ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Aangename kennis, ek’s die groen absintfee

First published in Die Burger, November 2016

Ken jy die groen absintfeetjie?

Die berugte Groen Fee wat jou laat praat na jy absint gedrink het

Die berugte Groen Fee wat jou laat praat na jy absint gedrink het

Absint is fassinerend. En kontroversieel. Dit blyk ook ‘n muse te wees.

Oscar Wilde het eenmaal geskryf: Wat is die verskil tussen ‘n glas absint en die sonsondergang? Hy het ook die volgende woorde geuiter: Dit voel of tulpe my bene streel as ek teen toemaaktyd die kroeg verlaat nadat ek absint gedrink het.

Straattoneel in Praag se Ou Stad

Straattoneel in Praag se Ou Stad

Ernest Hemingway het die volgende kwytgeraak: “Het gisteraand te veel absint gedrink. Mestoertjies gedoen.”

Die Franse dramaturg Alfred Jarry het, elke keer na hy homself aan absint vergryp het, ‘n keil en mantel aangetrek en met sy rewolwer gaan sprinkane jag.

Oor absint word daar baie stories vertel – anekdoties en hoorsê.

Min mense weet dat dit in Switserland is waar absint in die laat agtiende eeu vir die eerste keer gemaak is; daar word oor die algemeen gedink dat dit in die Tsjeggiese Republiek of Frankryk gebeur het.

Die ontstaan van absint was in Neuchâtel, ‘n kanton in Switserland wat eintlik vir horlosies bekend is. Artemisia absinthium, die doepa in absint, is wildeals of bitteralsem wat natuurlik in die heuwels rondom Neuchâtel voorkom.

Sommige glo ‘n Franse dokter, Pierre Ordinaire, wat in Switserland gewoon het, het absint met anys en vinkel as ‘boereraat’ in die laat 1700’s begin gebruik. Die eerste absint-distilleerdery is deur Pernod begin en hul absint was van die gewildste tot die drankie in 1914 in Frankryk verban is.

In die 1840’s is absint aan Franse soldate as antidote teen malaria gegee. Teen die 1860’s was absint so gewild dat vyfuur, die skemerkelkie-uur, l’heure verte (“die groen uur”) genoem is.

Absint is tradisioneel groen; die kleur is te danke aan die chlorofiel of plantolies van die kruie wat in die logingproses gebruik word.

In die laat negentiende en vroeë twintigste eeu het absint die hoogtepunt van sy gewildheid – veral in Frankryk onder die Paryse boheemse kunstenaars en skrywers – bereik.

Skrywers soos Ernest Hemingway, Oscar Wilde, Marcel Proust en James Joyce, digters soos Edgar Allan Poe en Lord Byron en skilders soos Pablo Picasso, Henri de Toulouse-Lautrec en Vincent van Gogh was almal aanhangers van hierdie allesbehalwe ordinêre drankie.

Daar’s selfs mense wat reken dat Vincent van Gogh onder die invloed van absint sy linkeroor afgesny het. En voor dit juis daarom so baie groen skakerings in sy kuns gebruik het.

Absintfonteine het selfs destyds ‘n modegier op restauranttafels geword. Elke absintfontein op ‘n staander het ‘n paar kraantjies gehad waaruit yswater gedrup het sodat elkeen hul absintdrankie na smaak kon meng.

‘n Ritueel van absint drink – waarin sommige glo en waarteen ander hewig gekant is – is om ‘n klontjie suiker op ‘n absint-lepel (wat soos broekieslace lyk) te plaas en water stadig daaroor te drup terwyl die suiker aan die brand gesteek word.

‘n Minder kontroversiële absintdrankie is ‘n sopie absint wat by ‘n glasie vonkelwyn gevoeg word. Die skepping word aan Ernest Hemingway toegedig wat dit na sy boek, Death in the Afternoon, vernoem het. Hy’t aanbeveel dat drie tot vyf van hierdie vonkel-absintdrankies stadig geteug word. Dis nie ‘n aanbeveling wat jy goedsmoeds moet volg nie.

Daar is al beweer dat absint jou mal en/of krimineel maak en epilepsie en tuberkulose kan veroorsaak. Dalk het hierdie kritici te veel absint gedrink vandaar sulke verregaande uitlatings.

La Fée Absinthe (Die Absint-Feetjie) was die eerste kommersiële absint wat, na die verbod gelig is, in Frankryk gedistilleer is. Die naam is ‘n skalkse verwysing na die legendariese ‘groen feetjie’. Sy sit kwansuis op jou skouer as jy te veel absint gedrink het, en dis sý wat dan praat, nie jy nie.

Vra my, jy sit nog so en wonder wie nou net dáárdie uitlating kwytgeraak het. Dan kom jy agter – jy’t dit so wraggies self gesê.

Dan is dit reeds te laat.

Wat jy nog wil weet

‘n Absinteur is iemand met ‘n besondere voorliefde vir absint.

Absintisme was die naam van ‘n geestesiekte wat absint kwansuis kon veroorsaak. Dit was nie dieselfde as alkoholisme nie – absintisme is gekenmerk deur rusteloosheid, verwarring, ‘n tipe epileptiese aanval en delirium. Ook visuele en ouditiewe hallusinasies wanneer die persoon te veel absint op een slag gedrink het.

Leer meer van absint: www.absintheur-guide.de

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on February 4, 2019 by in Afrikaans foodies and tagged .