ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

MAMMA MIA, DIE LEWE IS GOED

First published in Die Burger, February 2014

Om die ware Italiaanse manier van dinge doen (en van kosmaak natuurlik) te beleef, is nie te moeilik as jy by ‘n paar ingeburgerde Italianers begin uitvis nie. Hulle ken die kuns van la dolce vita, die goeie lewe.

 ‘n Vlieërskieër wat kan pizza’s maak

Dis een ding om van Noord-Italië na die Kaap te verhuis omdat die vlieërski hier so goed is; dis ‘n ander ding om jou eie pizzeria oop te maak en dan nie tyd vir vlieërski te hê nie.

 

Giuseppe Donini glimlag van oor tot oor. Dis nog steeds héérlik om in Somerset-Wes te woon en sy eie restaurantjie te bedryf; al kom hy nie op die water uit nie. In die Kaap is die lewe goed. Soms beter as in sy geboorteland, glimlag hy ondeund.

Guiseppe is mal oor Kaapstad

By Giuseppe’s word dunkorspizza’s a la Italia bedien. Sonder tierlantyntjies. Selfs sonder ‘n wynlys. Stap saans by die aangename geroesemoes – ciao ciao eggo die groet – in met ‘n bottel onder die blad.

Saam met jou pizza kry jy Giuseppe se eie chilli-olie om na smaak oor te sprinkel

Attenzione – hier raak dit so besig soos by Rome se treinstasie. As daar ‘n paar van julle aan tafel is, bestel ‘n paar pizza’s om te deel; bestel dan ‘n tweede keer later – dit gee Giuseppe ‘n blaaskansie (il riposo) en meer spasie in die pizza-oond.

Giuseppe’s – aan die agterkant van ‘n winkelsentrum en aan die voorkant van ‘n parkeerarea – is totaal onpretensieus en onopgesmuk. Hier eet jy Italiaanse tuiskos; hier praat die restauranteienaar ietwat geradbraakte Engels; hier moet jy jou fiemies by die huis los en jou oorgee aan die lekkerte van la cucina.

Saam met jou pizza word ‘n bottel chilli-olie op die tafel neergesit sodat jy na hartelus daarvan kan sprinkel om elke happie meer byt te gee. Al is dit al laatmiddag, tower Giuseppe se vrou in ‘n oogwink ‘n affogato sonder gelyke op.

  • Giuseppe’s, Fountain Square, Caledonstraat, Somerset-Wes. Bespreek by 073 395 4884.

 n Gemeenskap van Italianers

Die Italiaanse klub van Kaapstad (Club Italiano di Citta del Capo) is nie heeltemal waar jy verwag om dit aan te tref nie. Waar om af te draai (in Koebergweg, Brooklyn) is so mog het troffe as jy die area nie ken nie; by een van die vele tweedehandse motorhandelaars, maar om te onthou watter een is ‘n ander storie. Ry dan tot onder waar jy net na links (sinistra) of regs (destra) hoef te kyk om te sien waar die groot gronde van die Italiaanse klub presies geleë is.

Italianers is bekend vir hul ongebreidelde entoesiasme oor la dolce vita – oor la famiglia, oor il tavolo con il pranzo, oor die politiek hier of oor die water. Die Italiaanse klub streef daarna om Italiaanse kultuur, Italiaanse kos en sommer net Italiaans wéés, te vier.

Op Sondae met die Italiaanse driegang-buffet vind jy vier generasies wat saamsmul aan antipasti (polenta, tentakelkalamari, prosciutto, formaggi, pepperonata) en secondo piatto (osso buco, spaghetti all‘aglio, cannelloni, schnitzel, braai-aartappels en spinasie).

Skinderstories word uitgeruil; die Italiaanse TV-kanaal word gekritiseer; en orals  word oor en weer gegroet en wang- of lugsoene uitgeruil.

Teen die tyd dat die nageregtafel kreun onder roompoffertjies, sjokmousse, kaaskoek en vrugtetertjies is almal in die saal en ruim restaurant al lui en lomerig. Vingerhoedjies espresso gee die nodige woema vir oopoog huis toe bestuur. ‘n Paar bittereinders sluit altyd die sabbatsdag af met bocce (Italiaanse rolbal) in die gebou langsaan. Die spel word ernstig opgeneem; dog is die kameraderie amper voelbaar.

  • Ristorante Fratelli Palmieri, Donegalstraat 16, Rugby. Skakel 021 511 5956.

Tiramisu beteken tel my op

Tiramisu is so sinoniem met Italië as wat crème brulee met Frankryk (en malvapoeding in die Vrystaat) is. As jy tiramisu vertaal, beteken dit ‘tel my op’. Die eerste paar happies van ‘n tiramisu laat jou reeds voel asof die lewe ‘n lied is – dalk nie ‘n Italiaanse opera-aria nie, maar ‘n lied wat la dolce vita besing.

Terra Mare se tiramisu is onverbeterlik

Om ‘n tiramisu met finesse te maak, sit nie in enige sjef se (Italiaanse snyers)broek nie. By Terra Mare in die Paarl word die ware Jakob (of is dit Giacomo?) na jou tafel gedra. Met spinsuiker, vars aarbeie en ‘n klontjie room. Sommer net om die lewe te vier.

Olivier Jaeggi-Wright, se spyskaart is nie uitsluitlik Italiaans geïnspireer nie.  Se solo(as dit maar net so was), sou sommige dalk sug. Veral omdat die Italiaanse geregte hier uitstaan waar dit smaakervaring aangaan. Nietemin word jy nóóít by Terra Mare teleurgestel nie.

Daar is min kokke wat gnocchi kan maak wat veerlig is, maar wat steeds in jou mond smelt. Terra Mare kry dit keer op keer reg. Risotto val nie in almal se smaak nie – by Terra Mare bestel sekere kliënte dit so gereeld dat Olivier ‘deja vu’ fluister as hy verby die tafel stap.

Terra Mare se antipasti-voorgereg klink nie op die oor af na veel nie; die ekwivalent van gehalte van die bestanddele is seker net in Italië te vind.

Op die spyskaart is daar ook nog (maar nie net) carpaccio, seekos-spaghetti, en vitello tonnato. Olivier probeer die spyskaart gereeld aanpas, maar die gereelde restaurantgangers dring daarop aan dat hul gunstelinge altyd beskikbaar is.

  • Terra Mare, Hoofstraat 90A, Paarl. Bespreek by 021 863 4805.

Koop Italiaans

Giovanni’s in Groenpunt is so deel van Kaapstad as Tafelberg. Of amper. Draf in vir uitstekende koffie; koop ‘n gerf blomme op die sypaadjie; vryf die hond se snoet wat saam met sy baas hier uithang (en vir wie daar ewe gemoedelik deur die personeel water aangedra word).

Enigiets, maar enigiets, waarmee jy wil kook en wat nie geredelik beskikbaar is nie, is hier op ‘n rak, in ‘n flessie of by die toonbank. Escargot-skulpe, diamantsout met sy eie rasper, Italiaanse suiglekkers met wulpse prentjies, truffelolie, prosecco en grappa.

  • Giovanni’s Deli, Hoofstraat 103, Groenpunt. Skakel 021 434 6893.
As jy nog lus is vir die Italiaanse manier van doen:
·        Bespreek ‘n Italiaanse seisoenale ete (8 tot 10-gang) by Giuseppe Massolini aan huis buitekant die Paarl. Bespreek by 084 976 5939 of 021 863 1187.
·        Koop Naked Lemon Limoncello, ‘n verfrissende suurlemoenlikeur van JD by Jorgensen’s Distillery. Kyk na http://www.jd7.co.za/product.php?sku=JDLEMON&product=Naked%20Lemon&num-9 en bestel by dawn@jd7.co.za

 

8 comments on “MAMMA MIA, DIE LEWE IS GOED

  1. Tannie Frannie
    July 31, 2018

    Reblogged this on Tannie Frannie.

  2. Toortsie
    July 31, 2018

    Dit klink na ‘n vreeslike oulike idee om sommer by enige pizzaplek ‘n klompie te bestel en te deel en weer te bestel. 🙂
    Dankie ek het hierdie nou baie geniet.

    • ilsez
      August 1, 2018

      Dankie, Toortsie. Dit werk goed – so ‘n oor en weer bestellery.

  3. Phoebe Van Reenen
    August 1, 2018

    Ons gaan Mamma Mia vanaand kyk. Jy maak my so honger met die stories hee hee xxx

    Sent from Mail for Windows 10

  4. ilsez
    August 1, 2018

    Waar gaan julle kyk? Nie geweet dit wys/speel erens nie.

  5. colonialist
    August 5, 2018

    Mooi.
    Dit laat my dink aan die plek waar ons die beste pizzas op aarde gekry het, maar wat so veel beskadiging gekry het van die stormwinde van ‘n paar jaar gelede dat dit nog toe is en sal nie weer oopgemaak word nie.

    • ilsez
      August 6, 2018

      Nou is ek Baie Nuuskierig waar dit was…

      • colonialist
        August 6, 2018

        Dit was The Chicken Shack hier by Durban se Bluff. Die hoendervleis was goed, maar ironies genoeg was die pizzas al hoe beter!

Leave a comment

Information

This entry was posted on July 30, 2018 by in Afrikaans foodies.