ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Bordeaux, ek hou baie van jou

First published in Die Burger, March 2018

Bordeaux - en Saint Emilion - is bekend vir rooi- en witwyne

Bordeaux – en Saint Emilion – is bekend vir rooi- en witwyne

Soetland! Daar is baie soettande in Bordeaux.

As die Franse in Bordeaux nie Sauternes, die dessertwyn van Frankryk wat ‘vloeibare goud’ genoem word, drink nie, eet hulle Canelé bordelaise, ‘n soort vanieljetertjie, of makrolletjies oftewel makarons met die geur van sjokolade, koffie, aarbei, pistasieneut of papawersaad.

So soet soos … Sauternes

Om seker te maak jy drink die ware Jakob kyk na die etiket op jou bottel Sauternes. Sauternes moet met ‘n hoofletter gespel wees en daar is ‘n ‘s’ aan die einde van die woord; dit sê dus nie ‘Sauterne’ nie.

 

In Bordeaux skroom die Franse nie om Sauternes as pasmaat vir ál die geregte tydens ‘n driegangmaaltyd in te span nie.

Chateau Royal de Cazeneuve is net meer as twee uur se ry vanaf die stad Bordeaux en is in die Gironde-distrik geleë.

By Chateau Royal de Cazeneuve word Sauternes saam met 'n salmrolletjie gevul met peperwortelroomkaas bedien

By Chateau Royal de Cazeneuve word Sauternes saam met ‘n salmrolletjie gevul met peperwortelroomkaas bedien

So lyk ‘n tipiese Sauternes-spyskaart by hierdie koninklike kasteel: ‘n voorgereg van gerookte salmrolletjie met vulsel van roomkaas en peperwortelemulsie bedien met Yuzu-vinaigrette, gekarameliseerde oondhoender as hoofgereg wat met ‘n sampioendeeghorinkie en aspersies voorgesit word, en as nagereg perske-melba met geroosterde perskes, praline en vanieljeroom bedruip met sjokolade.

'n Bereplekkie in 'n kelder in Bordeaux, Frankryk

Knus by Chateau Langelus

Saam met die voorgereg is Château de Commarque, Reserve Classique, Sauternes geskink, saam met die hoofgereg Château Filhot, Classified Growth of Sauternes en saam met die nagereg Château La Bouade, Reserve Old Vine, Sauternes. Die eerste was strooigeel, die tweede het gelyk soos heuning en die derde was pure goud.

Ek het êrens gelees dat ‘n onbekende skilder die kleur van ‘n spesifieke Sauternes as “die kleur wat Rembrandt gebruik het, maar waarvan die geheim al verlore is” beskryf het.

Só liries sal ek nou nie raak nie, maar dit was ‘n aangename verrassing om agter te kom dat dessertwyne van hierdie kaliber werklik regdeur ‘n driegangmaaltyd as pasmaat ingespan kon word.

‘n Kolwyntjie met ‘n verskil

Canelé bordelaise is ‘n geriffelde soet kolwyntjie met ‘n vanielje-en-rumgeur. Die kors van die kolwyntjie is gekarameliseer. Dit word Canelé de Bordeaux  genoem as dit deur ‘n bakker van Bordeaux gemaak is.

 

Die eerste Canelé de Bordeaux  is al meer as 300 jaar gelede gemaak. Die resep is veronderstel om ‘n geheim te wees en in ‘n bankkluis bewaar te word. Daar’s selfs ‘n ‘kolwyntjiegilde’ vir die bakkers van Bordeaux.

Canelé bordelaise is ‘n gewilde nagereg en word tradisioneel in die oulikste kopervormpies wat soos vet Romeinse pilaartjies lyk, gebak.

 

In die stad Bordeaux en Saint-Emilion is daar winkeltjies wat nét Canelé verkoop.

Manjifieke makrolletjies

Die oorsprong van makarons (of makrolletjies) lê so ver terug as 1581, word daar geglo.

Vir die troue van Baron Anne de Joyeuse en Marguerite de Lorraine het Katarina de Medici (sy was die koningin van Frankryk van 1547 tot 1559 terwyl sy met Koning Henry II getroud was)  ‘n Italiaanse resep vir ronde amandelkoekies laat gebruik. Hierdie amandelkoekies is later macarone genoem.

Volgens ander bronne is die eerste makarons in 1620 deur nonne van die Orde van Sint Ursula in Saint-Emilion gemaak.

 

In 1930 het Pierre Desfontaines die Parysenaars in sy oupa se patisserie wat hy oorgeneem het, aan makarons bekendgestel. Sy weergawe van makarons was amandelskuimpies met ‘n vulsel van ganache.

Daar’s min dinge so mooi in Bordeaux as ‘n winkelvenster met kleurvolle makarons wat in driehoektorinkies opgestapel is. Gewilde geure is framboos, suurlemoen, kersie en kokosneut. Wys my wie kan dan die versoeking van makarons as straathappies weerstaan?

Daar is selfs makaronwinkels wat dié skuimpies met salm of foie gras geur.

Eendjies, eendjies staan in ‘n ry

So lief as wat die Franse in Bordeaux vir soetgoed is, so lief is hulle vir eend. Ook nie net vir foie gras (ganslewer) nie.

Nee, die winkelrakke wemel van confit d’oie (ingemaakte eendvleis of eendkonfit) en magret de canard (brosgebraaide eendborsie en eendvet gaargemaak) is ‘n gewilde dis by baie restaurante.

'n Restaurantjie in die klipvesting van Blaye

‘n Restaurantjie in die klipvesting van Blaye

Die Franse glo dat eendkonfit die eerste keer by die koninklike bankette van Henry die Vyfde voorgesit is.

Eend-, gans- en varkkonfit in verseëlde potjies is by alle supermarkte beskikbaar en hoef nie verkoel te word nie; dus is dit maklik om huis toe te bring en lank na jou besoek aan Frankryk te geniet.

Die lagie vet van die konfit kan op roosterbrood gesmeer word, by roereiers of omelette gevoeg word of ekstra geur aan ‘n quiche gee. Aartappels wat met eendvet gerooster word, is hemels.

Nog smake en geure van Frankryk

 Jy kan Bordeaux nie besoek sonder dat jy sauce Bordelaise, ‘n sous van rooiwyn, murg, salotte en ‘n verskeidenheid van kruie, geproe het nie.

Sauce Bordelaise word gewoonlik saam met entrecôte (geroosterde biefstuk) bedien. Entrecôte grille is gewild onder wynmakers en –liefhebbers – dis wanneer die biefstuk op wingerdstokkies gaargemaak word.

 

This slideshow requires JavaScript.

Ander tradisionele geregte sluit in uiesop met knoffel, lamproie á la Bordelais  (paling in rooiwyn gekook waarby soms spek en groente gevoeg word) en Bar aux quatre poivres (seebaars met peper en kruie).

Crevettes blanches is wit garnale wat tradisioneel met steranys gegeur word. Dit is heerlik saam met ‘n glas pastis, ‘n anysgegeurde aperitief.

 

Ewe gewild is oesters van Arcachonbaai wat minder as ‘n uur se ry vanaf die stad Bordeaux is.

‘n Vaart vir fynproewers

Frankryk is die land waar borrels die botoon vier

Frankryk is die land waar borrels die botoon vier

As jy min tyd tot jou beskikking het en die beste wil ervaar wat Bordeaux jou kan bied, is ‘n Connoisseur-vaart met Uniworld Boutique River Cruise Collection aanbevole. Op hul spyskaart op die River Royale-boot is disse soos Bayonne-ham (‘n Franse gerookte ham wat oor Beskermde Geografiese Ligging beskik) met rooiuieblatjang of met bokmelkkaasparfait en seldery-en-appel-slaai, gerookte eendborsie met kersie-compote en boontjie-en-okkerneutslaai, eendterrien met spek en pruimedante,  en Crêpes Suzette met Grand Marnier bitterlemoenlikeur, lemoensous en vanieljekoekieroomys.

Bordeaux is sinoniem met wyn

Daar is mense wat Bordeaux die wêreldhoofstad van wyn noem vanweë die uitmuntende wyne wat van hier kom. Bordeaux is bekend vir Cabernet Sauvignon, Merlot, Cabernet Franc, Petit Verdot en Malbec waar dit rooiwyne aangaan (dis ook die vyf kultivars wat in ‘n Bordeaux-versnitwyn gebruik word) en vir Sauvignon Blanc, Semillon en Muscadelle wat witwyne betref.

‘n Wynmuseum soos wat jy nog nooit gesien het nie

La Cité du Vin beteken Die Stad van Wyn en dit is die naam van die wynmuseum in Bordeaux, ‘n stad van wyn as daar al ooit een was. Die museum is op die oewer van die Garonne-rivier, kan al van ver af gesien word en het 63 miljoen pond gekos om op en in te rig.

So lyk La Cite du Vin vanaf die Garonne-rivier

So lyk La Cite du Vin vanaf die Garonne-rivier

Die argitektuur van die gebou beeld die klein maalkolkie uit wat wyn binne-in jou glas maak wanneer jy ‘n klein sirkelbeweging met jou glas maak ten einde die geurelemente van die wyn beter te kan eien.

In La Cité du Vin is twintig interaktiewe uitstallings.  Die gemiddelde tyd wat ‘n besoeker hier spandeer, is twee tot drie uur.

Kaartjies kos tussen 20-25 euro. Dit sluit in ‘n glasie wyn by Le Belvedere op die boonste verdieping in vanwaar jy ‘n 360°-uitsig oor die stad en sy buitewyke het.

www.laciteduvin.com

 

Hoe sê ‘n mens in Frans…

vasteprysspyskaart – le menu á prix fixe

wynlys – la carte des vins

witwyn – le vin blanc

rooiwyn – le vin rouge

bier –  biére

mineraalwater – l’eau minérale

ontbyt – le petit déjeuner

middagete – le déjeuner

aandete – le diner

voorgereg – l’entrée/le hors d’oeuvre

hoofgereg – le plat principal

nagereg – le dessert

dis van die dag – le plat du jour

Leave a comment

Information

This entry was posted on August 1, 2019 by in Afrikaans foodies, Bordeaux, ek hou van jou and tagged .