ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Vampiere en oranjewyn in Roemenië

First published in Rapport, January 2021

Die Roemeense en Suid-Afrikaanse wynmaker, Razvan Macici

As jy aan Roemenië dink, dink jy moontlik eerste aan Dracula – oftewel Vlad die Deurboorder – en aan vampiere. Terwyl jy nog so gril, kom Nicolae Ceausescu, die berugte en laaste kommunistiese leier van Roemenië, dalkin jou gedagtes op.

Wat min mense egter weet is dat Roemenië een van die oudste wynproduserende lande ter wêreld is. Volgens www.romaniatourism.com word reeds sedert 2000 v.C. wyn in Roemenië gemaak in die tydperk toe die Grieke by die Swart See voet aan wal gesit het.

‘n Kaart wat wys waar daar orals in Roemenië wyngemaak word

Roemenië is tans een van die top 10 lande (ander bronne gee Roemenië aan as nommer 13) in die wêreld waar dit wynproduksie én die omvang van wingerde aangaan.

Goeie wyn prys homself

Volgens www.romania-insider.com voer Roemenië minder as 5% van hul wynproduksie uit. Boonop voer hulle ook nog wyn in.

Ja-nee, die Roemene hóú van wyn.

‘n Foto uit vanmelewe se dae wat wynmaak in Roemenië uitbeeld

Hul voorliefde vir wyn is nie ‘n hedendaagse neiging nie. In 50 v.C. het Koning Burebista, die eerste koning wat die stamme van moderne Roemenië suksesvol verenig het,  al ‘n dekreet afgekondig waarvolgens wingerdkweek en wynproduksie beperk is. Dit het hom in staat gestel om sy koninkryk te versterk. Die koning was toe al van mening sy onderdane drink te veel wyn!

Volgens legende is Dionisus, die Griekse god van wyn en druiwe, juis in Roemenië gebore.

Nee vir ‘n lewe sonder wyn

Mihai Macici (1928-2010), die voormalige Wetenskaplike Direkteur van die Roemeense Wyninstituut vir Wingerdboukunde en Wynmaak, het die Roemene se liefde vir wyn in die voorwoord van sy boek, Romania’s Wines só opgesom: ‘n Mens kan sonder wyn lewe, dis ongetwyfeld so, maar watter leë en kleurlose bestaan sou dit nie wees nie!

Mihai Macici, die voormalige Wetenskaplike Direkteur van die Roemeense Wyninstituut vir Wingerdbou en Wynmaak, pryk op die voorblad van ‘n wyntydskrif

Razvan Macici, die seun van Mihai Macici, wat in Suid-Afrika én Roemenië wynmaak, het oor ‘n glas wyn vir my meer oor wynmaak in Roemenië vertel.

Drie geslagte Macici’s – Mihai Macici, ‘n jong Razvan en sy babaseun, Mihai, wat nou 16 jaar oud is

Ek het spesifiek opgelet hoe sorgvuldig Razvan die glase vir ons wyn uitsoek. ‘n Ou Roemeense idioom lui nie verniet nie: Uitstekende wyn in ‘n gewone glas is soos ‘n pragtige vrou wat vuil is, nie haar hare gekam het nie en slordig aangetrek is”.

Foto verskaf: Razanv Macici toe hy in 2012 die Diners Club se Internasionale Wynmaker van die jaar was

Razvan Macici is in Roemenië gebore en het daar grootgeword. Sy oupa het ‘n wynplaas gehad, maar dié plaas is deur die kommunistiese bewind genasionaliseer.

Die geskiedenis van wyn in Roemenië

Om wyn- en ander plase tydens die kommunistiese bewind (1947-1989) in Roemenië te nasionaliseer was aan die orde van die dag. Die genasionaliseerde plase het op hoeveelheid (kwantiteit) eerder as kwaliteit gefokus. Dit het ongetwyfeld die beeld van Roemeense wyn in die internasionale arena skade aangedoen.

‘n Wynlandgoed in die Roemeense wynlande

Dis nie net onder kommunisme wat wingerde en wingerdplase in hierdie deel van Oos-Europa swaargekry het nie.

Vóór kommunisme het die wingerde in Roemenië in die 1880’s onder filoksera (druif- of wingerdluis) deurgeloop. Wingerdluis teer op die wortels van wingerdstokke tot hulle mettertyd doodgaan. Ná kommunisme en die teregstelling van Ceausescu het die wingerde in Roemenië nog verder agteruitgegaan en baie het nie oorleef nie.

Dit het hierna wérk gekos om die wyndruifindustrie weer op te bou.

In die laat 1990’s is heelwat wingerdplase en –landgoedere geprivatiseer wat ‘n nuwe era vir wynmaak in Roemenië ingelui het.

Goeie wyn het nie ‘n kransie nodig nie

Soos baie huishoudings in Roemenië het Razvan se ouers wingerd langs hul huis aangeplant. Vantevore het alle kloosters ook hul eie wingerde gehad en die monnike het van die beste wyn gemaak!

