ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Storie van die ou kaarte

First published in Die Burger, May 2019

Geen kroniek, joernaal of kaart van Dias-vaart oor

Visitors to the Dias Museum are allowed to climb onto the Dias replica caravel to explore every nook and cranny

Die karveel in die Dias Museum in Mosselbaai

Elke jaar in Mei-maand word Dias-Dag in Struisbaai en Kaap Agulhas gevier.

Wie was Bartolomeu Dias?

Bartolomeu Dias (1450-1500) was ‘n Portugese ontdekkingsreisiger. Hy was die eerste Europeër wat – in 1488 – om die Kaap van Goeie Hoop geseil het.

Reeds in 1487 was hy die eerste Europeër wat in Suidelike Afrika voet aan wal gesit het toe hy by Kaap Kruis in Namibië aan land gegaan het. Hy was weereens die eerste Europeër om voet aan wal in Suid-Afrika te sit toe hy by Mosselbaai aan land gegaan het.

'n Voorstelling van hoe Bartolomeu Dias kon gelyk het hoewel niemand presies seker is nie aangesien daar geen skildery van hom behoue gebly het nie

‘n Voorstelling van hoe Bartolomeu Dias kon gelyk het hoewel niemand presies seker is nie aangesien daar geen skildery van hom behoue gebly het nie

Die ekspedisie waarop Bartolomeu Dias was, is onder die bevel van Koning João II van Portugal uitgestuur. Die ekspedisie moes ‘n gedeelte van die Afrika-kuslyn wat op daardie stadium nog onbekend aan die seevaarders van Europa was, verken.

Die opdrag van die koning was dat Dias die land van ‘n invloedryke Christelike koning, ene Priester Jan, moes gaan soek. Daar is geglo dat hierdie Priester Jan van ‘n alternatiewe handelsroete na die Ooste geweet het. Min het die Portugese geweet dat Priester Jan nie regtig bestaan het nie.

Nieteenstaande het Bartolomeu Dias met sy twee karveelskepe, die São Cristóväo en die São Pantaleão, sowel as ‘n voorradeskip, die weg gebaan vir die ontdekking van die seeweg tussen Europa en die Ooste deur om die suidpunt van Afrika te vaar.

Sover daar nagespoor kon word is die voorradeskip en van die bemanningslede aan die kus van die huidige Angola agtergelaat. Die rede daarvoor was dat die seestrome sterker, die see stormagtiger en die winde erger geword het.

Wat het Dias vermag?

Daar word vermoed dat Dias gedink het dat die onderpunt van Afrika nader was. Toe hulle uiteindelik naby die Kaap kom was die weerkondisies so erg dat Dias die karvele na die diepsee laat vaar het sodat hulle in kalmer waters kon seil.

Dis dus geen wonder dat Dias die Kaap Cabo Tormentoso (Kaap van Storms) genoem het nie. Hy het wel later die naam na Cabo de Bõa Esperança (Kaap die Goeie Hoop) verander.

Die eerste land wat hy na die diepsee gesien het, was by die huidige Gouritsrivier. Dus het hy om die suidpunt gevaar sonder om dit te besef. Hy het die land Die Baai van die Veewagters (Rio dos Vaqueiros) genoem omdat hy mense met beeste op die strand gesien het.

By die huidige Mosselbaai is aangedoen om hul voorraad vars water aan te vul.

Soos wat hulle verder gevaar het – in die hoop dat Indië naby is – het Dias die volgende plekke gekarteer: Plettenbergbaai (toe Cabo Talhado genoem), Algoabaai of Port Elizabeth (toe Baia da Lagoa) en die Groot Visrivier (toe Rio de Infante). By laasgenoemde het die bemanning hom gedwing om om te draai.

Eers het Dias ‘n kruisbaken met die volgende inskripsie opgerig: “In die Jaar van Onse Heer Jesus Christus 1488. Soveel jaar ná die Skepping van die Wêreld het koning João aan Bartolomeu Dias, die bevelvoerder van sy skepe, opdrag gegee om hierdie kus te ontdek.”

Wat het op 16 Mei 1488 gebeur?

Op sy terugvaart het Bartolomeu Dias om die suidpunt – hierdie keer na aan die kus – gevaar en ‘n “sekere plat stuk land” gesien. Dit was op 16 Mei 1488. Hy het dié deel van die land na ‘n Ierse monnik, Sint Brendan, vernoem aangesien dit dié heilige se feesdag was. Die naam wat gegee is, was Ponte de Sao Brendao.

Geen kroniek, joernaal of kaart oor Dias-vaart

Daar het geen joernaal, kroniek of kaart oor die Dias-vaart behoue gebly nie. Daar het ook geen outentieke portret van Dias behoue gebly nie.

Bartolomeu Dias is in 1500, twaalf jaar na hy om die suidpunt gevaar het, tydens ‘n storm ter see saam met die res van sy bemannning oorlede terwyl hy as skeepskaptein na die ontdekking van Brasilië na Indië gevaar het.

Meer kontemporêre dokumente en latere beskrywings van Dias se reis het historici in staat gestel om die gebeure sover moontlik te rekonstrueer.

Bartolomeu Dias Museumkompleks, Mosselbaai

In 1488 het Dias by Mosselbaai geland. In 1988 is die vyfhonderdjarige herdenking van Dias se geskiedkundige vaart gevier.

‘n Replika van Dias se oorspronklike karveel (‘n caravela latina genoem), ‘n kleinerige Mediterreense handelsvaartuig, is met die gebruik van oorspronklike historiese skeepswerfplanne by die Sameul &Filhos-skeepswerf in Portugal gebou. Daarna is met dié karveel vanaf Lissabon na Mosselbaai gevaar.

Die ontwerp van die replika-karveel was so akkuraat as moontlik, maar daar is wel ‘n paar aanpassings gemaak. Een hiervan is dat moderne navigasietoerusting gebruik is.

Die karveel word nou in die Bartolomeu Dias Museumkompleks in Mosselbaai uitgestal.

By die Bartolomeu Dias Museumkompleks

At the Bartolomeu Dias Museum you can visit the maritime and a shell museum

Bartolomeu Dias Maritieme Museum

Kom besoek:

  • Meer as 500 jaar oue Posboom
  • Lewensgroot replika van die Dias-karveel
  • Skulpmuseum
  • Akwarium
  • Maritieme Museum
  • Etno-botaniese tuin

Openingstye: Maandag – Vrydag 9h00-16h45

Naweke/openbare vakansiedae 9h00-15h45

Gesluit op Goeie Vrydag en Kersdag

Adres: Markstraat 1, Mosselbaai

www.diasmuseum.co.za

 Suidpunt-Dag in Struisbaai

Vanjaar is die negende jaar wat Agulhas Nasionale Park dié dag herdenk. Dit is egter die eerste jaar wat daar spesifiek ‘n praatjie oor Bartolomeu Dias gehou gaan word.

Die Suidpunt-Dag herdenk Bartolomeu Dias se vaart om die suidpunt sowel as die lewens van al die skipbreukelinge wat al hul lewens aan hierdie kus verloor het.

‘n Plaaslike kartograaf, Esna Swart, praat oor hoe meer kontemporêre dokumente en latere beskrywings van Dias se reis historici in staat gestel het om die gebeure sover moontlik te rekonstrueer aangesien daar geen joernaal, kroniek of kaart van die Dias-vaart behoue gebly het nie. Daar het ook geen outentieke portret van Dias behoue gebly nie.

Bartolomeu Dias is in 1500, twaalf jaar na hy om die suidpunt gevaar het, tydens ‘n storm ter see saam met die res van sy bemannning oorlede terwyl hy as skeepskaptein na die ontdekking van Brasilië na Indië gevaar het.

                                                * * * Die storie van die ou kaarte * * * 

As gevolg van die inligting wat Bartolomeu Dias met sy vaart om die suidpunt van Afrika ingewin het, kon die Europese kartograwe van daardie tyd die kuslyn van Afrika baie meer getrou op hul kaarte aanteken.

Die twee belangrikste kaarte wat na Dias se ontdekkingstog geteken is, is die Martellus-kaart (circa 1489) en die Cantino-planisfeer (1502).

Martellus-kaart: Die Martellus-kaart is die vroegste behoue kartografiese weergawe van Dias se vaart om die suidpunt. Die kartograaf wat vir hierdie kaart verantwoordelik was, is Henricus Martellus Germanicus. Germanicus was ‘n Duitser wat in Italië woonagtig was. Hy het vermoedelik inligting gebruik wat deur twee broers, Bartholomeus en Christophorus Columbus, uit Portugal gesmokkel is. Die bes bewaarde Martellus-kaart is in die Britse Biblioteek in Londen, Engeland.

Cantino-kaart: ‘n Italiaanse geheime agent met die naam van Albert Cantino het die Cantino-planisfeer (‘n planisfeer is ‘n draaibare sterrekaart) by ‘n onbekende Portugese kartograaf gekoop. Die geheime agent het die kartograaf met 12 dukate (goue muntstukke waarmee handel gedryf is) omgekoop en so het hy die Portugese se meesterkaart van die wêreld in die hande gekry.

Op die kaart is inligting wat eers ná Dias se vaart bekend geraak het, maar die plekname tot by Rio do Infante dateer uit Dias se tydperk.

  • Inligting oor kaarte verskaf deur Esna Swart, ‘n kartograaf wat in Kaap Agulhas woon

Leave a comment

Information

This entry was posted on May 8, 2020 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .