met Ceres. Oorspronklik is die pas deur perdekarre en –waens gebruik. Destyds was Bainskloof die hoofroete na die noorde. Met die oopstel van die Du Toitskloofpas het die stand van sake verander.

By die Wellington Museum word hulde aan Andrew Geddes Bain – en ander bekende Wellingtonners – gebring. Inligtingsborde deel besoekers mee dat Bain in 1946 opdrag gekry het om die pas te bou. In vroeg 1849 is met die bouwerk begin.

Verder lees ek: “Teen April 1850 is daar reeds tot by Die Nek gevorder. Bain het ‘n tonnel aan die westekant van die pas gebou om dit korter te maak, maar dit het ingesak en die idee is laat vaar.”

Ook: “Bouwerk aan die volgende deel van die Bainskloofpas , aan die Worcester- of oostekant, het op 1 Januarie 1850 begin. Stutmure moes teen die skuinstes gebou word. Hiervoor is die afgewerkte klip gebruik wat so kenmerkend is van Bain se passe. Daar is elf brûe gebou waarvan die Pilkington- en Borcherdsbrug die bekendste is.”

“Die pas van 29 km, met klipstutmure van altesaam 16 km, is in 1853 teen ‘n koste van £50 000 voltooi.”

Foto’s beeld uit hoe dit die gebruik was om by Eerste Tol stil te hou om enjins te laat afkoel en hoe die ou Bains Kloof Hotel daar uitgesien het. Die hotel het van 1926 tot 1976 diens gedoen, maar dit het, helaas, afgebrand. Behalwe vir ‘n kroeg, rookkamer en sitkamer, koffiekamer en eetsaal was daar ook nog 13 slaapkamers. Bygelowiges kan maar hieroor spekuleer.

Soos jy Wellington verlaat, ry jy verby Bovlei, Redemption, Oude Wellington Restaurant, 5 Mountains Lodge en (een van) die afdraai(paaie) na Val du Charron. ‘n Padteken dui aan dat Ceres 55 kilometer en Wolseley 57 kilometer ver is.

My gedagtes dwaal na lank terug toe elke Jan Rap en sy maat skons by Bakkies se Padstal in hierdie rondte kom eet het.

Ek sien ‘n treffende plaasnaam, ‘Die Gawe’. En doringbome, piekniekplekke, ‘n murasie en Antoniesvlei so in die verbyflits.

Waar die pad begin kronkel, is ou padtekens te sien. Die plantegroei is ruig. Daar’s akkerbome, denne, olienhout en bloekoms.

Nie te ver van Brandewyndraai sit ‘n alleenloper-Adoons. ‘n Ent verder ‘n hele kotiljons kese – klein en groot, aan’t vlooie soek en uintjies eet. Verniet of hulle uit die pad skuif. Dit kos rondom hulle ry.

Aan hierdie kant van die berg is die piekniekplekke sonder tafeltjies. By Wes en Portal  is dit asof gordyne oopgetrek word sodat jy die uitsig kan sien. Tot doer ver na Groenberg se kant toe.

Vier bloekoms op gelid in ‘n draai. ‘n Bord wat jou in kennis stel dat jy jou in die Limietberg Natuurreservaat – met die Limietberge wat oor alles troon – bevind. En steeds die asemrowende uitsig met losgepakte klippe aan die kant van die pad.

As jy hoogtevrees het, moet jy maar anderkant toe kyk tot ‘n properse klipmuur sy verskyning maak. Konsentreer op die laslappievelde so ver as wat jy kan sien. En ry stádig, want dis so mooi orals rondom jou.

By Tweede Tol – boek vooraf – is piekniekplekke, rotspoele en die oorspronklike tolpad wat as Catspad bekend gestaan het.

Hou deurgaans jou oë oop vir klipspringerbokkies. Sou jy enetjie raaksien, is dit soos ‘n seëning vir die week wat wag.

Voor jy Bainskloof inry:
Sou jy ‘n nag of twee in die Boland wou oorbly, gaan jy ver soek om nog so ‘n bekostigbare vierster gastehuis – op ‘n werkende wyn- en olyfplaas –  soos Val du Charron te kry: www.vdcwines.com
Besoek die Breytenbach Sentrum in Wellington vir ‘n kulturele inspuiting: www.breytenbachsentrum.co.zaLoer ook in by hul uitstekende boekwinkel, The Book Traders.
Leer meer van die geskiedenis van die Wagenmakersvallei, die historiese geboue, die landskap, sismateriaal, die Wellingtonse Klopse en Andrew Murray by Wellington Museum op die hoek van Kerk- en Kollegestraat: www.wellington.co.za/places-of-interest/wellington-museum
Soos jy by Bainskloof uitry:
By River Edge op die Breederivier is geurige, ligte ontbyte beskikbaar en daar is kothuisies – met ‘n jacuzzi op die stoep -op die rivieroewer te huur: www.riveredgeaccom.co.za
Die Houtkewer Koffiewinkel (Voortrekkerstraat 4) in Wolseley is deel van Elro Meubels. Kyk by die meubelfabriek, een van die oudstes in die land, hoe ware vakmanne dinge inmekaar laat steek en sit daarna aan vir tuisgemaakte kos.
Proe wyn by Waverley Hills (www.waverleyhills.co.za) en Mountain Ridge (www.mountainridge.co.za), die eertydse Romansrivier.
Trouplanne in die lug? Besoek Olive Rock waar gereeld stylvolle troumakieties gehou word: www.oliverock.co.za
Lank genoeg stilgesit? Ceres Zipline-Toere is in die Schurweberge net onder die Koekedouw Dam: www.ceresadventrues.co.za
Text Box: Lees waar daar 19 skerp draaitjies, 39 remtrap-asemophou-oomblikke en 4 haarnaalddraaie in die Bainskloofpas is: www.mountainpassessouthafrica.co.za/find-a-pass/western-cape/item/37-bains-kloof-pass,-wellington.html

Leave a comment

Information

This entry was posted on November 5, 2023 by in In die Boland.