ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Calitzdorp het baie uitspanplek

First published in Die Burger, August 2013

‘N BOSVARKIE NABY ‘N TREINSPOOR

‘n Calitzdorper plaas sommer met die aankom in die dorp kamp in hul dorp in perspektief. As jy hier kom kamp, is hier stof en sand. Wat daar nie is nie, is die see en erg baie om te doen.

Kampeerders wat na Calitzdorp kom, wéét dit. Hulle kom rus net, tjil of kom beleef die natuur. Dalk kom proe hulle al om die uur port. Kampeerders met kinders weet dat hul spruite weet hoe om hulself te vermaak of ma en pa is bereid om die kroos self besig te hou.

Waar eers getjoektjoek is

Laat jou verbeelding jou wegvat na toe die stasiegebou nog in gebruik as treinstasie was

Ai, ek wens ek’t geweet wie oorspronklik met die blink gedagte vorendag gekom om Calitzdorp se stasie in ‘n verblyfplek vir kampeerders en rugsakreisigers te omskep. Maar dis my eie skuld dat ek nie rondgevra het nie, mymer ek nou selfbetigtigend.

Dis nie sommer ‘n hierjy stasie hierdie nie.  Op hierdie platform lyk als eksie-perfeksie. Skoon gevee en blink gepoets. Selfs die sinjale lyk of iemand net opdrag moet gee en dinge sal begin gebeur.

Stop by die ou sinjaalteken en meld by die kaartjieskantoor aan

Voor die kaartjieskantoor pryk draadstoele op die perron waar ‘n stasiemeester van vervloeë dae sou kon koerant lees terwyl hy wag dat iets gebeur wat sy aandag verg.

Moenie dat die feit dat jy by 'n ou stasie kamp jou mislei nie - jy's tussen rotskoppies en bome

By die stasie kan jy jou eie tent opslaan of jou karavaan kom intrek; hier is slaapplek vir vier rugsakreisigers; en safari-tente met beddens is ook beskikbaar. Die storte is warm en daar is plek waar jy jou eie kos kan voorberei indien verkies.

Calitzdorp self is maar vyf minute se stap weg.

Op hierdie einste stasie is al fliektonele geskiet en troues gehou.

  • Aanwysings: draai by Van Riebeeckstraat in, daarna by Queenstraat in, en volg hierna die aanwysings na De Kranz Kelder wat jou na Calitzdorp Stasie sal lei.
  • Kontak Cheryl by 081 473 3232 of 044 2133 587.
  • calitzdorp.co.za/calitzdorpstation.htm

 Oink oink saam met ‘n bosvarkie

 

Met die onlangse portfees was Die Bosvarkie tjok en blok vol. Hier’s feesgevier en port gedrink.  So hoor ek. Selfs hul webtuiste dui aan dat die kuierplek in die kampplek tot 22h00 oop is, maar alles hang af van die ‘vibe’ wat daar heers. Op Saterdae blyk dit die ‘vibe’ hou langer aan…

Knap buitekant die dorp laat oulike handgeskrewe aanwysingsborde jou onder geen twyfel waar jy moet regs swenk of links hou nie.

Die kampplek mag maar klein voorkom,  maar hier’s genoeg plek vir kuier. ‘n Allemintige kroeg met ‘n vuurherd; ‘n kontrêpsie in die tuin wat soos ‘n verhogie lyk; ‘n plat-oppie-grond vuurmaakplek; en laastens, ware Karoo-gasvryheid volgens hul webtuiste. Eish, dit kan dalk net ‘n groot gekuier afgee.

Op Sondae is middagetes met nagereg ingesluit, beskikbaar. Bespreking is noodsaaklik.

  • Volg die aanwysings na die Calitzdorp Spa vanuit die dorp. Daarna draai jy eers na ongeveer vier kilometer af na Gamka-Oos gevolg deur sowat twee kilometer later na Die Bosvarkie.
  • Bepreek by Chris 084 056 2268 of Carine 083 391 5325.
  • calitzdorp.co.za/bosvarkie.htm

Tjil op ‘n plaas

Jy kan nie die afdraai na Matjiesvlei misry nie

‘n Entjie voor Calitzdorp aan Ladysmith se kant is ‘n duidelike padaanwysing wat aandui dat jy hier links na Matjiesvlei Gasteplaas indraai. So gesien, so gemaak. Nie om – hierdie keer – te gaan kamp nie, maar om te gaan verken.

‘n Kronkelpad deur klowe en valleie slaan jou asem weg. Dis eenvoudig net so móóí en dis nie eers ver van die hoofpad af nie. Ons sou dit nooit kon raai as ons nie hier afgedraai het nie.

Verdwaal kan jy ook nie; daar’s nêrens anders om af te draai nie – en dan doem die duidelike plaasbord voor jou op. Hier word ook nie doekies omgedraai nie – die’ bord’ (eintlik ‘n allemintige klip waarop in heldergeel letters geverf is) lys alles wat op Matjiesvlei te vinde is.

Aalwyne in die blom by Matjiesvlei

Die aalwyne bloei; die volstruise het rooi hakskene ( in hul kampe is ou geroeste trokke wat smeek om afgeneem te word); die kothuisies is donkergrys en wit (en herinner aan die blyplekkies in Die Hel).

Ou motorwrakke bied sitplek vir Vollie se kuiergaste, vermoed ons

Ongelukkig – weens ‘n tekort aan tyd –  ontmoet ons nie die eienaar van Matjiesvlei nie en sien ons ook nie – weens ‘n gebrek aan ‘n 4X4-voertuig op hierdie ekspedisie – die gasteplaas se Dam Rivierkamp op die oewers van die Gamkarivier nie.

Die omliggende omgewing en die pad hiernatoe voorspel egter ‘n wegbreekopsie wat ondersoek móét word. Die Bôjaankop 4×4-roete wat ook deel van Matjiesrivier uitmaak, strek van die voet van die Swartberge tot by Bôjaankop self wat 522 meter bo seevlak geleë is.

  • Aanwysings: Ry met die R62 uit Ladysmith vir 40 km in die rigting van Calitzdorp; hier draai jy links na Matjiesvlei. Draai weer links na 4 km waarna die pad jou na ‘n verdere 2 km by die plaas laat stop.
  • Kontak vir Bennie en Selma Nel by een van die volgende nommers: 073 174 1028, 083 453 2209 of 044 213 3756.

Lees die interessante geskiedenis van die plaas op www.matjiesvlei.co.za/contact.php

Leave a comment

Information

This entry was posted on July 3, 2018 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .