ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Praag is pragtig

First published in Die Burger, August 2015

Prag en praal in Praag

Aand in Praag 10

‘n Baldadige groen fee wat op jou skouer hurk en jou voorsê. ‘n Kerkhorlosie met twaalf apostels en ‘n stuitige geraamte wat die doodsklok lui. ‘n Begraafplaas waar lyke plek-plek in twaalf lae met verloop van tyd begrawe is. ‘n Knus hotel – onder die oksel van ‘n brug – wat na drie volstruise vernoem is.

Johnny Depp visits Prague

Praag bied nie net geskiedenis (die eerste defenestrasie – om iemand by ‘n venster uit te gooi – het in die 1400’s hier geskied), argitektuur (Goties, barok en Art Nouveau) en wonderskone musiek (woon soveel kerkuitvoerings moontlik by) nie.

Daar's iets magies aan 'n aand in Praag

Praag bied ook die ongewone, die onverwagte wat jou laat swymel en ewige liefde aan hierdie stad, wat reeds in die tiende eeu as vooruitstrewend beskou is, laat verklaar.

All you can eat

Praag is soos ‘n vryersklong op wie jy jou hart laat verloor. En van wie jy nie kan wegbly nie. Die roepstem van Praag laat jou keer op keer terugkeer.

Tiek tok al om die uur

Daar’s iets magies aan die Astronomiese Horlosie – wat Praag versinnebeeld – op Staromestska-plein. Al om die uur staan al wat leef en beef bankvas om te kyk hoe die dissipels kordaat verbymarsjeer en ‘n geraamte ‘n klok lui. Miskien laat dit die innerlike kind in ons almal weer ontwaak.

Aan't wandel oor die hoofbrug

Vanaf hierdie ou stadsplein neem dit ‘n paar minute, al met keisteenstegies langs, voor jy oor Karel(s)brug (Karluv in Tsjeggies) na Mala Strana aan die ander kant wandel. Die brug dateer uit die middel van die veertiende eeu en was vir 400 jaar die enigste brug oor die Vltava-rivier.

Moenie nalaat om die standbeeld met die sterstralekrans te vryf nie aangesien dit – as jy die speelse bygeloof wil uittoets – beteken dat jy na Praag sal terugkeer.

Huis van die Drie Viole

Net mooi waar jy van die brug afstap, kan jy by die Drie Volstruise Hotel ‘n Staropramen-bier of Becherovka-kruielikeur nuttig. Die oorspronklike gebou het aan Jan Fux, ‘n vereverkoper (federschmucker)  en mode-ontwerper, behoort. Volstruisvere – veral vir waaiers en perdetooisels – was in die vroeë 1600’s ‘n gewilde modegier.

Marionette

Hopie-lê in die begraafplaas

Aan die anderkant van die stadsplein lê die ou Joodse woonbuurt, Josefov. Behalwe verskeie sinagoges wat jy kan besoek, is die sprokiesagtige begraafplaas glad nie so grillerig was wat dit klink as jy hoor dat hier 12 000 grafstene, maar 100 000 duisend mense begrawe, is nie.

So lyk dit as jy direk onder die Dansende Gebou staan

Op die rivieroewer pryk ‘n gebou wat lyk asof dit met die vuis in die maag geslaan is. Met ‘n tweede opsommende kyk is jy veronderstel om raak te sien dat hierdie Frank Gehry-ontwerpte gebou in ‘n dansposisie vasgevang is. G’n wonder dit staan ook as die Fred(Astaire)-en-Ginger(Rogers) gebou bekend nie. Ginger is natuurlik die linkergebou – die een met die plankdun middellyfie waarvan haar rok so verleidelik uitklok.

Absint maak jou lus vir meer

Straattoneel in Praag se Ou Stad

Terwyl die lus vir partytjie hou jou nou oorval, is dit tyd om jou eerste absint weg te slaan. Die legendariese Groen Fee kom maak haar nie sommer tuis op jou skouer na jy een absint agter die blad het nie, maar o wee, behoede jou as jy dit oordoen.

die-berugte-groen-fee-wat-jou-laat-praat-na-jy-absint-gedrink-het.jpg

Die Tsjegge trek hul neus op vir toeriste wat suiker brand steek en in hul absintglas laat drup. Die absintkroegies maak dit maklik vir diegene vir wie hierdie eliksir darem net te bitter is: bestel ‘n absint-gegeurde mojito, martini, bier of selfs roomys.

