ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Daar’s nie net tango in Buenos Aires nie

First published in die Burger, May 2016

‘n Nuwe T-hemp vir jou kas…

‘n  Geroesemoes van stemme. ‘n Handvol tafels. Gedempte lig waaronder middeljarige kelners besadigd skarrel. Vlugvoosheid vergete adem ons die atmosfeer in.

Net om oopmond toe te kyk hoe ‘n biefstuk so groot soos ‘n opdienskottel voor ‘n Argentyn by die tafel langs ons neergesit word. Skaars ‘n paar minute later is alles verorber en sit hy behaaglik terug.

vintage soda siphons abound

Sodasifone op die San Telmo-mark

In Buenos Aires leer jy gou: bestel bife de lomo (filet) met chimichurri, ‘n Argentynse salsa gemaak van pietersielie, paprika, mildelike knoffel en rooiwynasyn, by ‘n parilla (braairestaurant); vrá vir groente as bykos; drink Malbec. Die lekkerste chimichurri was by El Salmon II naby die inkopiestraat Florida.

Die Argentyne is net so lief soos ons vir braai. Hulle noem dit asado; die grootste verskil tussen ons en hulle manier van doen is dat die roosters op sulke skewe spitte staan. Hulle glo ook nie juis aan marinades nie sodat die natuurlike vleissmaak hoogty vier.

Vol fiemies is hierdie Suid-Amerikaners ook nie. Hulle eet alles – brosgebraaide hart, lewer, bloedwors, tong, timusklier, brein, binnegoed en niere.

'n stillewe van voorgeregte by cabana las lilas

‘n Stillewe van voorgeregte by cabana las lilas

By die fênsie – met pryse wat daarby pas – Cabana Las Lilas in  Puerto Madero (Buenos Aires se Waterfront) word Mollejas de Corazon (sweserik veral hart) met lemmetjiesap bedruip; perske-Bellini’s kry ‘n skeut jenewer by; en limoncello (suurlemoenlikeur) is pasella saam met koffie.

Nie te ver hiervandaan – aan die oorkant van Puerto Madero – wag ‘n sensoriese belewenis van ‘n leeftyd jou in. Soos ‘n wafferse Hollywood-ster stap jy oor ‘n rooi tapyt om Faena Hotel te betree. Sink dan weg in ‘n rooi fluweelstoel omring deur antieke boeke en kristalvase in die Library Lounge. Laat die subtiele geurkomponente by El Mercado jou tot trane dryf. Verkyk jou aan die feetjieliggies by die swembadkroeg met ‘n skemerkelkie in die hand.

El Obrero is – by wyse van spreke – aan die ander kant van die spoorlyn – en bestaan al sedert 1910. Toentertyd het die Italiaanse arbeiders – die naam beteken ‘die werker’ – hier vir kaartspeel-en-drink bymekaargekom.

Dis eintlik die enigste plek in La Boca, die kleurvolle ou Italiaanse buurt met sy sinkplaatgeboutjies, wat as restaurant hoog aangeskryf is. G’n wonder van die wêreld se bekendste persoonlikhede het al hier uitgehang nie en dít terwyl die eienaar nog dieselfde stoele en tafels sedert die opening van El Obrero gebruik.

By El Obrero in La Boca, Buenos Aires

Aangesien El Obrero nie naby die toeristestraatjies geleë is nie, is dit pleinweg dom om nie per huurmotor hier aan te kom en vertrek nie.

Tot en met ‘n paar jaar gelede was Argentinië die land met die meeste Italiaanse immigrante. As jou vleistand nie so groot is nie, kan jy jou verlustig in pastas en risotto’s wat nie – soos in Italië – jou kredietkaart knak nie.

Uit die twintig beste maaltye van my lewe was tien daarvan in Buenos Aires, as ek nou ‘n vinnige skatting moet maak.

Risotto met pistasieneut en zucchini-bloeisels of met songedroogde tamatie, gorgonzola en wildesampioene. Pampoenravioli met basilie. Cannelloni gevul met konynvleis.

Hoenderlewerpatee met gerookte teejellie. Sabajonroomys met aarbei. Camembert met turksvy.

By La Parolaccia is jy amper lus om ‘n vloekwoord (dis wat parolaccia beteken) na ‘n verbysterende eetervaring, wat terselfdertyd ongelooflike waarde vir geld is,  te uiter.

By Olsen, ‘n Skandinawiese restaurant en wodkakroeg met 60 soorte wodka, smul jy aan takbokcarpaccio met vinkelroom, bessies, beet en gremolata terwyl jy jou verkyk hoe kombuispersoneel op ‘n lae teëlmuurtjie spring ten einde hulself in die lae plafon op te hys om voorraad terug na die kombuis te neem.

By Jardin Japones is daar benewens die Japanese tuin in ‘n uitgestrekte park vol katte, ‘n teetuin en restaurant. By Van Koning Bar kan jy behalwe Hollandse bier, bier uit Finland, Denemarke en Meksiko drink, en bitterballen eet.

Hoewel die versoeking  groot sal wees om by soveel as moontlik van die wêreldklas restaurante in Buenos Aires aan te sit, is wegneemhappies soos empanadas, halfmaanvormige gevulde pasteitjies,  en alfajores, twee koekies wat met dulce de leche (karamelkondensmelk) op  mekaar geplak is, nie te versmaai nie.

dulce de leche is immensely popular as well as immensely sweet

Dulce de leche is soos karamelkondensmelk

Koffiewinkels verkry ‘n ander dimensie in Buenos Aires. Waar anders kan jy ontbyt eet op ‘n verhoog in ‘n teatergebou wat uit 1919 dateer en in ‘n dramatiese boekwinkel, met oorspronklike plafonfrescoes, omskep is. Nét by El Ateneo Grand Splendid.

Cafe Tortoni se deure het in 1858 geopen; sedertdien is die manelpakkelners knorrig, maar die marmerpilare, Tiffany-lampe en warmsjokolade con churros , ‘n Spaanse koeksister, vergoed daarvoor.

'n koffiewinkel cum ou-styl deli

El Gato Negro Cafe

By El Gato Negro (Die Swart Kat) vermeng die geure van cafe al jengibre (koffie met heuning, kaneel en gemmer) en speserye soos kardamom wat in kardoesies of katblikkies te koop is.

at la biela everything is not what it appears to be

Lewensgrootte mannekyne sit by sommige van die tafels van La Biela

La Biela was eens die uithangplek van die intelligentsia wat steeds vereer word deur lewensgrootte modelle van bekendes wat plek-plek by tafeltjies pryk.

As die son begin water trek, raak dit tyd vir iets sterkers.

Plaza Dorrego Bar in San Telmo is die kuierplek van ou en jong portenos, soos wat inwoners van Buenos Aires bekend staan. Neutdoppe word onseremonieel op die vloer gesmyt, die kroegtoonbank is bekrap en gryskoppaartjies dans die tango as die voggies begin trek.

Buon apetito! Buenos Aires is ‘n bestemming vir lekkerbekke.

Wenke vir jou reis
·        Baie van die restaurant-webwerwe is slegs in Spaans, maar dis hoe jy die straatadres in die hande sal kry.
·        By restaurante wat tango-vertonings vir toeriste aanbied, is die kos gewoonlik ordinêr en teleurstellend. Soek ‘n plek waarheen die Argentyne gaan.
·        Bespreek vooraf by die meer bekende restaurante.
·        Koop jou eie chimichurri om huis toe te bring by ‘n supermark of hoekkafee.
·        Meer avontuurlustige eters kan lama-biefstuk in die stad probeer opspoor hoewel dit meer gewild in die noorde van Argentinië is.

Leave a comment

Information

This entry was posted on January 19, 2019 by in Afrikaans foodies.