ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Met kaart en transport na Transkei

First published in Beeld, September 2021

‘n Keur van die Wildekus

Dikmond sit ons om die vuur. Dis midde die pandemie. Dit hou te lank aan. Die winter is op pad. Ons het miere wat krioel. Ons is lus vir pad vat.

Dan begin die onthou-jy-nogs. Kaskenades uit ons studentedae, sloertoere strandlangs voor dié woord nog vastrapplek gekry het.

Onthou julle daai middag in die ou Bellevue Hotel in Stilbaai …? Ons het darem lekker gekamp by Hole in the Wall… Skielik swaai die gesprek. Wanneer laas was iemand in Transkei?!

Vandaar is dit korte mette tot ‘kom ons ry!’ Kom ons gaan kyk hoe dit nóú lyk.

Enkele weke later was ons sak en pak op pad.

Toe en nou

Die voormalige Transkei was die eerste en grootste “tuisland” wat in 1976 onder die bewind van die Nasionale Party “onafhanklikheid” verkry het. Vanaf 1994 is Transkei weer deel van die Oos-Kaap, maar ek het so ‘n spesmaas dié deel van ons land het nog altyd sy eie identiteit, kultuur en atmosfeer gehad, ongeag van watter era daar gepraat word.

Nie net is die natuurskoon skouspelagtig nie, maar die landelike atmosfeer van plotjies grond,lappies mielies en beeste wat ongesteurd teen heuwelhange wei, kan in min ander plekke só beleef word.

Toe die langpad voor ons oopmaak, begin die driemanskap in ons viertrekvoertuig (nie alle paaie is maklik begaanbaar nie) al bespiegel wat ons te siene gaan kry. Die hoop beskaam nie dat tonele van ‘n ongeskonde lewenstyl wat in die laat 1980’s vir die eerste keer in ons koppe vasgesteek het, ons nog steeds sal inwag.

Tóé was die Wildekus-strande ongerep, bestaansboerdery was aan die orde van die dag, kindertjies langs die pad het so hard as wat hulle kan “Sweeeets!” geskree soos wat ons verbyry, en plaaslike vroue met komberse om hul middels gevou en mans met langsteelpype in die hand het stilweg geknikgroet.

Ons het skaars van die N2, net na Dutywa (sowat 85 km suid van Mthatha, voorheen bekend as Umtata, die destydse hoofstad van Transkei en sowat 150 kilometer noord-oos van Oos-Londen) in die rigting van Mpame-strand op die Transkei-kus of Wildekus afgedraai, toe ons moet rem aanslaan.

Dis spitsverkeer in die gramadoelas! ‘n Allemintige trop skape kom van voor af aangedrentel. Hulle stap die hele pad vol; hier en daar kyk een ons skeefweg aan, maar die res steur hulle nie aan die “indringers” nie. Daar’s geen ander uitweg as om te stop en solank die padkos nader te trek nie. Net om die prosedure vir ‘n klomp beeste te herhaal.

Dit neem nie lank nie voor ons deur die een golwende groen heuwel na die ander op die pad, op die kaart as Main Road aangedui, tussen Elliotdale en Mpame-strand, omring is.

Kleurvolle hutjies strek so ver as wat die oog kan sien – van onder in die valleie tot op die nokke van die heuwels. Die skakerings dui op ‘n voorliefde vir donker pastelskakerings: mentgroen, roomyspienk en liggeel. Die meeste hutjies het rietdakke, maar daar is ook talle met sinkplaatdakke. Dit lyk nog net soos ‘n paar dekades gelede.

Hier en daar is baksteenhuisies tussen die hutjies gebou; ons sien weliswaar meer sulke huisies as toe ons laas hier was.

Daar is ‘n gevoel van oopheid. ‘n Gevoel van leef-en-laat-leef. Jou buurman is nie te naby, of te ver, van jou nie. Elke gesin kan ongestoord hul eie ding doen, maar sou daar om een of ander rede marakkas wees, kan jou bure jou hoor as jy hard genoeg skree.

Amper elke woning het ‘n stuk bewerkte grond, veral mielielanderytjies, waar ook diere aangehou word. Hoenders skrop lustig, vet varksôe waggel om die huis rond, soms met ‘n string klein varkies wat lyk of hulle op polvytjies rondtrippel, af en toe sien jy ‘n kat in ‘n sonkolletjie lê.

Die Oos-Kapenaars wat ons langs die pad teëkom, groet oorwegend gul, dog gereserveerd.

Soos met ons vorige besoeke – en sekerlik soos dekades voor dit – was die vroue klere in die riviere en drapeer dit oor die rotse om droog te raak.

Ons sukkel om koue bier in die klein spazawinkeltjies op te spoor. Verder lyk dit nog soos altyd: aanmaakkoeldrank, graanvlokkies, kookolie, Lucky Star-visblikkies en 12.5kg-sakke meel is netjies in rye op oop rakke gepak, met ‘n paar komberse en tweeplaatstofies tussenin.

‘n Koei kan moontlik in n boom klim

Met die afdaal na Mpame-kus kronkel Main Road deur die Mpame-woud, ‘n natuurreservaat waar die skadu’s van die vermolmde takke en blaredak jou net langer wil laat vertoef. Mpame-woud is ‘n inheemse kuswoud.

In die inheemse kuswoude van Transkei kom onder andere die volgende bome voor: reuse-omsambeet of bosappelblaar, bosrooi- of basteressenhout, smalblaar- of akkerjakkalsbessie en boskoorsbessie. As jy egter nie vertroud met boomsoorte is nie, kan jy jou net eenvoudig aan die woudatmosfeer oorgee.

Asof op bestelling drentel koeie op Mpame-strand rond, net soos wat ons dit onthou. Kort voor lank sluit drie vaaltyne by hul aan en ‘n rukkie daarna stap ‘n trop skape, met ‘n verdwaalde bok of drie tussenin, ook sandlangs verby.

Die einste driemanskap – een is ‘n voorbarige vulletjie met slap ore – kom gou-gou agter as hulle by die hekkie van ons Mpame-rondawel kom staan, word hulle mieliestronke en brood gevoer. Kom die happies nie vinnig genoeg tevoorskyn nie, ontketen die stadige dienslewering ‘n jammerlike geweeklaag en gebalk.

Dit maak deel van die ritme van die dag uit – soggens en saans kom bedel die donkies, in die middel van die dag kom die trop skape verby en die koeie verwyl regdeur die dag tyd op die strand.

Van die plaaslike mense kom klop aan ons deur om te vra wat ons nodig het wat hulle aan ons kan verskaf en wat vir hul gesinne ‘n ekstra inkomste kan voorsien. Ons smul elke dag aan hul hoog uitgerysde suurdeegbrode terwyl ons oor die see uitkyk.

Agter ons blom die aalwyne vlamoranje op die bult. Ons kan nie glo nie dit het so lank geneem voor ons weer die pad Wildekus toe aangepak het.

Beplan só jou verblyf

Besluit éérs watter tipe verblyf vir jou gaan werk. Kies tussen selfsorg- of hotelverblyf.

Selfsorgverblyf sluit verblyf in wat tradisioneel op rugsakreisigers gemik is, maar wat aan die Wildekus deur van groepe vissermanne tot gesinne met jong kinders, van branderplankryers tot sloertoeriste, bespreek word.

‘n Wenk wat nie agterweë gelaat moet word nie, is dat jou vooraf navorsing nie net na die slaapplek moet kyk nie, maar óók hoe die gemeenskaplike kombuis daar uitsien. Jy móét ook sekermaak dat veiligheid – vir jou mense en jul voertuie – voldoende is.

Selfsorgverblyf sluit ook verblyf in privaatkothuise in. Vra wyd en syd rond vir mense wat gereeld die Wildekus besoek; dié kothuise word nêrens adverteer nie. Sou jy wel so ‘n gelukkie – op die strand – opspoor, sal jy nie weer wil huis toe gaan nie! Loer op www.travelground.com/accommodation-in/transkei/3 en www.wildcoastholiday.co.za/listings/accommodation/wild_coast.

Die Ocean View Hotel (www.oceanview.co.za) in die Koffiebaai-distrik is nie sonder rede al vir dekades gewild nie. In die vroeë 1900’s was hier ‘n algemene handelaar op die perseel; in 1928 is die hotel as trougeskenk aan ene Miss Audrey Venables oorhandig en oor die jare het die Ocean View Hotel as die Coffee Bay Hotel en Lagoon Hotel bekendgestaan.

Ons het nie self by Ocean View Hotel oorgebly nie, maar telkemale vir koffie, ontbyt of middagete – met ‘n seeuitsig – hier aangedoen. Die porsies is ruim en smaaklik; die personeel buig agteroor om goeie diens te lewer.

Pryse by die Ocean View Hotel wissel van R700-R1550 per persoon per nag, afhangende van seisoen, uitsig en of ontbyt en/of aandete ingesluit is.

Hoewel ons nie self daar gebly het nie, het ons orals waar ons gaan nét goeie terugvoer oor Trennerys Hotel (www.trennerys.co.za) naby die Keirivier-monding en Kob Inn (www.kobinn.co.za) by die Qhora-riviermonding gekry en beplan om volgende keer hier aan te doen.

