ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Moord op sy eerste vaart

First published in Die Burger, January 2014

Daar’s net een Piet en Petunia innie Overberg

Piet en sy geliefde Petunia

Dis ‘n kuns om ‘n storie te vertel. Om met oorgawe iets mee te deel. Bowenal om natuurlik spitsvondig te wees. Dit vat meer as net die talent om stoepstories oor te dra.

So ‘n man is Piet van As van die Overberg. Sommige noem hom ‘n baasstorieverteller.  Die Overberg het sy kwota storievertellers, maar net een met sy eie vark, Petunia. Piet weet net waar om te kieliekrap sodat sy op haar rug gaan lê en onelegant snork van lekkerkry.

“Vertel vir my van Petunia,” vra ek.

“Petunia is vét en stout,” meet Piet sy woorde af. “As daar ‘n emmer is, wil sy binne-in kyk; die emmer omstamp.” As die huise op Springfield se werf – waar Piet en Marie van As woon – afgewit word, moet Petunia agter slot en grendel gehou word. Dis iets waarvan sy net mooi niks hou nie.

Piet en Marie van As vertel soms om die beurt stories

Tot ‘n tyd terug was Ansie, die hansskaap, darem daar om vir Petunia, die dik swart vark, geselskap te hou. Ansie het gesneuwel na ‘n slang haar gepik het. Piet se hart was gebreek.

Nou’s daar nie meer ‘n Ansie wat nonchalant by die huis instap en haar wollerige ken op die eetkamertafel laat rus om te kyk wat daar te aas is nie. Op die drumpel skrop-skrop Griet, Piet se gunsteling hen. Verder skreeu die poue deurgaans – op hierdie werf is “al wat ‘n lawaaimaker is”, volgens Piet.

Piet se werf het hanshoenders, 'n allemintige hansvark, maar ongelukkig is die hansskaap nie meer met hulle nie

In Piet en Marie se kothuis sien jy ystervarkpenne, ‘n paraffienlantern, dryfhout, ‘n eenvoudige houtkruis, ‘n blaasbalk, talle vuurtoringfoto’s ( Piet het op ‘n stadium “amper al die vuurtoringwagters” geken), ‘n ou Singer-naaimasjien en ‘n koperketel – dis plat-op-die-aarde mense hierdie wat na aan die natuur lewe. Hier by middagete se kant sê Piet net: “Marie, maak daar gou vir ons ‘n pannekoek of ‘n ding.” En dan kom daar “of ‘n ding” op ‘n fleurige skinkbord uit die kombuis en ‘n glas koue wit verskyn langsaan.

Piet van As ken die hele geskiedenis van die Strandveld – van Springfield, Rhenosterkop, Aasfontein, Brandfontein en Ratelrivier. Piet vertel stories van sý distrik, sý mense, sý werf.

Weliswaar word dit somtyds met ‘n vonkel in die oog aangedik. Wat hy nie ontken nie. Net partykeer. Ander kere borduur hy lustig voort.

Piet van As is ‘n Strandvelder in murg en been. Hy’t in “van Gansbaai tussen die see en die bergreeks tot by die Breërivier” grootgeword. Mettertyd ‘n wille draai in Kraaifontein gaan gooi. Maar hy wou terug na waar hy vandaan gekom het.

“Ek wens jy kon daai treklorrie gesien het. Dit was iets verskrikliks. Heel bo-op was my visstokke vasgemaak.”

Hy begin terstond hierna familie uitlê. Dit begin by sy oumagrootjie, gaan maak ‘n draai by die Swart-familie, verwys vlugtig na ‘n matroos wat uitgespoel het op dieselfde tyd wat ‘n vrou wat aan ‘n vlot vasgemaak was, óók uitgespoel het. Die veldkornet, Piet se oupa, het die onbekende vrou  vir maande op Brandfontein verpleeg en daarna Kaap toe geneem,maar die res van die storie het met verloop van tyd verlore gegaan.

Des te meer rede dat die huidige generasie hul stories moet begin opteken. Vóór dit te laat is.

Dalene Matthee het met die optekening van ‘n deel van die Strandveld-distrik se stories gehelp. Haar verhaal, Die Uitgespoeldes, speel onder andere op Springfield – waar die Van Asse woon en wat voorheen aan Piet se familie behoort het – af. Dalene se man, Larius, se pa het winkeltjies op Bredasdorp gehad waar Piet “’n pennie se swiets” gekoop het “as hy ‘n pennie gehad het”.