Oor ons tweede glas wyn vertel Razvan laggend dat sy straf as kind was om die onkruid tussen die wingerde uit te trek. Dit het gesorg dat hy minder stout was!

Hy onthou ook hoe hy amper op vyfjarige leeftyd, ten tyde van die 1974-aardbewing in Roemenië, in ‘n vloed wyn by die kelder waar sy ouers gewerk het, verdrink het.

Razvan se eerste kortstondige besoek aan Suid-Afrika was in 1994. Hy het verlief op Suid-Afrika geraak en in 1997 as assistent-wynmaker by Stellenbosch Farmers’ Winery teruggekeer. In 2000 is hy as keldermeester – die jongste ooit om hierdie posisie te beklee – by Nederburg-kelder in die Paarl aangestel. In 2004 het Razvan met sy “Suid-Afrikaanse boeremeisie”, Melani, getrou.

Razvan Macici saam met sy vrou, Melani, en kinders Daniela, Mihai en Ionny

Onder Razvan se leiding het Nederburg die landgoed met die meeste toekennings in Suid-Afrika geword. In 2012 was Razvan Diners Club se Internasionale Wynmaker van die jaar.

Deesdae maak Razvan wyn by Mierla Alba (kyk na Mierla Alba op Facebook), waar hy mede-eienaar is, en by Rasova (www.cramarasova.ro) in Roemenië terwyl hy ook beplan om by wynmaakkonsultasie in Suid-Afrika betrokke te raak. 

Oranje blanje… rooi

Roemenië het nie net 11 inheemse druifvariëteite wat nêrens anders voorkom nie; hulle maak ook oranjewyn!

Oranjewyn word soos rooiwyn gemaak, maar witwyndruiwe word gebruik. Die wyn kom in kontak met die doppe terwyl fermentasie plaasvind; dit gee die oranje kleur aan die wyn. Oranjewyn word ook onder andere in Georgië, Armenië en Sloewenië gemaak.

Daar is ook verskeie Roemeense wyne wat met Dracula op hul etiket spog. Dié wyne kom meestal vanaf Transilvanië, waar Dracula volgens oorlewering gewoon het. Op sommige etikette loer ‘n vampier (in Roemeens word vampiere strigoi genoem) boonop vir jou. Sou jy ‘n wyn met die naam Legend of Dracula, Tower of Dracula, Conte Dracula of Draculea – Vlad the Impaler wou drink?

‘n Ander interessante aspek van wynmaak in Roemenië is dat die onderste gedeelte van die wynstokke in die winter heeltemal met grond toegegooi word. Dis omdat die winters so bitterlik koud is, vertel Razvan, dat die plante beskerm moet word.

‘n Ortodokse klipkruis in ‘n wingerd

In baie van die wingerde staan ortodokse klipkruise van enkele meters hoog wat bo die wingerd uittroon. Dié kruise is lank gelede deur die Roemeense kleinboere as godsdienstige simbole opgerig. Een van hierdie kruise op die Mierla Alba-landgoed het Christelike-Ortodokse én Islamitiese inskripsies. Mierla Alba het een van hul wyne, die Crucea Manafului Chardonnay, na dié interessante kruis vernoem.

Bring ‘n glasie wyn na die begraafplaas

As jy nou begin lus raak om planne te maak om Roemenië te besoek en hul wyne te proe – dis nou te sê wanneer dit weer moontlik raak om te reis – voeg die dorpie Sapanta-Maramures in die noorde van Roemenië by jou reisplan. Sapanta-Maramures is bekend vir Die Gelukkige Begraafplaas (Cimitirul Vesel). In Die Gelukkige Begraafplaas is meer as 800 kleurvolle grafstene met skilderye en humoristiese grafskrifte wat die oorledene se lewe herdenk.

Ene Stefan se grafskrif lui: Hier rus ek, Stefan is my naam, So lank as wat ek geleef het, het ek daarvan gehou om te drink, Toe my vrou my gelos het, het ek gedrink omdat ek hartseer was, Daarna het ek nog meer gedrink, sodat ek gelukkig kon voel. Dus was dit nie so ‘n slegte ding dat my vrou my gelos het nie, want ek kon saam met my vriende drink. Ek het baie gedrink, en nou is ek nog steeds dors. So, as jy na my rusplek toe kom, los asseblief ‘n bietjie wyn hier.

Die Gelukkige Begraafplaas in Sapanta-Maramures is op mý Roemeense wenslys. Ek wil ook Roemenië se Blou-Trein-wyn, Domeniul Coroanei Segarcea Blue Train Merlot proe. Dit sal my aan die huis laat dink terwyl ek in ‘n verre land reis. Eendag.

Bykomende bronne: Wikipedia en Romania’s Wines deur Mihai Macici

Leave a comment

Information

This entry was posted on June 22, 2021 by in Afrikaans foodies, Iemand - of iets - wat my fassineer.