By Trennerys wissel pryse vir bed, ontbyt en aandete van R1015-R1560; daar is ook spesiale aanbiedinge afhangende hoeveel aande jy boek.

Vir die avontuurlustiges

 As jy eers begin oplees oor die Wildekus, praat elke Jan Rap en sy maat van die “verruklike natuurtonele” al langs dié kus van sowat 280 km lank. Om al langs die kus te stap, verkieslik met ‘n betroubare gids met wie die meeste hotelle en gastehuise jou in aanraking kan bring, beloon jou met kranse begroei met aalwyne (die aalwyne blom van Mei tot Augustus), lowergroen kranse en kronkelende voetpaadjies.

Alex Brett, algemene bestuurder van die Ocean View Hotel, reken daar’s twee voetslaanroetes wat jy nie moet misloop nie: van Koffiebaai na Hole in the Wall (www.coffeebay.co.za/location/hole-in-the-wall/hiking/)  sowel as na die Mapuzi-kranse(www.coffeebay.co.za/location/mapuzi/mapuzi/). Beide roetes kan by die Ocean View Hotel sowel as die meeste ander hotelle en gastehuise in die distrik bespreek word; pryse wissel afhangende van seisoen en jou gids.

Hole in the Wall (https://www.sa-venues.com/attractionsec/holeinthewall.php), een van die bekendste dorpies in Transkei, verkry sy naam van die gety-eiland wat met vlakwater bereik kan word. Dié natuurlike rotsboog het ‘n gat so groot soos ‘n seiljag; jy kan vanaf die strand regdeur tot by die oseaan aan die ander kant sien.

Op die Mapuzi-roete stap jy met nou paadjies langs waar boerbokke gewoonlik drentel, sommige dele is woudagtig, jy kan in rotspoele afkoel en die kranse is besaai met grotte.

Vir avontuurlustiges word aanbeveel: die Merrell Transkei Tuff (www.merrell.co.za/events/34), ‘n 150 km avontuurbergfietsresies waartydens jy jouself tussen kontrolepunte moet navigeer wat op 9 Oktober 2021 plaasvind; Imana Wild Ride (www.imanawildride.co.za), ‘n bergfietstoer van die Keiriviermonding na  Umngazi River Bungalows wat oor vier dae strek; Wild Run (www.wildrun.com/experiences/wildcoast), ‘n “hardloopvakansie” van die Keiriviermonding tot by Hole in the Wall en Transkei Trek (www.transkeitrek.co.za), ‘n klawerblaarroete vir bergfietsers vanaf die Ocean View Hotel.

Imana, Wild Run en Transkei Trek vind weer in 2022 plaas.

Ál die vrywilligers én branderplankryers by Vukani Backpackers (www.vukanibackpackers.co.za) raak liries oor die perfekte “point-break” by Mdumbi. As jy gelukkig is en die branders saamspeel, kan jy vir amper ‘n kilometer reg oorkant die riviermonding branderplankry. Dís ‘n vyfsterervaring in enige branderplankryer se boeke.

Dit raak dus nie meer kief vir ‘n branderplankryer as om hier op sy branderplank te klim nie!

Dis wat jy moet weet

Maer honde wat vir kos aas was egter ‘n groot bron van ontsteltenis. Ek kon myself skop dat ek nie daaraan gedink het om sakke hondekos en wurmpille in te pak nie. Daarsonder sal ek nie volgende keer Transkei binnegaan nie.

Die hoofroetes aan die Wildekus, soos die N2, is maklik begaanbaar. Sommige sekondêre paaie waar slaggate en hoë natuurlike spoedhobbels jou lê en inwag, beteken viertrekvoertuie of ten minste ‘n voertuig met goeie grondvryhoogte is wenslik. Beplan dus jou roete na gelang van jou voertuig deeglik.

Om van een kusdorp na ‘n ander te kom, moet jy meestal eers na een van die hoofpaaie terugry aangesien daar nie ‘n aaneenlopende kuspad is nie. Wees bedag op vee wat pens en pootjies in die paaie loop. Moet onder geen omstandighede na donker ry nie.

Op pad terug Kaap is ons met die pont oor die Keirivier (www.keimouth.co.za/activities/the-pont/ ). Dis die moeite werd om hierdie ondervinding by te werk ongeag in watter rigting jy ry. Die rivieroorgang duur net enkele minute, maar dis ‘n interessante belewenis. Die pont is 7 dae per week (tye: 1 Mei – 30 Aug 07:00 – 17:30, 1 Sept – 30 Apr 07:00 – 18:00), 365 dae per jaar oop; dit kos R100 per voertuig.

Leave a comment

Information

This entry was posted on December 9, 2022 by in Die res van Suid-Afrika.