ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Darling is ‘n skat van ‘n plek

First published in Die Burger, September 2017

DSC_0293

Darling Ride-Through Wine Sales – net in Darling!

In Darling kan jy ‘n gemmerkat ontmoet terwyl jy ‘n maaltyd geniet – sowel as wyn koop en proe.

 The Marmalade Cat

DSC_1012

Liewe Heksie kom loer in vir ‘n kuier by The Marmalade Cat

Gemmerkatte is redelik skaars; gemmerwyfiekatte nog meer. Winston Churchill, een van die beroemdste wêreldleiers ooit en ‘n groot katliefhebber, was versot op sy gemmerkat, Jock, wat saam met hom vir ete aangesit het.

Dis nie net Churchill wat sy eie gemmerkat gehad het nie; die dorpie Darling aan die Weskus spog ook met sy eie jêmroul-kat, The Marmalade Cat, ‘n dagrestaurant in die hoofstraat.

Dié restaurant se inwonende gemmerkat lyk of sy sproetjies aan die een kant van haar neus het.

By The Marmalade Cat is jou ontbytopsies skons of croissants met konfyt en kaas, soutpannekoek, roereiers met salm of kruie en feta, gevulde omelette of geroosterde toebroodjies wat met aartappelwiggies en slaai voorgesit word.

Op die hoofspyskaart pryk geurige, gesonde disse soos ‘n terrien van avokado, gerookte salm en roomkaas, ‘n quiche met spinasie, spek en feta of aspersie, parmesaankaas en feta, gerookte-hoender-en-veselperske-slaai en viskoekies van snoek, eie aan die Weskus.

As die hongerpyne knaag, is daar lamskerrie of tradisionele bobotie op rys met sambals daarby, watertandlekker pasteie, bieflasagne en varklies gegeur met steranys, lemoen en kaneel.

Vir nagereg – of as jy met teetyd die gemmerkat se ken kom streel as sy in die bui is om dit toe te laat – kan jy kies tussen gebakte kaaskoek, wortelkoek, suurlemoenmeringue, sjokoladebruintjies met roomys, pekanneuttert en roomys met sjokoladesous.

Loer so tussenin na die rakke by The Marmalade Cat waar allerhande kombuiskatoeters te koop is. Wat van ‘n duikboot wat as teeblaardompelaar gebruik word? Of ‘n bakkie waarin jy ysblokkies maak wat soos gediertes onder die see lyk? ‘n Mini-kombuismenger is net die ding vir die slag wat jy vinnig iets aan mekaar moet slaan.

Plaaslike wyne sowel as vlytbier is beskikbaar.

* The Marmalade Cat, Hoofstraat 19, Darling

* Lees meer van Churchill se katte: www.winstonchurchill.org/publications/finest-hour/finest-hour-139/cats-look-down-on-you-churchills-feline-menagerie

* Kyk wat by The Marmalade Cat aangaan: www.marmaladecat.co.za

The Darling Wine Shop

As jy by ‘n geboutjie in die hoofstraat van Darling verbyry en jy merk so skramsweg op dat daar ‘n ry bottels op die vensterbank staan, is dit tyd vir remme aanslaan en ‘n U-draai maak.

Dit kan nét by The Darling Wine Shop wees en die bottels is heel waarskynlik van ‘n wynproe wat Charles Withington, die eienaar, kort vantevore aangebied het.

The Darling Wine Shop is ‘n een-stop wynwinkel wat Darling-wyne – en enkele ander wyne – teen kelderpryse verkoop.

Charles Withington het meer as 40 jaar ondervinding in die Suid-Afrikaanse wynbedryf wat hy onder andere by Rustenberg en Backsberg en deur saam met Neil Joubert te werk, opgedoen het.

Nie net wéét hy hoe om wyne vir The Darling Wine Shop te kies en hoe om ‘n elegante wynproe aan te bied nie, maar Charles Withington het ook sy eie reeks wyne: Withington NBC (Nothing but Chardonnay) Chardonnay, Withington Malbec en Roan Ranger, ‘n versnit van Cinsaut, Grenache en Mourvèdre. Die eerste deel van die naam van laasgenoemde wyn is ‘n speelse verwysing na Rhône wat op die styl van die versnit dui.

DSC_0296

Charles Withington se Voorkamer-brandewyn

Dan is daar ook sy eie Voorkamer Brandy – eers vanielje op die neus en dan die ene Krismispoeding. Verbeel ek my of proe ek ‘n titseltjie donkersjokolade hierby?

Charles Withington is met reg baie trots daarop dat sy Voorkamer Brandy al na Holland uitgevoer is, veral omdat die Europese markte oor die algemeen eerder Franse konjak verkies.

Een van sy gunsteling gesegdes is: “Spoggerige wynprodusente, gerekende wynskrywers en opdringerige wynverkopers kan aan jou die eerste bottel wyn verkoop, maar slegs die (gehalte van die) wyn sal jou die tweede bottel laat koop.”

* The Darling Wine Shop, Hoofstraat 5, Darling

* Lees meer van die wyne en die wynwinkel by: www.withington.co.za

* Bestel wyn of teken in om hul nuusbrief te ontvang: www.darlingwine.co.za

Groote Post

DSC_1050

‘n Pragtige herehuis waar jy by Groote Post kan wynproe

Groote Post is gróót – die plaas strek oor 3000 hektaar, die Pentz-familie is al sowat 100 jaar by boerdery (eers melk, nou wyn) betrokke en daar word ‘n wye reeks wyne geproduseer wat al verskeie toekennings gewen het.

Vanaf Groote Post se hoogste wingerde kan jy Tafelberg sien, maar voor jy by die uitsig kom, ry jy eers op ‘n grondpad (draai af by die Darling Hills-pad vanaf die R307) tot by die plaas net buite Darling. As jou kinders stadsjapies is, sal hulle die grondpad se effense skud geniet asook die hoenders wat op die werf rond pik-pik en die plaasmarkdae wat op Sondae in die somer gehou word.

Groote Post het die 2014 Klink Toekenning in die Wild Card-kategorie – vir die mees ongewone belewenis wat jy op ‘n wynplaas kan ervaar – gewen. Dis nie aldag wat jy op ‘n wildrit eland, koedoe, gemsbok, bontebok, springbok, rooihartebees, swartwildebeeste en kwaggas kan sien nie. Tydens die rit kan jy ook sien hoe suksesvol Groote Post daarin is om hul renosterveld te bewaar.

Dis nie al wat hul entoesiastiese bemarker, Wimpie Borman, wat vir ons die wynproe aanbied, ons oor ‘n glas Riesling Barrique leer nie. Sy passie vir Groote Post is amper tasbaar; ons kry dit net-net reg om nie te begin resepte uitruil toe ons aan die Kapokberg Pinot Noir teug nie.

Ry self na Groote Post om meer van die geskiedenis – die herehuis waar die restaurant Hilda’s Kitchen nou bedryf word, dateer van 1706 – uit te vind, die rustige atmosfeer in te drink en die wyne te proe.

* Groote Post Wynplaas, Darling Hills-pad (op die R307, 10 km buite Darling), Darling

* Alles wat jy wil weet oor Groote Post en hul wyne is by: www.grootepost.com

 

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on September 2, 2019 by in Afrikaans foodies.