ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Driepuntdraai in Delhi

Published in Die Burger, June 2010

all-in-a-days-work-at-the-amber-fort-in-jaipur-india

‘n Kakofonie. ‘n Mengelmoes. ’n Poespas. Klanke, kleure, geure. Bowenal kleure.  Oordadig pienk. Smaraggroen. Saffraan. Kobaltblou. Skokgeel.

Indië klink altyd eksoties en spiritueel. Niemand berei jou voor op die ander sy van die alledaagse lewe in Indië nie. Indië is vuil. Onbetwisbaar. Sodra jy by jou hotel uitbeweeg, slaan dit jou soos ‘n vuishou. Jy val daaroor. Jy trap daarin. Vermy kan jy dit nie. Kyk waar jy trap, moet jy.

Dus: die gevolgtrekking – dalk moet ‘n mens twee keer na Indië gaan. Die eerste besoek gaan noodwendig gepaard met die snak na asem as jy die magdom mense, die blêrende toeters, die afwesigheid van vullisverwydering en bowenal die uiterste armoede (soos niks wat ons in Suid-Afrika ken nie, glo dit of nie) teëkom.

vervoer-op-die-platteland

Die tweede besoek (myne moet nog kom) kan jy dalk meer absorbeer, jouself meer sentreer, meer positief belééf.

Met my aankoms by Delhi-lughawe het my kop soos ‘n marionet s’n heen en weer gewip soos ek rondom my kyk. Sus Kwadraat het saamgereis en een was al voor die ander daar siende dat ek uit die Midde-Ooste en sy uit die suidpunt van Afrika gevlieg het. Oe, kyk net daai tulband! ‘n Regte krulpunt-snor! Ek wil sulke klingel-armbande hê! Hier’s so baie om te sien en ek het nog nie eers die lughawegebou verlaat nie.

Oppad na ons hotel is daar regtig-egtige heilige koeie in die middel van die pad. Hulle lê sommer net daar, kompleet asof hulle weet hulle is heilig en dat hulle nie gesteur mag word nie. Die boerbokagtige bokke lyk of hulle oefen om dieselfde status te bereik. So by my kool, hier kom Oom Ollie die Olifant verby. Vlak agter die tannie Olifant. Altans so lyk dit as ek na die geverfde blommetjies op haar wiegende boude kyk.

Delhi is dol. Als voel en lyk na die oortreffende trap. Dramatiese kleredrag en tempels en bestuurstyle. Besoedeling en rommel en onnutsige apies. Al jou sintuie word uitgedaag of dit nou deur holi-feesvieringe, poeja-offerrituele of die alledaagse lewe is.

Die eerste aand stap ons deur ‘n krotbuurt dog dalk is dit hier middelklas. Heeltemal buite karakter bly my kamera in my sak – ek kan net nie…

Die mees hartverskeurende gesig is rye honger mans wat voor gehuggies sit waar kos bedien word. Barmhartige Samaritane met ‘n paar ekstra roepees koop bekertjies sop vir die voorstes en die agterstes moet maar hoop hulle kry daardie aand ‘n beurt.

Ontbyt slaan ons asem weg. Want dit brand. Selfs die eiers kry ‘n onbestelde rissiesous en die uieringe het rooi pitjies in die deeg.

Chandi Chowk wag. ‘n Inkopiestraat vir die plaaslike vroue en heel gepas, gebruik ons plaaslike vervoer. ‘n Groen-en-geel toek-toek wat aan ‘n brommer herinner. Dit kos hard praat om nie op een of ander manier ingeloop te word nie hetsy met die prys of met ‘n ‘toevallige’ raakloop van ‘n broer of verlangse neef met een of ander winkel of deur verskeie ompaaie te ry.

going-into-chandi-chowk

Chandi Chowk krioel. Mense, diere, verkeer, ook lap, plastiekkomme, vars blomme – noem maar op. Op die eerste hoek is sommer twee tempels –  Digambara Jain Tempel en die 800-jarige Gauri Shankar Tempel.

Die eerste tempel is een van die absolute hoogtepunte van al my reiservaringe ooit. In een van die boonste ryk-versierde sale staan ‘n man met ‘n tiara wat koeskoes in sy hande skep en in hopies voor oranje-geklede mans neersit. Bokant hierdie rye mans is ‘n verweerde glaskandelaar. Ons sien ook ‘n meditasie-kamer toe ons by die marmertrappe afloop.

Die tweede tempel is aan die god Shiva opgedra. Daar is talle versierde altaartjies waarvan een gedroogde koolblaarbakkies met blomknoppies binne-in het. In die binnehof lui ongeveer 20 mans ritmies koperklokke terwyl hulle kanteer. Party het fyn mini-vlegseltjies wat teen hul rûe afhang waaraan hulle, volgens hul geloof, hemel toe opgetrek sal word.

Ons eerste naweeksoggend begin voor sonop met ‘n dolle gejaag na die stasie waarvandaan die Shabtabdi Express vertrek. Die trein is oud, maar skoon en bowendien spotgoedkoop. Net die vensters is te vuil om deur te sien, maar om op te maak daarvoor, word twee ligte etes, koffie en mineraalwater  bedien.

Jy kan nie Indië besoek en nie die Taj Mahal sien nie. Agra, die dorpie waarheen ons oppad is en waar die Taj Mahal is, is nie aaklig nie, maar laat jou ook nie jou asem ophou nie.

Erg Calvinisties probeer ons die lekker uitstel. Ons loop eers weg van die Taj Mahal, verby Agra Fort, af na die rivier. Ag nee man, dis verskriklik vuil. Die water in die rivier lyk ongesond vuil. Op die oewer lê nat en droë rommel.

Geen mens op hierdie planeet kan teleurgesteld wees met die eerste (of die daaropvolgende) blik op die imposante Taj Mahal nie. Interessant genoeg, besoek baie Indiërs ook die plek. Die tuine sou die Britse koningin tevrede stel en die poele weerspïeel die stokkielekker-boompies, maar daar is geen kans vir ‘n serene prinses Diana-foto op ‘n tuinbankie nie. Daar is mense oral.

die-taj-mahal-slaan-jou-asem-weg

Agra bestaan, soos baie dorpe in Noord-Afrika, uit  ‘n Ou en Nuwe Dorp. Die nuwe deel is nie iets om oor huis toe (of ‘n artikel) te skryf nie, maar die Ou Deel het plattelandse sjarme. Drink die atmosfeer in by Joney’s Place deur ‘n lassie te drink.

Dankie tog, dis sus Kwadraat wat reis. En ek’s die oudste so ek kan ligweg boelie. So beland ons op ‘n regte plaaslike trein na Jaipoer, Rajastan. Goeie gedorie! Sorrie, Sus, vanaand is die aand op my. Oukei, môreaand ook.

As ons vir die volgende vier uur stil sit en aan niks raak nie, is die kieme net op ons bo-arms, boude… Twee uur later kramp daai dele en nog ander daarby. Vroue lig hul sari’s en swiesj-swiesj in die gangetjie voor ons. ‘n Man met persrooi uitstulpings op sy gesig swaai dit ritmies voor twee verdwaasde Westerlinge.

op-die-stasies-sien-ons-baie-heilige-manne

By Hotel Madhuban in Jaipoer  – eintlik ‘n ou huis wat in ‘n gastehuis omskep is – skrop ons onsself skoon (en rooi) en ek beloon Sus en myself met skemerkelkies by die Polo Bar in Hotel Rambagh, die Mount Nelson (of een van die Mount Nelsons) van Indië. Ganesh, of een van die ander goedgunstige gode, beloon ons met ‘n optog vir ‘n troue wat toevallig op dieselfde tyd geskied. Geduldige kamele, olifante wat met ‘n leertjie bestyg word en swart kostuums wat met rooi,pienk en geel geaksentueer word, paradeer voor ons verby. Ons vergeet van die traumatiese treinrit en bestel nog ‘n glas bekostigbare plaaslike wyn.

Jaipoer het ongelooflik baie om te bied. Ons ry op olifante (sekerlik op almal se moetdoen-lys) om na die Amber Fort te gaan kyk. Vanaf my olifant se rug koop ek ‘n armvol marionette. ‘n Eksotiese transaksie as daar al ooit soiets was. Bo gekom is die handelaars te oorywerig om transaksies te beklink, maar ‘n ferm “Jaua” ( Gaan Weg in Oerdoe) het die gewenste reaksie.

Volgens wet mag die olifante net ‘n sekere aantal uur per dag werk. Aan die onderpunt van dieselfde heuwel waarteen ons opgery het, bad die doekvoete. Die olifante spat water oor hulself, rol in die vlak watertjies en krul hul slurpe van lekkerte as die hanteerders hulle met skropborsels skrop. Een karnallie swem na dieper water toe dit tyd is om uit te kom. Druipstert gaan wag sy hanteerder op die kant.

Toe ons tasse bult van al die inkopies, bespreek ons die duurste trein wat ons kan kry en keer terug na Delhi. Vandaar vlieg Sus Kwadraat huis toe met baie om oor te peins – van die huidige armoede tot hoe dit onder die koloniale regeerders gelyk het, maar veral nog aan’t wonder hoe dit lank voor dit was.

Leave a comment

Information

This entry was posted on February 3, 2017 by in Asië.