ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Glimlag agter ‘n sluier

First published in Rapport, May 2020

Jedda, Saoedi-Arabie - Digby een van die ou stadshekke staan 'n multiverdiepinggebou wat lyk of dit in mashrabiyas geklee is

Jedda, Saoedi-Arabië – Digby een van die ou stadshekke staan ‘n multiverdiepinggebou wat lyk of dit in mashrabiyas geklee is

 Ek het al ophou tel hoeveel keer ‘n week ek aan ‘n frase van die lirieke in Pink Floyd se liedjie, Wish You Were Here, dink. Dit lui: So, so you think you can tell… A smile from a veil? Do you think you can tell?

 Orals waar ons gaan moet ons deesdae — in grendeltyd — met ons oë agter ons ‘sluiers’ glimlag, want ons monde is agter gesigmaskers versteek. Jou oë moet jou glimlag verklap — by die kafeekassier as jy melk en die koerant koop, in die strate in jou woonbuurt  as jy soggens tussen ses en nege gaan stap en by die supermark as die huisvoorraad vars groente en vrugte aangevul word.

Dis alombekend dat dit die gebruik is onder vroue van veral die Midde-Ooste en sekere dele van Noord-Afrika om ‘n sluier of hijab te dra. Wat minder bekend is, is dat ‘argitektoniese sluiers’ bekend as mashrabiyas of haremvensters reeds sedert die Middeleeue in hierdie dele van die wêreld voorkom.

Jedda, Saoedi-Arabië  - Enkele ou geboue in die Ou Dorp is platgeslaan en oorgebou om soos die oorspronklikes te lyk; dit breek 'n mens se hart

Jedda, Saoedi-Arabië – Enkele ou geboue in die Ou Dorp is platgeslaan en oorgebou om soos die oorspronklikes te lyk; dit breek ‘n mens se hart

Dié haremvensters lyk soos ‘n tipe houtbalkon met filigreinuitsnywerk. Die filigrein verskil van streek tot streek.

Die houtfiligrein het honderde of duisende klein gaatjies; soms is loodglas gebruik om die gaatjies van die balkonfasade te versier. Van agter die houtskerms kon ingeperkte Moslem-vroue — in koelte en skadu —  die alledaagse lewe beskou sonder dat hulle self gesien kon word.

Om hierdie rede is die mashrabiyas juis aan die straatkant van geboue geleë, vanaf die tweede verdieping boontoe, hoewel dié balkonne soms ook in binnehowe aangetref word.

Só het die uitsteekraamvensters as ‘n argitektoniese sluier gedien; wanneer die vroue wel op straat uitgegaan het, het hulle hul gewone materiaalsluiers gedra.

Sommige mashrabiyas het wel vensters gehad wat kon oopskuif.

Die uitsteekraamvensters se verdere funksie was dat dit gesorg het dat die huise tydens die hittige somermaande koeler is. Juis daarom is waterkruike ook op dié balkonne gebêre.

Mashrabiyas was tot die mid-1900’s nog algemeen in die Midde-Ooste en Noord-Afrika in gebruik. Presies wanneer die eerste haremvenster ontstaan het, is onseker. Daar word vermoed dat daar reeds in die twaalfde eeu in Bagdad, Irak haremvensters voorgekom het.

Die woord mashrabiya is ontleen aan ‘n ou Arabiese woord wat ‘plek waar jy drink’ beteken. Die houtbalkonne is so genoem omdat dit ook die plek is waar drinkwater koel gehou is. In Marokko word die haremvensters ook moucharabieh genoem.

Vóór die geskiedkundige waarde van mashrabiyas in ag geneem en terwyl die argitektoniese skoonheid daarvan nog onderskat is, is baie van die haremvensters in die Midde-Ooste gesloop.

Jaag haremvensters na in Jedda

In die vroeë 2000’s in die Ou Dorp van Jedda, Saoedi-Arabië is van die mees gedetailleerde haremvensters afgebreek en nuwes is gebou om soos die oues te lyk. Dit was hartverskeurend om te aanskou.

Gelukkig is ‘n bewaringsprojek in Bagdad in die lewe geroep om haremvensters van honderde jare oud sowel as meer onlangse houtbalkonne wat in die 1920’s en 1930’s deur Art Nouveau- en Art Deco-bewegings geïnspireer is, van sloping te red.

Die Ou Dorp van Jedda, Saoedi-Arabië beslaan omtrent een vierkante kilometer. Die mure wat dit eens omring het, bestaan nie meer nie.

Jedda, Saoedi-Arabië - Ongeag die vervalle geboue behou die mashrabiyas hul misterie

Jedda, Saoedi-Arabië – Ongeag die vervalle geboue behou die mashrabiyas hul misterie

Saoedi-Arabie - 'n Poskaartfoto van haremvensters in Yanbu, Saoedi-Arabie

Saoedi-Arabië – ‘n Poskaartfoto van haremvensters in Yanbu, Saoedi-Arabië

Drie van die stadspoorte is oorgebou; by die Noordelike Stadshek is ‘n paar geboue wat as uitstekende voorbeelde van tradisionele Arabiese argitektuur dien.

