ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

FLAMBOJANTE FLAMINKE FLIKFLOOI

First published in Die Burger, October 2016

(Since this article has been published some places have closed down or changed ownership)

Gevogeltes met pienk vere

Twee gelukbringer-flaminke by Karizma

Twee gelukbringer-flaminke by Karizma

Langbeen, stywebeen, eenbeen. Flinke vlieërs. Dis hoe flaminke daar uitsien. Sulke eksotiese kreature dat dit partykeer voel asof flaminke nie ons ‘dam se ganse’ kan wees nie.

Neem jou eie flamink aan

Wat van ‘n frillerige pienk flamink in jou voorportaal? Of langs die tuinpaadjie om gaste te verwelkom?

In die suidelike voorstede – waar Paradisestraat en die M3 in Claremont kruis – staan Usher Bunton van Lesotho met armsvol vrolike flaminke wat hy bo sy kop omhoog hou.

Die flaminke is van herwonne plastiek. Sy langnekflaminke is ene frilletjies en plastiekvalletjies. Kies tussen geel of rooi oopbeksnawels.

Behalwe langbeen flaminke verkoop Usher pienk varkies en wit-blou-rooi hoenderhenne.

Flaminkmigrasie van Florida

Met die instap by Karizma in Woodstock vang my oog wulpse flaminke in ‘n blompot op ‘n hangkas. Nee, nee, keer die bestuurder, Toni. Dáárdie twee is nie te koop nie.

Die kitsch flaminke skep atmosfeer by Karizma

Die kitsch flaminke skep atmosfeer by Karizma

Ek brom stilweg sonder om ‘n gesigspier te verrek. Jy gaan ver soek om ‘n flamink (of enige ander voël) te kry wat meer kitsch en koel is. Jy gaan verder soek om iets te kry wat jou huis so opvrolik of dadelik ‘n gespreksitem word.

Karizma is tjok-en-blok vol rottangstoele, Art Deco-vase, staanlampe, waterverfskilderye, vertoonkabinette  en ongewone spieëls. Flamink-koop is dus nie jou enigste opsie nie.

As alles volgens plan verloop, sal Karizma binne die afsienbare toekoms plastiekflaminke in voorraad hê. Al die pad van Miami, Florida af. Flaminkspioene is reeds aangestel om in Amerika op flaminksoekekspedisies te gaan. Verder verklap ek niks. Ek soek die eerste flaminke wat hier aanland.

‘n Pienk flamink op ‘n dak

By The Grand Daddy Hotel in Kaapstad sit jy so wrintiewaar op die dak en fliek. By The Pink Flamingo Dakfliek is daar rondom jou sewe blinkgepoetste Amerikaanse treilerkaravane.

Jy kan selfs in ‘n Air Stream oornag – bespreek vooraf – as die fliek jou in ‘n romantiese stemming geplaas het.

By The Pink Flamingo kan jy ‘n piekniekmandjie met vonkelwyn bestel. Verbeel jouself jy sit knus in jou motor in die inry-fliekteaters van dekades gelede.

As die windjie stoot of die koue knyp, word snoesige kniekombersies verskaf waarin jy jouself – en jou metgesel – toewikkel.

Sing halleluja terwyl flaminke loer

Elegante slanknek flaminke

Elegante slanknek flaminke

Wag, gee ‘n treetjie terug. Jy’t verby Hallelujah (Kloofnekstraat 11, Kaapstad) gestap.

Hier kom jy dim sum eet terwyl honderde koraalkleur flaminke oor jou skouer kyk. In die knus restaurantjie vertoon die muurpapier honderde der honderde spookasempienk flaminke met gebuigde nekke en pikswart snawels.

Heel uit pas hang daar ‘n branderplank tussen die swetterjoel flaminke en ‘n plastiekkreef en –krap is onseremonieel teen die muur vasgeplak. Die spyskaart is klein; die kos geurig; die pas waarteen als verloop, rustig; en die wynlys spog met verskeie Methode Cap Classiques sowel as vonkelwynskemerkelkies om van te kies.

Regtig-egtige flaminke

DSC_0001

By die vuurtoring in Milnerton sien ‘n mens soms flaminke

Deesdae sien ‘n mens al hoe meer rêrige flaminke in die Skiereiland en Overberg waar dit vroeër jare nie so geredelik die geval was nie.

Parkeer by die Milnerton Vuurtoring en stap oor die bruggie om die flaminke van naderby te gaan beskou

Parkeer by die Milnerton Vuurtoring en stap oor die bruggie om die flaminke van naderby te gaan beskou

By Woodbridge-Eiland naby die Milnerton Vuurtoring is daar gereeld flaminke; asook by Rietvlei-dam.

In die Overberg is daar – afhangende van die wind en watervlakke – flaminke op die Agulhas Vlakte, veral op die Struisbaai-Elimpad, asook by Langvlei op die teerpad tussen Bredasdorp en Elim, te sien. By die soutpanne in dieselfde omgewing – op die pad wat na Brandfontein loop – is gereeld flaminke. Verkry ‘n permit by Agulhas Nasionale Park as jy flaminke nie net van die pad af wil besigtig nie.

 
·        Die nuutste voorraad:

www.facebook.com/KarizmaDecorDesign/

Die fliekprogram:

www.granddaddy.co.za/play-and-eat/rooftop-cinema

 

·        Giggel oor Hallelujah se ongewone webtuiste: www.hallelujahhallelujah.co.za

en oor hoe dit voel om Hugh Hefner se troetelflamink, Stella, te wees: www.tatler.com/news/articles/august-2013/pet-of-the-month-hugh-hefners-flamingo-stella

 

·        Sluit aan: www.friendsofrietvlei.co.za, www.westerncapebirding.co.za/flamingo/ en www.sanparks.co.za/parks/agulhas/

 

 

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on May 2, 2019 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .