ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Organies in Oranjezicht

First published in Die Burger, June 2014

(Since this article has been published some details have definitely changed including the venue where this market is held)

'n Mark met die fokus op gesondheid

‘n Mark met die fokus op gesondheid

‘n Organiese mark onder akkerbome en dit boonop pens en pootjies in die stad. Selfs op koue dae kom kosliefhebbers en honde-eienaars in strome hier aan; dus moet jy liefs maar vroeg kom. En jou hondekinners is welkom – met die intrapslag is daar waterbakke vir dorstige brakke.

Die mark fokus op plaaslike, gesonde, vars, seisoenale groente, vrugte en produkte (soos heuning, muesli, kaas en brood insluitende glutenvry). Ook inheemse plante, kruie en alles en nog wat wat jy in jou tuin kan gebruik.

Uit hoeka toeka se tyd

Die OZCF (Oranjezicht City Farm)-mark is geleë waar daar meer as 360 gelede ‘n groentetuin aangeplant was. Dis vanwaar die vars produkte vir die Kaapse verversingstasie gelewer is.

Moet net nie met vooropgestelde idees hier aangesuiker kom nie. Laat die produkte van die seisoen jou verlei en inspireer om later op ‘n lui Saterdag in die kombuis te begin vroetel.

Of jy ‘n vegan of vegetariër is, of jy suiker afsweer of gril vir graan, hier sal jy vind waarvoor jy soek.

Koffiekapitaal en anderwêreldse sjaksjoeka

Begin met boeretroos (van Rwanda) om die oggend skop te gee en drentel tydsaam deur die stalletjies asook die plaastuin. Vir koffie moet jy jou hand in jou sak steek; wi-fi is verniet.

Markgangers begin die dag met varsgebroude koffie

Markgangers begin die dag met varsgebroude koffie

In die ou skuur bedien Con Amici (www.facebook.com/conamicifunfood – hulle is bekend vir alles te eet en drink in ‘n Europese styl) sjaksjoeka – uit ‘n pan amper so groot soos ‘n trekkerband – vir ontbyt, gevolg deur paella vir middagete.

Party tafels is tjokvol dounat rose, vars suurlemoene en rietbesems wat in broodsakkies aangetrek is. Ander spog met ‘n mengsel van langsteelrose, Medjool dadels en vars kwepers van die Tankwa-Karoo. Vars kwarteleiertjies lê tussen growweskilsuurlemoene; olyfolie in geel blikke het al die pad van Prins Albert gereis.

Kloek om kolwyntjies of belê in sampioene

Kyk uit vir plaaseiers van loslopende henne (www.happyhens.co.za); kolwyntjies met kamee’s en kantwerk (viviennebasckin.tumblr.com); rooifluweelkaaskoek; en oestersampioene wat in en uit ‘n kartondoos (ideaal vir ‘n woonstelbalkon) groei, tot soveel as vier keer na mekaar.

Regte egte koeksisters van die Tankwa-Karoo

Regte egte koeksisters van die Tankwa-Karoo

Wilde at Heart Cordials (www.facebook.com/alwayswildeatheart) maak die geurigste konkoksies van roosmalva (héérlik saam met jenewer), suurlemoen en gemmer, asook boegoe.

Kies ‘n hangnessie, boksie of mandjie met jou eie versameling vars kruie by Village Herbs (www.villageherbs.co.za/wordpress/?page_id=111) en hulle lewer dit gratis by jou huis af. Verskillende stalletjies smous met waterblommetjies, noemnoembessies, granate, koejawels en Turkse pers vye in seisoen. Spekboompiekel is ookal raakgesien.

Gesondheid in die rondheid

By Oranjezicht se stadsmark is rou kos sexy; boegoe help jou detoks; en Nitro Creamy (www.nitrocreamy.co.za) maak roomys terwyl almal toekyk. Die proses laat jou voel asof jy in ‘n wetenskaplaboratorium staan; en die geure (soos persimmon en lemoen; gebakte appel met rosyntjies en kaneel; of Horlicks met heuning) is innoverend.

Die twee lekkerste snoephappies op die mark is die Oosterse groentekluitjies en die rolletjielose burger.

Die groentekluitjies word in ‘n rietmandjie met deksel – bykans so groot soos ‘n kruiwa – gestoom. Druk ‘n gaatjie met jou lepel in die veerligte bondel en drup ‘n kombinasie van twee souse – een met rissie en een met satay – binne-in. Elke happie word vergesel van ‘n stukkie piekelgemmer en ‘n skyfie piekelkomkommer. Jy sal weer en weer wil teruggaan.

Die “burger-sonder-brood” begin met ‘n handvol kruie as basis. Heel bo-op is ‘n wolkie spriete. Tussenin is avokadopeer, tamatie, ‘n paar geheimpies, en dan word dit met ‘n titseltjie kokosneutbloeiselsuiker besprinkel. Gesond was nog nooit só lekker nie.

Daarenteen bedien Inside & You’re Out ‘n meer tradisionele burger, maar – soos hulle dit self beskryf – dit is ‘n “burger extraordinaire”.  Die vleis van die Poach Your Blues word met bloukaas gegeur, geposjeerde pere word bo-op gestapel en bloukaas-en-balsemiese-asyn mayonnaise-met-joghurt daar bo-oor gedrup. Die Whisky Braaiburger kry gerookte spek by en word met whiskysous bedruip.

Vir almal met groen vingers

Gaan maak ‘n draai in die stadstuin om – soos die oumense gesê het – jou kos “af te loop”.

Geplaveide voetpaadjies kronkel tussen welige beddings; groente gedy onder leiwater; stinkafrikaners groei hier en daar. Stellasies wag op rankplante om hul te begroei; ‘n uilhuisie is gereed sodat die uil wat gereeld bespeur word, kan intrek. Goggahokkies op lang pale is te koop.

Daar’s aktiwiteite vir kinders (in die tuin self); ‘n visdam wat hul sal fassineer sowel as ‘n speelpark net onder die mark.

Dis net vroegoggend stil; dus moet jy vroeg probeer kom

Dis net vroegoggend stil; dus moet jy vroeg probeer kom

Lees vir oulaas die swartbord wat trots verklaar: Niemand het nog ooit gesê dat hul regtig spyt is dat hul vandag gesond geëet het nie.

Strompel vergenoegd en verkwik huis toe met ‘n gerf strelitsias, ‘n bos proteas, helder sonneblomme of ornamentele pers koolblomme.

2 comments on “Organies in Oranjezicht

  1. Tannie Frannie
    May 21, 2020

    O, ek geniet jou Afrikaans! “…waterbakke vir dorstige brakke…” ❤ ❤ ❤

  2. ilsez
    March 24, 2021

    Wat ‘n lieflike kompliment! Dankie,Tannie Frannie. Jammer dat ek nou eers antwoord.

Leave a comment

Information

This entry was posted on May 21, 2020 by in Afrikaans foodies and tagged .