Jedda, Saoedi-Arabie - 'n Poskaartfoto van Naseef-huis in die Ou Dorp van Jedda; die linkerkantse boom was destyds die enigste boom in die hele Jedda

Jedda, Saoedi-Arabië – ‘n Poskaartfoto van Naseef-huis in die Ou Dorp van Jedda; die linkerkantse boom was destyds die enigste boom in die hele Jedda

Sou jy ooit die geleentheid kry om Ou Jedda te besoek, kyk uit vir die volgende: Sharbatly-huis (let veral op die mashrabiyas van die derde verdieping), Bait Albalad oftewel die Munisipaliteitsmuseum en Naseef-huis. Tot en met die 1920’s was die groot boom links van die Naseef-voordeur die enigste boom in Jedda!

‘n Houtbalkontoer in Tunisië

Van die mooiste mashrabiyas is in Tunisië.

Tradisioneel word Tunisië se deure, hortjies, vensters en houtbalkonne in skakerings van turkoois en ligblou geverf. Dit steek mooi teen die spierwit geboutjies af; pers, pienk en oranje bougainvillaes voltooi die prentjie.

Sidi Bou Said, ‘n heuweldorpie in Tunisië, spog met haremvensters by amper elke huis. Sommige is weliswaar ‘n venster eerder as ‘n balkon, as jy volgens die grootte oordeel.

Tunisië - Die villa van Rodolphe d'Erlanger het talle mashrabiyas wat vanaf 'n heuwel oor die see uitkyk

Tunisie – Die villa van Rodolphe d’Erlanger het talle mashrabiyas wat vanaf ‘n heuwel oor die see uitkyk

Vanuit die voormalige villa van baron Rodolphe d’Erlanger (1872-1932) kyk die haremvensters oor die strand van Sidi Bou Said en die turkoois see tot by die horison uit.

D’Erlanger het hom in 1912 in Sidi Bou Said gevestig na hy op die dorpie verlief geraak het. Dis dié baron wat die dekreet laat uitvaardig het dat al die houtwerk van Sidi Bou Said in dieselfde skakering van blou geverf moes word.

D’Erlanger se villa is na sy dood in ‘n museum omskep wat die Sentrum vir Arabiese en Mediterreense Musiek insluit.

Sidi Bou Said se mashrabiyas is só fotogenies dat dit op amper elke brosjure en in elke reisartikel oor hierdie Mediterreense dorpie verskyn.

Ook in die Ou Dorp van Tunis, die hoofstad, en in die hawestad Bizerte loop jy blougeverfde houtbalkonne raak.

‘n Moorse mirador in Granada, Spanje

 Die Alhambra-paleis in Granada in die suide van Spanje is ‘n Moorse paleis en fort wat tussen die vroeë 1200’s en middel 1300’s opgerig is.  Tóé is Andalusië (Suid-Spanje) deur Moorse konings of sultans regeer.

Granada, Spanje - By die meeste binnehowe in die Alhambra-paleis is daar 'n boog of twee, drie waaronder jy deurkyk na die res van die tuin of 'n ander deel van die gebou

Granada, Spanje – By die meeste binnehowe in die Alhambra-paleis is daar ‘n boog of twee, drie waaronder jy deurkyk na die res van die tuin of ‘n ander deel van die gebou

Granada, Spanje - Die haremvensters van die Alhambra is uitgekerf en geboog

Granada, Spanje – Die haremvensters van die Alhambra is uitgekerf en geboog

Granada, Spanje - Die uitsig vanaf die Alhambra-paleis wat die sultan se vrou vanuit haar haremvenster kon sien

Granada, Spanje – Die uitsig vanaf die Alhambra-paleis wat die sultan se vrou vanuit haar haremvenster kon sien

Die Alhambra-paleis se hoofharemvenster van die sultan se vrou is die Mirador de Daraxa. Mirador beteken mashrabiya.  Die res van die naam beteken “oë van die sultana (sultansvrou)” wat daarop dui dat sy die wêreld daarbuite van hier af betrag het.

Dié mirador is ‘n volwaardige vertrek wat ‘n deel van die harem beslaan. Dis asemsnak-mooi!

 Moderne mashrabiya-argitektuur

In Kaïro, Egipte het sommige van die hotelle die styl van die ou houtbalkonne by hul ontwerp geïnkorporeer; in Dubai het argitekte die herhalende filigreinpatrone herskep om aan wolkekrabbers ‘n ongewone voorkoms te verleen.

Oud of modern, mashrabiyas gee aan hierdie soort inperking ‘n element van misterie.

Tsjeggiese Republiek - 'n Houtbalkon, in Cesky Krumlov, 'n dorpie in die Tsjeggiese Republiek, wat lyk of dit deur 'n mashrabiya geinspireer is

Tsjeggiese Republiek – ‘n Houtbalkon, in Cesky Krumlov, ‘n dorpie in die Tsjeggiese Republiek, wat lyk of dit deur ‘n mashrabiya geinspireer is

Leave a comment

Information

This entry was posted on August 20, 2020 by in Afrika, Midde-Ooste and tagged .