Lees en loer by ‘n museum-duo

Twee museums wat beide ‘n besoek werd is, is die Kafka- en Mucha Museum. Verkieslik nie op dieselfde dag wat jy saam met die groen fee  rinkink nie.

Die Kafka Museum is donker binne-in so asof dit Kafka se gemoed uitbeeld. Met behulp van multi-media en melancholiese musiek word Kafka se lewe, die briewe wat hy deurgaans in sy lewe geskryf het, en sy verhouding met die stad Praag uitgebeeld.

Kafka was van kleins af ‘n regte senuwee-orrel. Hy het ewe melodramaties later in sy lewe vertel hoe verskriklik ver hy skool toe moes loop en hoe die huiskok wat hom vergesel het, hom gedreig het. In werklikheid was die skool en die huis ‘n hanetree van mekaar af; klaarblyklik was hy maar geneig om by tye loutere bog te praat.

Alphonse Mucha (1860-1939) was ‘n Tsjeggiese Art Nouveau-kunstenaar wat bekendheid met sy Sarah Bernhardt-plakkate in Parys verwerf het. Betree Mucha se sprokieswêreld van sneeuklokkies, bloeisels, pastelle, swierige krulletjies en kaalvoetnimfe met haartooisels. By die museumwinkel is Mucha-geïnspireerde syserpe en skryfbehoeftes, Art Nouveau-glas en staanlampe sowel as juweliersware.

‘n Hele pakkaas in Praag

Ek wil ook sien!

In Praag drink jy – soos almal rondom jou – liters en liters bier. As die koue begin byt, verkoop hulle witwors en speserywyn op elke pleintjie waar jy verbyloop.  Luister jazz tot jy so pê is dat jy bed toe moet kruip.

Daag ‘n vriend(in) uit en gaan drink wodka uit ‘n glas van soliede ys by die yskroeg wat ook uit soliede ys gebou is. Klim vóór die tyd die brugtoring om die draai sodat jy oor ‘n groot deel van die stad kan uitkyk.

Eet kluitjies in jou sop en kluitjies vir nagereg. Bestel nog ‘n absint en wees braaf: nooi sommer self die onnutsige groen fee.

As jy nog wil weet:
·        Kyk hoe lyk die Three Ostriches Hotel – www.utripstrosu.cz/en/
·        Verken die Joodse Buurt van Praag – www.pragueexperience.com/places.asp?PlaceID=597
·        So lyk die Dansende Gebou in Praag – www.youtube.com/watch?v=YlSXbapJCzw&noredirect=1
·        Om te absint of nie – www.absinthe-prague.com
·        Lees oor Kafka – www.kafkamuseum.cz/ShowPage.aspx?tabId=-1
·        Lees ook Kafka se boek, Metamorphosis, as jy hom graag beter wil verstaan.
·        Kyk hoe lyk Alphonse Mucha se kuns – www.mucha.cz

Ilse on the top deck at the Dancing Building

Die impak op jou beursie
·        Verblyf is orals in Praag beskikbaar. Probeer om in Ou Praag te bly hoewel dit natuurlik duurder is. Pryse vir ‘n dubbelkamer begín by: Drie Volstruise Hotel R1025; Golden Deer R1180 – meer sentraal gaan jy nie sommer kry nie;  en Hotel Yasmin R1300; op die derde nag kry jy 50% afslag.
·        Toegang by die Kafka Museum is sowat R100; by Mucha Museum R125.
·        ‘n Reuse bier (500 ml) kos sowat R18 as jy ‘n gewilde kroeg besoek. By sypaadjiekafees is dit meer. ‘n Absintdrankie kos vanaf R48 by ‘n absintkroeg.

Leave a comment

Information

This entry was posted on April 30, 2018 by in Europa and tagged .