Jare gelede loop Piet een oggend in Adderleystraat af. Twee Kleurlingvroue voor hom praat van Fiela en noem haar ‘n “oumeid met ‘n bek”. Piet verkneukel homself hierin en laat weet vir Dalene van hierdie juweeltjie-sêding. Dis net wat nodig is om die twee gesinne gereeld te laat saamkuier.

Piet begin deur vir Dalene te help toe sy aan Pieternella van die Kaap werk. Dis nog “voor Dalene en Dan Sleigh saam Mauritius toe is”, plaas hy dit gou in perspektief. Dalene wil by Piet weet “wat snaaks aan ‘n skip is”. Hy vertel haar dat as jy op die dek lê, l dit nie lyk of die skip rol nie, maar of die sterre beweeg. Hy sê vir haar dat ‘n mens nooit teen die wind spoeg nie.

Piet reis na Robbeneiland waar hy neste gaan soek om vir haar pikkewynvere bymekaar te maak sodat sy dit kan sien en voel. Sy plak ‘n foto van ‘n “moerse albatros” en van Piet bokant haar rekenaar na hy  haar vertel het van albatrosse wat “dag in en dag uit” saamvlieg.

Terwyl Dalene aan Die Uitgespoeldes – wat onder andere op Springfield afspeel – werk, laat weet sy vir Piet dat sy vir Lord De Saumarez van Springfield wil ontmoet. Piet laat weet terug dat dit maar “effens moeilik sal gaan” aangesien hy toe al lank terug die tydelike met die ewige verwissel het. Êrens moes sy iets verkeerd verstaan het, maar toe weet ek “hier kom ‘n ding.” Dit was toe ook so.

Piet beskik oor die oorspronklike getikte manuskrip van Die Uitgespoeldes wat hy moes deurlees en aanpas. Op ‘n keer maan hy haar – van die opmerkings in potlood is nog leesbaar – dat ‘n sekere afstand te ver is om op een dag te loop, “veral vir ‘n vroumens”. Dalene laat weet terug: “Wie de dôner skryf die boek?” Piet is nie op sy mond geval nie. “Neuk aan,” antwoord hy. Van één ding was hy seker: hou by die naam van die boek.

Piet was tien jaar – “’n leeftyd” – in die Vloot. Daarna het hy op verskillende skepe – “houerskepe, ‘n olietenker, ‘n navorsingskip”  – as skeepsingenieur en later as skipper gewerk.  Hy sê ewe lakoniek: “Ek’s bevrees daar’s soutwater in my are.”

Hiervan het hy ook ‘n berg stories. Aanpor het hy nie nodig nie. ‘n Knertsie witblits verrig dieselfde taak. “Dit brand so lekker warm af; jy hoef nie eers te sluk nie; dan bons dit weer terug,” verkneukel h homself en plaas die halfjêkkie  maar weer terug in die boonste laai.

Piet en Marie se wittebrood is 33 jaar gelede op die SAS Agulhas gevier. Dit was Piet se eerste vaart. So wrintie, op die einste vaart word ‘n moord op die skip gepleeg en Piet moet help lyk uitlê. Piet lek sy lippe af soos hy vertel.

Een oggend vroeg kom die kelner “tikketik” met ‘n “rinkelende koppie” (help Marie hom aan) in die gangetjie af. Die nuutgetroude Van Asse is skoon verbaas – hulle het nie ander oggende koffie in die kajuit gekry nie. So hoor hulle dat die bootsman 25 keer gesteek en 12 keer met ‘n byl gekap is.

In kleur en geur vertel Piet hoe hulle die lyk “soos ‘n mummie” toegedraai het en dat hy nooit geweet het “’n mens het so baie bloed binne-in hom” nie. Die liggaam is verskeie kere toegedraai en met kleefband beplak waarna dit in die “vrieskamergat” gegooi is.

Piet wat ook as Piet Prentjies bekend staan, het die dag se gebeure in sketse verewig. Die sketse is ongelukkig uit die kajuit gesteel en die skuldige is nooit opgespoor nie.

Daarenteen het almal op die skip ‘n vermoede gehad van wie die moordenaar is. Deels omdat die verdagte daardie selfde oggend sy kamerjas uitgespoel het. Een oggend – dit was nou al ‘n paar dae later – het dieselfde ou doodluiters sy pakkie sigarette op die tafeltjie langs hom neergesit en oorboord gespring. Langs sy bed is ‘n oop Bybel gevind. Die skip het nog ‘n dag of wat na hom gesoek, maar hy sou in elk geval nie in water van 5-6 grade Celsius kon oorleef het nie.

Piet se amperse laaste vaart was vooruit bestem om nie te geskied nie. Sy laaste “joppie” sou wees om ‘n sleepboot van Richardsbaai terug te bring. Om een of ander rede kon hy nie gaan nie – daardie boot het met die volle bemanning bokant Durban verdwyn. Net ‘n opblaasboot is gevind.

Piet slaan oor na gelukkiger tye. In die vroeë sewentigerjare was hy in Suid-Amerika. “Piet hou van Spaanse meisies,” voeg Marie skalks by. Maar “sulke dinge gaan net aan die begin goed,” gooi Piet ‘n stuiwer in die beurs.

Piet kreun toe hy aan sy kopseer dink na ‘n driedaglange troue daar oorkant die water. Vanuit Buenos Aires met die moltrein, toe ‘n gewone trein, ‘n spoorwegbus waar ons “by ‘n lamppaal” moes afdraai; daarna met ‘n “platbaklorrie myle en myle die pampas in”. Die fynere detail van wat alles by die Argentynse troue gebeur het, word verswyg.

Maar altyd het sy hart gehunker na die plek waar hy vandaan kom. Veral as hy na ‘n foto – wat uit 1890 dateer – van die soutpanne waarlangs jy verbyry  voor jy by Springfield se hek indraai, kyk. Hope wit sout, perde ingespan by ‘n wa, die uitgestrekte pan na agter, jukmandjies op die voorgrond – dis soos dit in sy pa se tyd gelyk het. Deesdae kom span die flaminke hier uit. Of Piet se seun hou ‘n spogtroue in die murasies wat al is wat daar oorgebly het.

Piet en Marie se voordeur staan altyd oop vir gaste

Die son begin al water trek. Piet vertel van ‘n skietery wat in 1871 op Ratelrivier plaasgevind het; van grafte wat nooit gekry is nie; van ‘n bloedhand teen ‘n gang se muur  wat elke winter steeds uitslaan;  en van musiek wat steeds elke jaar op 21Maart op die werf gehoor kan word. Op Ratelrivier het ‘n moordenaar in vanmelewe se dae op die venster geskryf: “1871 Hard Year. Can man lie forever. D. Breda.”

Ons eindig by Springfield se spook – ‘n “happy go lucky” spook. Dis ‘n “oubaas” in ‘n pak klere wat die hele werf vol loop – in die hoofhuis, in Piet en Marie se huis en in die buitegeboue. Geslagte uit mekaar sien dieselfde visioen.

Of Piet nou familie uitlê, van sy dae op see en in Suid-Amerika vertel, of spookstories oorvertel – jy hang aan sy lippe. Hoe jammer dat Piet se stories – met sy eie prentjies daarby – nog nooit geboekstaaf is nie.

Piet is nog jonk van gees – hy was nou die aand by die Haasvlakte se rockfees, maar “ek het nie gewag vir daai polisiekar-musiekmakers nie; toe was ek al by die huis.” Vir hoe lank dit so gaan bly, kan niemand voorspel nie – die lewe verskaf mos nie waarborge nie.

So veel van ‘n distrik – in hierdie geval die Overberg, maar ons land wemel van sulke storievertellers – se geskiedenis en stories gaan verlore omdat niemand dit betyds vasvang nie.

 

3 comments on “Moord op sy eerste vaart

  1. Hester Bosman
    January 30, 2018

    Heelik!! Dankie. Gaan hom saam met my boek sit vd leesking xx

    From: ilsezietsmanblog Reply-To: ilsezietsmanblog Date: Tuesday, 30 January 2018 at 10:39 AM To: Subject: [New post] Moord op sy eerste vaart

    WordPress.com ilsez posted: “First published in Die Burger, January 2014 Daar’s net een Piet en Petunia innie Overberg Dis ‘n kuns om ‘n storie te vertel. Om met oorgawe iets mee te deel. Bowenal om natuurlik spitsvondig te wees. Dit vat meer as net die talent om stoepstories oor”

  2. Serena
    April 13, 2018

    Briljant soos altyd, jy

    • ilsez
      April 15, 2018

      Dankie, Serena! Dis die opkomende boek v Piet v As waarvan ek jou vertel het.

Leave a comment

Information

This entry was posted on January 30, 2018 by in Oral(s) in die Overberg.