ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Gaan kampeer verste suid op vasteland

First published in Die Burger, September 2013

Waai, wind, waai. Dis wat baie mense dink as hulle aan L’Agulhas dink. Ja, die wind kan hier pómp, maar dis nie naastenby so gereeld as wat in die volksmond oorvertel word nie.

As jy jou na die suidpunt begeef, is hier drie kampplekke wat jy kan oorweeg. Elkeen se karakter verskil lynreg van mekaar; dus berus die besluit by die kampeerder en sy gesin oor wat vir hulle sal werk aldan nie.

Suid suider suidste

D-Kamp het sy eie rotspoele en baaitjie

L’Agulhas Karavaanpark bestaan uit ‘n lappie immergroen gras wat aan drie kante omring deur spierwit geboutjies is. Dis amper soos om in iemand se tuin te kamp. Iemand wie se grasperk altyd welig groen is en wat met trots sy eiendom bestuur.

Voor jy L’Agulhas Vuurtoring kan sê, het jy reeds tot by die rotsagtige kus gestap. Dis net oor die pad en verby ‘n ry huise wat al van die begindae van L’Agulhas hier is. Op hierdie strook buffelsgras het menige kind in die sewentigerjare trampolien gespring tot hul gô uit was. Destyds is die trampolien seisoenaal deur die munisipaliteit opgerig; eers was dit gratis, later het dit ‘n paar sent gekos.

Die mees suidelike kafee in Afrika is reg oorkant die Agulhas Karavaanpark

Jy moes jou beurt afwag; dan het jy staan en beplan watter toertjie jy met die volgende springslag gaan uithaal. Of na die ‘spookhuis’, die mees suidelike huis in Afrika en die oudste huis in L’Agulhas, geloer en gewonder of jy vannag daarvan gaan droom.

Die ou en die nuwe soutwater-swembaddens van daardie jare is nog steeds hier. Dis eintlik hartseer dat hierdie twee poele nie meer so gereeld benut word nie. Daar’s iets oneindig spesiaals aan branders wat tot by jou in die swembad spoel – dis nou as die gety nie te hoog is om dit gevaarlik te maak nie. Avontuurlustige kinders staan staan agter op die swembadmuur en dis groot pret as die branders jou kamtig afslaan tot binne-in die swembad.

  • L’Agulhas Karavaanpark: Kragpunte beskikbaar. Bespreek by 028 435 6015.

Die beste rotspoele in die land

Net effens meer as ‘n hanetree van L’Agulhas Karavaanpark is ‘n ongerepte kampeerplek, D-Kamp, met soveel siel dat dit moeilik geëwenaar kan word. Op jou voorstoep is rotspoele vol oranje, pienk, rooi en pers see-anemone wat aan dahlias herinner. Soek vir seekatte wat na jou voet gryp as daar ietsie rooi aan jou sandaal is.

DSC_1134

By D-kamp kamp jy in ‘n kom wat jou laat voel asof jy jou eie baaitjie net vir jouself het. Afhangende van waar jy jou tent opslaan, kan jy amper tot in die rotspoele (met laagwater) of in die see (met hoogwater) spoeg. D-Kamp is gewild onder eenmantenters en families wat al vir dekades hierheen kom en wat nog kamp soos wat daar vanmelewe se dae gekamp is. In die sewentigerjare was die voorste kampeerplek aan die regterkant Oom Hannes Fourie, die burgemeester van Napier, se kleim.

In die afgelope jaar of twee is baksteenbraaiplekke wat hoog genoeg is sodat jy daarby kan staan as jy jou tjoppies omdraai, bygevoeg. Die braaiplekke word soms deur dagbesoekers benut.

Die ou Agulhas Hotel – wat nou as Stormsee bekend staan en in privaatbesit woonstelle omskep is – kyk uit oor D-Kamp. Die hotel is in die laat 1930’s opgerig. Die ou soutswembad voor L’Agulhas Karavaan Park was destyds die privaat-swembad van die hotel. Die swembad is eers ná die hotel gebou. Die bouery was getygebonde – met laaggety is aan die swembad gewerk en met hooggety aan een van die huisies direk bokant die swemplek.

In die langgrasveldjie langs D-Kamp het helikopters in 1974 geland toe hulle soveel as wat moontlik was, van die gestrande Oriental Pioneer probeer red het. ‘n Deel van die skip het nog sowat 5 jaar bo die water uitgesteek.

Deesdae is die skeepswrak ‘n mensgemaakte rif waar visskieters vet galjoene (in seisoen) en groot geelsterte skiet.

  • D-Kamp, L’Agulhas: Geen kragpunte. Bespreek by 028 435 6015.

 

Span uit by Struisbaai

Die  Struisbaai Karavaanpark by Struisbaai is die grootste in hierdie omgewing. As jou kinders speelmaats soek of jy het die neiging om van braaivleisvuur na braaivleisvuur te stap, is dit net die plek waar jy in seisoentyd jou penne moet inkap.

‘n  Nog groter bonus is dat daar ‘n wonderlike wit sandstrand net mooi aan die ander kant van jou staanplek is. Ons praat van poeierwit sand wat vir kilometers en kilometers aaneen strek. Struisbaai Karavaanpark lê letterlik aan die begin van ‘n 22 kilometer-lange sandstrand.

Dis veertien kilometer tot by De Mond; en dan nog ‘n verdere tien kilometer – wees gewaarsku dat die hele strand getygebonde stap bied. Kyk uit vir Die Baken wat kruisbranders en gevaarlike gebied aandui. Die oorspronklike baken was van afvalhout van skeepswrakke gemaak.

Die regterkantste deel van die strand is ‘n gewilde plek onder vlieërskieërs. Vanaf die parkeerplek by die vlieërski-strand  – vir die arme drommels wat dalk vir die dag moes deurry of wat vér van die see ‘n kopneerlêplekkie het – kan jy al langs die plankpad langs stap tot by die hawe waar jy die tjakkies kan sien inkom of ‘n draairoomys kan gaan eet.

  • Struisbaai Karavaanpark: Bespreek by 028 435 6820.

Arniston is nie net vir juppies nie

Sowat 40 minute se ry met die kortpad-grondpad deur Prinskraal se werf vanaf die suidpunt is die alombekende en beminde Arniston of Waenhuiskrans. Op hierdie vissersdorpie is ‘n vierde kampeerplek wat oorweeg kan word as jy nie sentimenteel daaroor is om nader aan die mees suidelike punt van Afrika te wees nie. Dis nou nie net ‘n klipgooi weg nie, maar dis weliswaar in dieselfde distrik.

Die vissershawe by Arniston waar al die bote se name vir Maria vertaal moes word

Arniston Karavaanpark kan spog met heelwat skadubome hoewel die park nie ‘n see-uitsig het nie. Die storte is warm en daar is ‘n winkeltjie binne honderd meter vanaf die ingang. Ongelukkig is dit nodig om bedag op stelery te wees.

  • Arniston Karavaanpark: Waarskuwingsluit alles dig toe. Bespreek by 028 445 9620.

Leave a comment

Information

This entry was posted on June 3, 2018 by in Oral(s) in die Overberg and tagged .