ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

WAT BLÊR IN BREDASDORP

First published in Die Burger, March 2012

Soet klanke van landelike lewe

Soek Radio Overberg  se 98.4 fm-frekwensie op jou motorradio voor jy Bredasdorp binnery. Dis pure Overberg met ‘n Namakwalandse twêng. Liedjielirieke sluit verwysings na Brahmane en tyd in Roelandstraat se tjoekie in.

'n Spinnekopboot staar jou in die gesig as jy Bredasdorp in die rigting van Agulhas uitry

Waarnatoe eerste? Dis nie asof alles binne stapafstand is nie. Eintlik ongewoon vir ‘n kleinerige dorp. Nog iets wat ongewoon is, is dat Bredasdorp – in 1838 gestig – nie ‘n duidelik onderskeibare bo- en onderdorp gehad het nie.

Pasop vir die ronding van die suidpunt van Afrika

 Hoeveel dorpe – en dan’s dit boonop nie eers ‘n kusdorp nie – kan spog met ‘n skeepswrakmuseum?! Maak dit jou eerste aandoenplek. Veral as jy ook boegbeelde romanties vind. Daar’s ook onlangs ‘n nuwe vertrek, A Trip down Memory Lane, bygevoeg.

Bredasdorp lê aan die voet van die Heuningberg. In die Heuningberg-natuurreservaat groei die Bredasdorp-lelie – sowel as ‘n paar ander – wat nét hier voorkom.

Skeppend in die Overberg

Die nimlike Audrey Blignaut is hier in Bredasdorp gebore. Sy is bekend daarvoor dat sy uit die kleinste dingetjies in die lewe kon vreugde put. Dalk is dit iets in die drinkwater of in die soet lug van die Heuningberg-natuurreservaat wat die Bredasdorpers inspireer. ‘n Menigte  plaasvrouens skilder; die kerkbasaar is tot onlangs HEMELS genoem; die Kaap Agulhas Gemeenskapskoor (van Bredasdorp) heet AkKOORd en onder die leiding van Sunell Human Jacobs is hul eerste CD, Where Oceans Meet, vrygestel; en die hoekkafee heet Soetmuisberg.

Eet, slaap en koop

In die middel van die dorp is Bredasdorp Square. Nee, nie die dorpsplein nie, maar ‘n bestemming waar jy kan Eet, Slaap en Koop. Eet in ‘n plattelandse Versailles-vertrek; slaap op die boonste verdieping; koop ‘n monotoon-room geskenk. Steel ‘n onverwagte idee soos om materiaallintmaatband rondom ‘n lantern te bind.

Skuins agter Bredasdorp Square is Vanilla waar ingevoerde en plaaslike klere, kostuumjuweliersware en polvy-skoene in ‘n boetiekatmosfeer uitgestal word.

Voor Bredasdorp Square is ‘n welige tuin waar lank terug ‘n grastennisbaan was – destyds is die gebruik hiervan goedgunstelik deur die kerk bewillig solank dit net nie ‘n publieke steurnis sou inhou nie.

Plek-plek sien jy Norfolk-denne in die dorp. Hierdie bome is in die vroeë 1900’s deur Rothman Algemene Handelaars ingevoer. Die bome is as geskenke aan hul vriende gegee. As jy vandag een van hierdie denne sien staan, weet jy daar het destyds ‘n vriend van die Rothmans gewoon.

Hoe ry die boere sit-sit so

 Waar die buurdorp Napier grotendeels ‘n wegbreekplek vir stedelinge geword het, word daar nog volstoom met merino-skape, graan, kanola en hawer in die Bredasdorp-distrik  geboer. G’n wonder die Agri Mega Week wat in die tweede helfte van die jaar hier gehou word, gaan van krag tot krag nie.

Elim is 'n ou sendingstasie naby Bredasdorp en is bekend vir sy kleurvolle huisies (2)

Oulap se rooi maak mooi

 Bredasdorp het sy kwota rooikoppe waarvan Mariëtte Uys van Ginger een is en vandaar haar oorspronklike winkelnaam. Fiksie en Fantasie se eienares, Christelle Faul, vertel sy word tot vervelens toe gevra of hul twee dan nou familie is vanweë hul oranje krullebolle. Vra liewer vir Christelle om vir jou ‘n boek aan te beveel – jy dra jou rug krom aan die boeke wat jy daarna huis toe dra. As Christelle nie lees nie, doen sy kralewerk (haar etiket is Reds), en sy het al selfs ‘n boek, Kreatief met Krale, hieroor gepubliseer. Dan’s daar nog ‘n vurige rooikop of twee aan die buitewyke van die dorp, word daar gefluister.

Agter die silo’s is Kapula Kerse wat reg deur die land en oorsee versprei word. Kies uit die bontste bont, Afrika-temas, fyn rooi rosies of laventelblommetjies of skakerings van jou gunsteling kleur.

‘n Aks nader aan die dorp is die Industria Lifestyle Centre met ‘n kwekery; ‘n koffiedrinkplek; Bel Don se gewilde, allergievrye gansdonskussings en –duvets; Ginger se handgemaakte versoekings; asook ‘n paar nuwe verwikkelinge in die pyplyn. Elke eerste Saterdag van die maand word hier plaasmark gehou.

Tussen Kapula en die middedorp is Julians waar funksionele keramiek – en hier en daar iets anders vir jou huis – besigtig kan word; hier word ook ‘n dag- en aand-restaurant bedryf. ‘n Paar blokke verder is Bredasdorp Galery wat al sowat 20 jaar lank vir hul uitsonderlike kuns bekend is.

Bredasdorp is nie sommer net nog ‘n plattelandse dorp soos wat dit op die oog af kan lyk nie. Die NG-kerk word hierdie jaar 150 jaar oud. Binne stapafstand is twee tipies plattelandse hotelle wat Victoria en Standard heet – laasgenoemde het sy eie kapelletjie waarin die bruidspaar en nog vier (of vyf maer) gaste kan pas. Die 9-putjie gholfbaan lok afslaners van ander dorpe en die gimnasium kon netsowel in ‘n voorstad van Kaapstad gewees het. Die horlosie-hersteller oom Louis Nigrini het kliënte van regoor die lengte en breedte van die land en dit is dus geen wonder dat die kerkhorlosie nog nooit meer as twintig sekondes uit was nie.

So word met taal in Bredasdorp gespeel:

'n Suzani lap by die ingang van Twiice

Twiice van Ilse van der Westhuizen verkoop stylvolle retro-klere. Hier is bekende en duur etikette, leerbaadjies, jou ouma se kerkskoene, syhemde, frilletjierige serpe en groot handsakke. Kontaknommer: 082 374 9734

  • Bonthuys van Marelize Crafford verkoop ou meubels wat met ‘n lekkie verf of ‘n bont lap opgetower word. Tussenin staan ‘n ou glasfles, ‘n olieverfskildery of ‘n rottangmandjie. Kontaknommer: 083 4456 999
  • Hemels was die tema van die jaarlikse kerkbasaar in Maart.
  • By Meelmuis is brooddeeg, roosterkoeke, pizza-wiele en ander degerasies te koop of bestel. E-pos: mara@keeper.co.za
  • By Fiksie en Fantasie is ook nie-fiksie, kookboeke, outobiografieë en koffietafelboeke. Verbreed jou boekekennis deur 028 425 3236 te skakel.
  • Lank terug was hier ‘n kafee met die naam Rooistoepies, meer onlangs ‘n kwekery met die naam Groei, maar die plaas Kathoek se naam het steeds dieselfde gebly.
Dis waar jy meer kan uitvind:
 
·        Lees by www.kapula.net hoe hierdie kerswerkswinkel ontstaan het en besluit watter ontwerpe vir jou die mooiste is
·        E-pos vir Mariëtte Uys van Ginger om te hoor wat in haar winkeltjie beskikbaar is of om plaasverblyf te bespreek: coachhousebb@gmail.com
·        As jy liewers in die dorp wil bly, gaan loer na: www.firlanehouse.co.za
·        Om produkte met gansveerdons te bestel, e-pos die mense van Bel Don: thesiding3177@yahoo.com
·        Vir meer inligting oor die Heuningberg Natuurreservaat, of die res van die Overberg, besoek: www.suidpunttourism.co.za
·        Kyk na die katalogus van Julian’s se keramiek-ontwerpe by: www.juliankeyserceramics.co.za

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on September 28, 2017 by in Oral(s) in die Overberg and tagged .